Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Witboy in Afrika: Pionier vertrek na Rwanda, Nigerië


MC Botha - 2010-06-28

Witboy in Afrika
Deon Maas
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624047780
Prys: R153

Klik hier en koop Witboy in Afrika nou by Kalahari!

In die slegte ou dae van sensuur het ons volk se sedebewakers hare gekloof oor die teoretiese verskynsel “gemiddelde leser”. Dié sou glo aanstoot neem, of nie, teen ’n boek wat reg lê om verbied te word.

Gelukkig het dié fiktiewe “gemiddelde leser” intussen uitgesterf. Nou wonder ek of daar vandag dalk so iets soos ’n onskuldige leser is. Diesulkes sal Witboy in Afrika vreeslik geniet.

Waarom?

In die voorwoord al vertel Maas hy hou van avontuur en hy het ’n “brandende begeerte” om die vreemde op ’n “cowboyagtige manier” te verken. Hy gee die versekering dat hy desondanks koelkop kan bly terwyl hy moet onderhandel met ’n soldaat wat “vrot van die kokaïen is” en ’n gelaaide AK47 “onder my neus rondswaai”.

Wanneer die outeur daarna op sy eerste reis vertrek – as Lucky Dube se bestuurder na Rwanda in 1998 – en verklaar “Afrika is ’n moeilike plek om in te reis as jy wit is”, weet jy hier kom ’n ding. Maas maak jou eers sag met inligting oor die volksmoorde in 1959, 1963 en 1974, voordat hy op die Kigali-lughawe land, “in die middel van Afrika ... ek was braaf en dapper en ’n pionier.”

’n Toergids neem die musiekgeselskap na tonele wat met die jongste volksmoord verband hou. Op een plek word seile van ’n hoop mensbeendere afgetrek, waarna kraaie van hul aasplekke tussen die beendere uitgevlieg kom. By ’n ander toneel word duisende skedels op houtrakke uitgestal.

Groter opwinding lê in die hotel voor. ’n Lyfwag wat Maas “Baksteen” doop, bied die outeur eers sy 14-jarige suster as bedmaat aan, daarna sy 12-jarige broer, toe heroïen, maar eers toe die aanbod net dagga is, sê Maas ja. Hy rook ’n vet joint, kry ’n paranoia-aanval en pass uit. Twaalf uur later word hy wakker, betyds vir Dube se konsert.

Die tweede reis is ’n wittebrood na Madagaskar in 1999. Omdat sy vrou Pauli hom sedertdien verlaat het, lees mens die hoofstuk met ’n mate van nostalgie. Hulle het op ’n tropiese eilandjie oos van die hoofeiland gebly, langs ’n sandstrand en die soel Indiese Oseaan, waar jy na hartelus naak in die maanlig kan baai. Etes is voorberei deur ’n Franse sjef: heerlike garnale, kreef en eend. Vir Oujaarsaand – die laaste dag van die 20ste eeu – reis hulle terug na die hoofstad Antananarivo. In ’n eksotiese klub in die middestad dans en fuif die gelukkige paartjie die nuwe millennium in. Tot siens Pauli. Hoop jy maak eendag weer ’n guest appearance.

Die grootste deel van die boek speel af in Nigerië, waar Maas sedert 2004 vyf keer besoek aflê om te help met die vervaardiging van die realiteitstelevisieprogram The Gulder Ultimate Search. Die idee vir die reeks is geskoei op die lees van Survivor en Fear Factor en die eerste program word geskiet in ’n oerwoud genaamd Snake Island, oorkant Lagos. Die eiland het geen krag of lopende water nie en word slegs deur sogenaamde oil bunkerers en ewe gevreesde malariamuskiete bewoon. Tropiese storms tref gereeld, waarna verskeurde tente uit palmbome teruggekry en met gaffer tape gelas moet word.

Een na die ander lid van die TV-span knak, fisies of geestelik, en selfs die tien deelnemers – na wie se welsyn daar deeglik agter die skerms omgesien word – dreig om in hul bootjies, wat hulle skaars kan roei, te vlug na Lagos se beheerbare chaos. Maar gelukkig is Maas byderhand om elke krisis te help oplos.

Die program is uiteindelik ’n reuse-sukses, en namate die reeks vorder en elke jaar op ’n ander plek in die land geskiet word, raak die logistiek makliker. Maas kry selfs tyd om te begin rondspeel met idees vir nuwe Nigeriese realiteitsprogramme. Hy skryf inderdaad op sy beste wanneer hy toevallig daarin slaag om sy ego eenkant te laat en op ander mense te fokus.

In die nawoord kom Maas tot die gevolgtrekking dat hy wel ’n Afrikaan is, iets waaraan hy in die voorwoord nog getwyfel het. Hy sluit af deur sy dank uit te spreek dat mede-Afrikane hom as Afrikaan aanvaar het. “As dieselfde maar net in my eie land kan gebeur.”

Tot sover die onskuldige leser. Een wat egter meer sinies is en nie alles vir soetkoek opeet nie, word weldra geïrriteer deur Maas se onhebbelikhede, sy naïewe soort eerlikheid à la Koos Kombuis. “Ek verpes dit om met ander toeriste uit te hang”; “buiten wilde diere het ek ’n aversie aan oefening”; “kommersiële musiek was nog nooit my ding nie”; “ek het besluit om dinge op die standaard-Deon-manier te doen”; “een probleem van vir jouself werk, is dat jy altyd onder druk is.”

Om nie van aanvegbare stellings te praat nie. Neem die laaste sin van die voorlaaste paragraaf hier bo as voorbeeld. Nouliks ’n stelling wat waar is. Aan die ander kant is dit juis hierdie kwasihardegattigheid van Maas, beter bekend as ’n rubriekskrywer, wat hom elke redakteur se droom maak. Waaroor hy ook al ’n opinie uitspreek – en die aarde lê skynbaar braak voor hom – hy het die vermoë om lesers die harnas in te jaag.

Daar is geen konsekwentheid nie oor die vraag: “Hoe gemaak met die Engels in die teks?” nie. Op bl 36 staan “safe pass” tipografies net so, maar op die volgende bladsy word “band” kursief gedruk; op bl 86 is “universe”, maar op die bladsy langsaan “spot fines”.

Dan is daar ook telkens woorde soos “uit-freak”, “ge-bust” (albei bl 80) wat volgens die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls (bl 552) sonder die koppelteken geskryf moet word. Maas is nouliks die klas dude wat hom aan sulke reëls sal steur, maar ek wys hierop ter wille van onder meer Andriette Stofberg en Faan Pistor wat voor in die boek as taalversorgers krediet kry.

Verder: “tot” en “sopie” wissel mekaar deurgaans af, asof die skrywer nie weet wat hy regtig wil drink nie. Ek skat om dronk te word, is wat eerstens tel.

Soos Witboy sluit ek af met ’n leeslys.

  1. The Last Resort deur Douglas Rogers (Harmony, 2009). Ware verhaal van ’n ou Zimbabwiese boer en sy vrou wat dagga kweek en ’n bordeel bestuur om Mugabe te systap.
  2. You Must Set Forth at Dawn deur Wole Soyinka (Random House, 2007). Sy jongste memoires oor Nigerië.