Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Koue kos is comfort food – Marita van der Vyver se jongste roman


Nikki Lordan - 2010-06-25

Dis koue kos, skat
Marita van der Vyver
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624048855
Prys: R157.25

Klik hier en koop Dis koue kos, skat nou by Kalahari.net!

Met die eerste oogopslag bekyk ek Marita van der Vyver se jongste roman krities; ek blaai met ’n frons vinnig deur die hoofstukke; dit word geweeg en ewe roekeloos te lig bevind. Tog, ná ’n regverdige lees vind Dis koue kos, skat ewe gemaklik sy plek op my boekrak, asook binne haar oeuvre.

Marita van der Vyver het haar talent as kinderboek-, jeug- en hygverhaalskrywer deur en deur bewys. Sy hou veral by een tipe karakter in haar oeuvre en hierdie roman is geen uitsondering nie. Daar is selfs een bekende, baie geliefde karakter wat in haar jongste roman terugkeer.

Die skelpienk omslag skree chic-lit, maar soos meestal die geval met Van der Vyver, lê die geheim daarin om die verskillende lae te onthul ... en om te onthou sy skryf om gelees te word. Hierdie roman, sien ek onlangs, is nommer een op Exclusive Books se topverkoper-lys.

Dis koue kos, skat bestaan slegs uit briewe en lui ook die pad vir 'n nuwe genre in die Afrikaanse literatuur in.

Nadat haar man haar los vir een van haar vriendinne, skryf die hoofkarakter, Clara Brand, briewe aan haar eksman, haar seuns, die flerrie (en eertydse vriendin) wat deels verantwoordelik is vir die verbrokkeling van haar huwelik, haar suster, haar vriendinne, en soms (in verpletterde dronkenskap) aan haarself. Hierdie briewe is oop, eerlik en snááks.

Clara, 'n kosskrywer, se vriendinne is haar steunpilaar tydens 'n tydperk van tien jaar waarin sy verneuk word, skei, trek en haar kinders sien groot word. Die skrywer Marita van der Vyver stel haarself hierdie keer as karakter in die boek voor. “Ek wil vir haar skryf daai doos van 'n dief wat my man gesteel het ek wil haar op een of ander manier bykom,” skryf Clara aan haar vriendin Marita van der Vyver. Sy skryf ook aan haar vriendin Griet Swart: “Ek onthou jy’t op 'n keer vertel hoe jy jou ’toekomstige gewese man’ se huis dopgehou het terwyl julle besig was om te skei ...” Van der Vyver tree dus intertekstueel met een van die belangrikste romans in haar oeuvre in (Griet skryf 'n sprokie), maar sy tree ook uit haarself as skrywer en word as’t ware 'n volledige karakter in die roman. Dit versterk die element van waarheid wat die leser laat met die vraag: Hoeveel van hierdie gebeure het werklik gebeur? Is dit dus goeie fiksie of goeie verbloeming?

Nog steunpilare vir Clara is kook, operamusiek en die klassieke films wat sy en haar eksman gereeld saam gekyk het. “5 interessante konfyte wat verdrietige vroue kan kook” help haar om weer te hoop. Sy noem aan haar eksman, Bernard, “5 films met voorbeeldige moeders” om hom te herinner aan die “helse verantwoordelikheid, die gesukkel” om almal gelukkig te hou.

Alhoewel Clara verwys na antwoorde op haar briewe, word dié nooit gepubliseer nie. Die eerstepersoonsvertelstyl gee dus volle mag aan Clara oor die beeld wat die leser omtrent ander karakters vorm. Alhoewel een stem by tye eentonig kan raak, beweeg die leser tog ook deur middel van Van der Vyver se gemaklike styl mettertyd binne Clara se kop.

Soms irriteer Clara se aanhoudende, selfbejammerende geween oor whisky, sigarette en operamusiek; ander kere is die leser weer aan die giggel vir humoristiese woordspelings – algemeen bekend in 'n Van der Vyver-roman. Te veel clichés is ongelukkig aan die orde van die dag: benewens 'n voorspelbare storielyn, val haar skryfstyl ook gereeld in die spreekwoordelike slaggate van “emosionele skerwe”, “blosende wange” en “'n hemelse uitdrukking”.

Ten spyte hiervan val hierdie leser pens en pootjies in die storie van Clara Brand van Brandstraat in. Uiters lekker saam met 'n glas wyn en 'n kaggelvuur.