Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Adriaan Louw gesels met Lizz Meiring oor haar werk, die sokker en Die beste van Bizzie Lizzie


Adriaan Louw - 2010-06-25

Terwyl die hele land op hulle vuvuzelas blaas, het Adriaan Louw met Lizz Meiring gaan gesels oor haar werk, die sokker en Die beste van Bizzie Lizzie.

 

Lizz, jy word beskryf as Suid-Afrika se veelsydigste vermaaklikheidskunstenaar. Van al jou bedrywighede, waar lê jou hart se punt?

In enigiets wat my kreatiwiteit laat groei, dit toets. Elke projek bring ander uitdagings, vra nuwe vaardighede. Natuurlik is en bly ek eerstens ’n aktrise, maar na 80 teks- en regie-projekte, tien boeke en vier reekse se aanbieding, plus hordes rubrieke en kunste-artikels en -onderhoude moet ek seker ook toegee ek’s ’n kunstebedrywer – ’n teatermaker, ’n kreatiwiteitsjunkie.

Jy werk soms aan nie minder nie as ses projekte op een slag. Hoe maak mens tyd vir jouself en die mense om jou?

Dis moeilik. Ek het wonderlike vriende wat onvoorwaardelik verstaan. Ek steel tyd van myself (ek weet dit klink pateties) om te lees wat ek graag wil, te reis, na kunsuitstallings en teater toe te gaan, te gaan shop, my vriende te sien. Iemand –een of ander pop psychologist – het eenmaal gesê mens moet jou eie “life manager” wees, en jy moet goed dink of jy jouself as “life manager” sal afdank, aanhou of verhoging gee. My “life manager” is summier afgedank wat oorwerk betref.

Is daar darem tussen al hierdie bedrywighede tyd vir vakansie?

Die groot Britse teatergees Noël Coward het gesê “Work is more fun than fun.” Elke keer as ’n nuwe projek my inspireer, is my kop op ’n fantasiereis wat beter is as enige vakansie. Ja, ek kan darem so twee dae uithou om nie te werk nie, maar ek doen nooit níks nie. Hoe doen mens níks? Ek reis graag. In my werk is dit wel ’n vereiste – “some people are tour de forces and others are forced to tour” – maar selfs as ek kan kies, doen ek dit, veral buiteland toe – het totaal nuwe invloede en stimulasie nodig vir my siel – en ... my werk!

Baie mense sien die vermaaklikheidsbedryf as ’n ontspanningsmedium. Is dit vir jou meer?

Natuurlik! Dis my suurstof, my grootste liefde, my brood en botter en my sielskos. Maar as ek my werk goed doen, moet dit nie vir kykers, lesers, gehore lyk soos harde werk nie. Daarom is ek bly as hul dit sien as ontspanning. ’n Goeie teks, spel, artikel, rubriek, storie, drama, regie, aanbieding moet soos ’n perfek-gemaakte kledingstuk wees: jy moenie die some en nate daarvan sien nie. Die nagevolg is dat as jy die werk en tegniek “maklik” laat lyk, dink enigiemand hulle kan dit doen. Vandaar die hordes e-posse van onopgeleide mense wat tog net op YV wil wees, CD’s en movies wil maak, shows wil doen – want dit lyk dan so “maklik”. Die TV-programme wat mense kitsroem belowe, en die sepies wat enigiemand wat ’n skoonheidskompetisie of ’n boks seepoeier wen, as “sterre” bekendstel – help natuurlik ook nie om hierdie konsep te weerspreek nie!

Wat doen jy om te ontspan?

Huh? Ontspan?! Ek’s ’n adrenalien-junkie! Net nie die by-brûe-afspring of bergklim-met-my-naels-krampagtig-aan-rotse-vasgeklou soort nie. As ek regtig moeg is, vat ek ’n power nap, gaan lê in die bad, kuier met my pelle, lees, streel my kat, kyk ’n fliek.

Jou kennis van die visuele kunste het ook daartoe gelei dat jy daarby betrokke is. Waar kom dié liefde vandaan?

Uit my ouerhuis. Ek’s van kleins af blootgestel aan die kunste in alle vorme – visuele kuns, letterkunde, antieke geskiedenis, argeologie, mitologie, kreatiwiteit. As my ouers oorsee is vir kongresse of vakansies, is ons dikwels saam. En na elke museum, kunsgalery, historiese plek, argeologiese opgrawing, argitektoniese wonder, teaterstuk saamgesleep. Ek sal hul nooit genoeg kan dankie sê daarvoor nie. My ouers se huis is vol skilderye en beeldhouwerke, boeke, musiek – omdat dit nog altyd hul belangstelling is. Ek is gereeld teater toe en na kunsuitstallings toe geneem. Niks het my nog ooit so tuis laat voel as om tussen kreatiewe mense en op plekke waar kreatiwiteit bedryf word, te wees nie. Ek staan nog steeds stom oor hoe ongelooflik talentvol mense kan wees – hoe hulle klein volledighede kan skep uit niks nie. Op agtjarige ouderdom het ek Michelangelo se Pietà gesien, lank voor daar glas om was. Dit was twaalfuur die middag en die sagte Europese son het op die marmervoue ingestroom. Dit was vir my soos ’n religieuse ervaring – ek het my verwonder aan die genialiteit om klip so te kan omskep in iets so magies, so groots dat dit my tot in my siel raak ... mý raak. Daardie tipe talent is bomenslik. Dit kom van ’n baie groter plek as die mens self. So kan ek honderde voorbeelde van sulke ervarings noem.

Met soveel toekennings agter jou naam, hoe stel mens nuwe doelwitte vir jouself en jou werk?

Toekennings word natuurlik gewaardeer, maar dis momenteel en subjektief. Dit lyk goed op ’n CV en laat jou gereken voel. Maar my doelwitte is en bly om my eie en gehore, lesers, kykers se grense te verskuif – waar dit binne my beheer is om dit te doen, natuurlik. Ek haat dit as sogenaamde “teikenmarkte” geïdentifiseer word; ek verpes resepmatigheid en as die publiek onderskat word. Ek hou nie van clichés en voorspelbaarheid nie; ek hou van oorspronklikheid – en ek bly glo niemand is immuun teen ’n goeie storie nie. Of jy nou lag of huil, of dink, kwaad word daaroor. Of dit bloot net nie jou smaak is nie. Solank dit jou iéts laat voel. Jou laat vrae vra oor jou eie menslikheid, iewers in jou resoneer.

As mense nie my goeie werk raaksien en vereer nie, so be it. As my minder uitdagende werk die erkenning kry, so be it. Die kunste en vermaak bly subjektief.

In die hedendaagse vermaaklikheidsbedryf, waar begin aspirantkunstenaars om ’n bestaan te maak?

Ek het onlangs oudisies gedoen vir ’n nuwe regieprojek. Honderde opgeleide jong en ouer spelers moes bewend kom wys waartoe hul in staat is. My hart wou breek. En terselfdertyd was ek so geïnspireer. Die talent is ons land is verbysterend. Die vaardigheid ook. Ek is woedend dat opgeleide, gegradueerde, hoogs talentvolle en professionele mense nie die basiese kans gegun word om hul beroep te bedryf nie. En dit terwyl sekere sogenaamde sportsterre verhef word tot oorbetaalde, bedorwe gode net omdat hul ’n bal kan jaag! Ek is woedend dat veral TV- en musiekvervaardigers straatbrakke werk gee, en nie diegene wat dit wel kan doen nie.
Die rede hiervoor is eenvoudig: ongeskooldes kan minder betaal word en die vervaardiger se ego word gestreel as hy of sy “nuwe sterre” kan ontdek uit die spreekwoordelike “ashoop”. Dis natuurlik ook ’n goeie bemarkingsfoefie.

Ek staan bankvas agter, en baklei vir, dié wat die alfabet het en reeds bewys het dat hul toegewyd genoeg is om die lang pad te loop en die kennis op te doen. Dikwels verstaan die talentvolle mense se ouers en families ook nie hoe hard hierdie bedryf kan wees nie, en het hul min respek vir hul familielid se gekose beroep. Jannie of Sannie word gereeld uitgevreet oor hulle “konsert speel’ – maar laat dieselfde spruit nou net op ’n gewilde TV-program verskyn, of ’n prys wen, dan loop dieselfde kritici breëbors rond.

Ek glo as jy uithou en aanhou, sal jy bo uitkom. En ek beywer my om konstant raad en hulp te gee aan hierdie talentvolle, opgeleide mense – veral om hulle te leer om hul eie werk te skep, hoe om die bedryf te bedryf sonder om hul integriteit prys te gee. Vir dié wat wil en bereid is om self moue op te rol, staan my deur altyd oop; vir die luies wat liewers in koffiewinkels sit en kla oor niemand hul talent raaksien nie, of net wil “famous” wees, gee ek net een kans, dan’s dit tickets!

Hoe ver beplan jy vooruit?

Ek beplan en beplan, maar “life happens while you’re making other plans.” Projekte word vorentoe geskuif, gekanselleer of uitgestel. Nuwe goed duik gereeld op. Soms voel dit asof ek konstant besig is met krisisbestuur. Maar nouja, ek floreer op adrenalien. Eintlik is ek geweldig georganiseerd in my werk, sover ek dit kan beheer, en ek’s heeltemal te neuroties (of professioneel) om nie volledig en deurgrondelik voor te berei vir enige optrede nie. Selfs al MC ek ’n funksie, of open ’n kunsuitstalling, kom ek daar aan met pakke en pakke navorsing, ekstra info en sêgoed, sodat ek kan weet waaroor ek met wie praat, hoe om name korrek uit te spreek, wie’s wie, wat die korporatiewe kultuur is, of waaroor die betrokke funksie, liefdadigheidsorganisasie of kunstenaar se werk gaan.

Voel jy dat ons vermaaklikheidsbedryf oorvol raak?

Nie met opgeleide, goeie talent nie; met ambisieuse, talentlose amateurs wel. Maar hulle verdwyn net so gou soos hulle verskyn het. Geen gesonde, ontwikkelde beskawing kan ooit genoeg goeie kunstenaars of ander oorspronklike denkers hê nie. Hulle is die spieël van ’n samelewing – die waarpraters, profete, probleemoplossers, inspireerders, visionêres en leermeesters. Kyk maar in die geskiedenis. Da Vinci het alles van vliegtuie, spoeltoilette, valskerms en tenks tot fietse ontwerp.

Watter raad het jy vir die honderde studente wat elke jaar drama gaan studeer met die hoop om ’n naam in die bedryf te maak?

Skep jou eie werk, leer elke aspek van die bedryf ken, verstaan hoe om die media te hanteer, besef jy’s net ’n kanaal om ’n storie te vertel. Leer hoe om ’n storie te kan vertel – hetsy as speler, skrywer, regisseur, ontwerper. Hou op worry oor ’n sogenaamde “image” en roem. Blywende bekendheid is ’n neweproduk van vermoë. Respekteer jou beroep en jou gehore, dan sal hulle jou respekteer.

Met soveel produksies en projekte agter jou naam, wat staan vir jou uit?

Die enkele momente waar jy voel jy kan vlieg – daai minuut of sekondes wat jy net weet: hierdie is goeie werk, die magic is hier, en niks of niemand kan dit keer of besoedel nie. Dis nie net noodwendig jou eie werk nie- jy sien dit in ’n medespeler raak, by ’n regisseur, skrywer of skilder, by ’n beligtings- of stelontwerper, ’n goeie klanktegnikus, kameraman, redigeerder of fotograaf.

Wat vang jy tydens die sokkervieringe aan?

Probeer op my tong byt om nie vir mense te vertel hoe intens ek die onoorspronklike, domastrante, sinnelose groepsmentaliteit van hierdie sportsoort haat nie. Wie stel in elk geval belang in my bitterbek opinie? Maar dit gaan my nie nou verhoed om eers bietjie gal te braak nie. Ek gaan probeer my bek hou oor hoe aaklig almal lyk in daai geel hempies – ligte velle lyk soos geelsuglyers en donker velle soos Maja die by. Die geel gedrogte is sonder enige styl – beslis ontwerp deur anargiste wat swak smaak wil bevorder en so die nasie wil afbreek. (Nou’s ek goed “on ’n roll”, nè? Klink soos wyle ET.) Ek gaan my bes doen om nie vir hulle te sê waar hulle hul vuvuzelas moet indruk nie. En ek gaan probeer glo dat hierdie waansin nie ons land bankrot gaan maak nie, dat misdaad nie gaan floreer nie. En ek gaan maar weer aan die ware behoeftiges by liefdadigheidsorganisasies saam met wie ek werk, probeer verduidelik hoekom hulle honger en haweloos moet wees terwyl ons regering met hul groot boude op peperduur sitplekke in miljarde rande se stadions sit en oorvloedige onthale bywoon.

Maar bowenal gaan ek aanhou skep, sodat my siel en intellek nie ook besoedel word deur hierdie snert nie.

Jippie! Ek kon my sê sê!

Hoe gaan jy te werke met die skryf van jou Bizzie Lizzie-rubrieke om dit byderwets en interessant te hou, en wat kan lesers verwag? Jy het buitendien ook ’n groot aantal manlike ondersteuners!

Manlike lesers kom gereeld na my toe en vertel hulle koop rooi rose om my rubriek te lees. Ek skat my satire en sardoniese humor, asook my aweregse denkwyse, werk vir hulle.

Nie al die rubrieke is humor nie – daar’s ’n hele paar "mooi”, hartseer stories ook. Van my uitsprake is kontroversieel en het al vies reaksie uitgelok – ek bevraagteken die clichés, spot soms rondborstig met die aanvaarde sosiale gedrag, rituele en norme.

Dan’s daar keer op keer ander lesers wat ewe vies terugskryf en sê hulle waardeer die verbeeldingrykheid en oorspronklikheid.

Daar’s natuurlik ’n reuse-groep vrouelesers, tieners, studente, jong volwassenes wat gereeld terugvoer gee.

Afrikaans-onderwysers gebruik die rubrieke in klaswerk. Ek’s al selfs eindeksamenvraestelle aangestuur waar my rubrieke as begripstoetse, kreatiewe debatafdelings gebruik word.

Dramaskole gebruik die rubrieke as gedramatiseerde prosa, verwerk dit selfs in monoloë en vertellings. My agtergrond is immers om merendeels dramas te skryf.

Die beste van Bizzie Lizzie
Lizz Meiring
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780795800160
Prys: R160

Klik hier en koop Die beste van Bizzie Lizzie nou by Kalahari.net!