Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Die Onbekendes laat jou hartklop versnel


Stephanie Nieuwoudt - 2010-06-25

Die Onbekendes
Francois Bloemhof
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799345230
Prys: R154.95

Klik hier en koop Die Onbekendes nou by Kalahari.net!

 

Francois Bloemhof ken die kuns om spanning te skep. As jy die regte toerusting het, sal jy waarskynlik met die lees van sy rillers agterkom jou hartklop versnel en dat jy ampertjies vergeet om asem te haal. En die lekkerste is dat jy in gemaklike Afrikaans op ’n vinnige leesrit geneem word.

Bloemhof se jongste riller, Die onbekendes, bevat momente wat jou bang maak. In die boek is die mees vreesaanjaende toneel dalk wanneer Louise Groenewald in ’n donker hysbak wonder of die kind by haar werklik haar seun, Simon, is. Die skrywer weet hoe om die regte knoppies te druk om die leser op die punt van haar stoel te hou. Hy wéét die meeste lesers het al een of ander riller gesien waar ’n boosaard die plek van ’n geliefde man of kind inneem. Of waar ’n bose gees van die geliefde besit neem. En wanneer Bloemhof die ma laat twyfel, boesem dit vrees by die leser in. (Maar net om heeltemal eerlik te wees, moet ek ook hier bieg, ek skrik baie maklik.)

Kortliks gaan die boek oor ’n vrou wat op ’n dag besef die wêreld is ’n heel ander plek as die een wat sy die vorige dag geken het. “Skielik op ’n dag is alles anders. Waarskuwings dui daarop dat die wêreld nie meer ons woning is nie en mense begin dinge doen wat hulle nooit voorheen gedoen het nie,” lui die prikkelteks op die agterplat.

Dis inderdaad ’n vreemde wêreld vol vrees wat Bloemhof hier konstrueer. Een waarin kollegas mekaar sommer so by hul lessenaars vermoor en waar kleuters ander kleuters geweld aandoen. En boonop het Louise twee geheime. Sy het ’n minnaar, Eon, van wie haar man nie weet nie. Die kind op wie haar man so trots is, is nie sy kind nie. Wat gaan hy doen as die waarheid uitlek? Hy is juis so vreemd – die man wat nooit siek word nie, het vroeg huis toe gekom weens ’n hoofpyn.

En dan is daar haar minnaar se geheime lewe – een van kuberflirtasies wat nie net tot die kuberruim beperk word nie. Hiervan weet Louise ook niks. Maar dan loop een van sy ontmoetings lelik skeef en sy lewe verander in ’n oogwink.

Daar is ’n paar dinge wat pla. Sal mense in ’n kantoor kort na ’n moord op ’n kollega weer met hul werk voortgaan soos wat Louise doen en boonop haar kind saamneem? Sjoe, selfs geharde joernaliste sal effe terugdeins voor so ’n drama.

Maar dalk moet ’n mens nie na ooglopende antwoorde soek nie. Want die verhaal huiwer iewers tussen die werklikheid en ’n nagmerrie. Dis ’n tussenwêreld waar dinge eenvoudig net nie sin maak nie.

En dalk moet die leser iewers in die sielkunde gaan soek na ’n antwoord vir waarom Louise, met haar geheime, se voorstedelike wêreld besig is om so uit te rafel.