Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Marion laat jou skater


Albert Maritz - 2010-06-29

Volksbladfees, Bloemfontein

Teks:  Chris Vorster en Marion Holm
Regie:  Chris Vorster
Datum:  7 EN 8 JULIE 2010
Tyd:  7 Julie: 15h30 en 19h00; 8 Julie: 10h00
Venue :  Eunice Laerskoolsaal
Prys:  R90
BESPREEK BY:  www.computicket.co.za

Marion Holm is Suid-Afrika se tenoor-weergawe van grootse aktrises soos die bas-reus Antoinette Kellerman.

Ses jaar lank vermaak Marion reeds gehore met haar “Sussie”-stukke. En terwyl die gehore skater, glip sy behendig uit een karakter in ’n ander, uit een situasie na ’n ander – en ryg die een eerlikheid (waarmee ons almal identifiseer) na die ander op strepe in.

Maar een ding kan ’n mens nie ontken nie: wanneer gehore stroom na Met die Holm gebore, ervaar hulle boonop weer die traan met die lag. En op hierdie KKNK word, soos in die verlede, nie sagkens omgegaan met die feite en realiteite nie, en die gehore waardeer dit.

Onder leiding van nog ’n meester, 7de Laan se Ryno Lategan (Chris Vorster) – wat jare gelede al as skrywer verantwoordelik was vir wenners soos Why’t Burp en die Blond-trilogie, en nou vir Adam September en die Nazi skat – neem ’n juweel gestalte aan deur Marion se stories, verweef met Shakespeare se Hamlet op die verhoog – onder ’n uiters gepaste klankbaan en beligting.

Holm is ’n fenomeen op nog ’n vlak: sy is tegelyk stand-up komediant, maar met ’n verskil – sy is teks-perfek. Die gevolg is dat sy en haar teksskrywer/regisseur realisme, sowel as die ooreenkoms tussen realisme en die klassieke, en boonop aktuele sake, op die mees vermaaklike wyse denkbaar aanspreek.

Wie sou ooit kon dink dat “Oh pernicious woman – that one can smile and smile and be a villain” ’n gelag sal ontlok. In Holm en Vorster se hande word Hamlet volksmond.

Moenie Met die Holm gebore misloop nie. En wanneer jy Holm se naam op die billboard sien, staan maar nader. Die aktrise is al ’n legende in wording sedert Marthinus Basson se Titus Andronicus in die tagtigerjare Grahamstad-fees toe was. Die “lag met die traan” is die hoogste gebod in teater. Dit kry jy by Met die Holm gebore.

 

Wat sê die gehoor?

Gerdi van den Berg van Durbanville: “Dit was ongelooflik goed en sy is vlymskerp. ’n Mens kan identifiseer met die daaglikse goed wat sy ervaar.”

Lizinda Roe van die Paarl: “Baie van pas en op hoogte van nuusgebeure.”

Marina Corrie van Oudtshoorn: “Briljant. Uitstekend. Sy leef haar uit.”

Nico Bernhard van Bellville: “Dit is humor met diepte.”

 

  • Hierdie resensie het in die KKNK-feeskoerant, Krit, verskyn