Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Deborah Steinmair: Fratsgolf

Hoe om skouspelagtig gesig te verloor


Deborah Steinmair - 2010-06-29

Ek wou so graag kompromisloos leef. Ek wou nooit ooit gesig verloor nie. Ek wou soos Clint Eastwood elke dag met bad hair en skreefgeslaapte oë moerig tuur van agter die loop van ’n afgesaagde haelgeweer en verby die kougompie in my mond lakonies prewel: “Go ahead, make my day.” Ek wou soos Greta Garbo sfinksagtig gluur vanuit ’n katgesig, in swaar Skandinawiese aksent en beskuldigende stem sug dat ek uitgelos wil word. Ek wou soos ’n Oosterse diplomaat van ouds ’n gesig so plat en leeg soos ’n porseleinpiering aan die wêreld bied, ’n landskap waarop geen sweempie van ’n gedagte ooit soos die son opkom en stadig sterf nie. My hara kiri-dolk immer gereed in my skede.

Maar ai, ek het baie jonk al my draai verloor. En ek het gevind as ’n mens eers plat op jou gesig beland, sien jy die wêreld heel anders. Dis ’n wyer blik. Dis alles so teenstrydig, maar met lippe op die klippe voel jy opeens nader aan die sterre. As jy eers gesig verloor het, word jy die erfgenaam van ’n wilde, roekelose vryheid – miskien soos Bobby McGee se minnaar beweer het, maar net ’n ander woord vir niks oor om te verloor nie?

Met modder en eier op die gesig word ’n mens nar eerder as keiser, verkry jy die vryheid van die dorpsidioot. Leef jy bo, buite en onderdeur etiket. Is dit toevallig dat ons dieselfde woord gebruik vir sosiaal aanvaarbare gedrag en die naamkaartjies op konfytflesse?

As nar word jy onsigbaar en mag jy onbevange waarneem. Trap jy lig en skoorvoet, selfs met klokkies aan jou opkrulskoene. Sien niemand jou aankom met jou bondeltjie snuisterye oor die skouer nie.

Die groot voorreg van die hofnar is natuurlik vryheid van spraak, om met moord en Tourette-agtige vermetelhede weg te kom. Uit die mond van die suigeling. Botter sal in jou mond nie smelt nie. Die Duitse uitdrukking lui: Van kinders en narre kan jy die waarheid ervaar. Joune word die vryheid om soos ’n kind die vinger in die sweer te steek en terloops op te merk dat die keiser kaal is. Om pretensies te prik soos reklameballonne. Om skitterblink vensters op te wasem en vetterig te vat sodat ’n mens duideliker kan sien.

Luister mooi na die woord “korrek”. Vind jy nie dit klink soos ’n kramp in die gat nie – vinnig, spasmodies en pynlik? Die onkorrektes en ontheemdes is meer ontspanne. Daar is baie strata in die samelewing. Daar is altyd nog ’n plek onder die brug, op die parkbankie, in die werkloosheidsversekeringstou. Die ideaal is natuurlik om die nodige te doen om liggaam en siel aanmekaar te hou, om ongesiens rond te beweeg tussen die staatsamptenare en advertensie-agente. Om undercover te opereer: ’n sigeuner uitgedos in burgerdrag. Oral herken jy geesgenote, roekeloos vrye idiote met niks oor om te verloor nie. Julle knik in die verbygaan op die sypaadjie, giggel op dieselfde onvanpaste oomblik onder die kandidaat se toespraak.

Ek glo nie in proselieteer nie. Moenie adverteer nie, nou-nou kry ons te veel kliënte. Ek predik nie idiootheid nie. Daar is genoeg van ons op die dorp en in elk geval kan ’n mens dit nie fake nie. Ek wou maar vir jou verduidelik waarom ek al my bagasie in ’n deurskynende tas saamkarwei en periodiek my verslete jas ooppluk om my middelmatige lyf triomfantelik te flash. Die oggendson is so ’n onverwagse laafnis op die kaal heup. Niks is miskien nie ’n bloue duit werd nie, maar dis gratis.

As ek jou ’n knippie raad mag aanbied vanuit die fratsgalery: moenie so versigtig trap om die piesangskille te vermy nie. Laat los ’n slag. Compromise, kameraad. Laat jou pose soos ’n jasknoop afskiet. Jy sal sien, skielik word al die stokou waarskuwings wat ’n mens mooi in die ry moes hou, ontlont en verloor hul angel, soos: “Die mense gaan vir jou lag.” “Jy gaan alleen en arm oud word.” “Jy gaan plooie kry as jy jou gesig so trek.” “Ons gaan ons vir jou skaam.”

Verloor gesig en verbreed jou horisonne.