Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

Maak 16 Junie relevant vir alle jongmense


Michael le Cordeur - 2010-06-25

Michael le Cordeur was op 16 Junie 1976 in matriek en dink terug aan wat daardie dag gebeur het en hoe dit die landskap van die Suid-Afrikaanse geskiedenis onherroeplik sou verander.

Ek wil onder geen omstandighede voorgee dat hierdie slegs my verhaal is nie. My storie is hoogstens ’n metafoor vir duisende ander wat, soos ek, dieselfde gebeure beleef het. Dit is ’n poging om erkenning te gee aan almal wat help skryf het aan die storie van die nuwe Suid-Afrika, maar wie se name in geen geskiedenisboek opgeteken sal word nie.

Ek onthou dit soos gister: daardie grou wintersdag, 16 Junie 1976. Ek was net 16 jaar oud en in matriek. Ons was in die middel van die Junie-matriekeksamen en sou Biologie skryf. Onweerswolke het al ’n paar dae tevore begin saampak, letterlik en figuurlik. Daar was praatjies dat ons liefs nie vir die eksamen moes opdaag nie; dat iets verskrikliks gaan gebeur. Saans was dit onheilspellend stil. Nie ’n enkele leerder was in sig nie. Hulle was óf besig met geheime vergaderings, óf om skelmpies te leer, óf om êrens vir die polisie weg te kruip. Polisie het snags die strate gepatrolleer, en wee jou as jy ná donker op straat was: jy sou na alle waarskynlikheid ’n nag in ’n sel deurbring, terwyl jou ouers rasend van bekommernis was. Dit was ’n stryd om die nagte om te kry. Almal het geworry oor die eksamen; baie het gewonder wanneer die polisie aan hulle deur gaan kom klop. Ek het probeer leer. Maar jou kop was op ’n ander plek.

Daardie dag het die skoolhoof van Bergrivier, mnr WJ Arendse (of Strom soos ons hom liefderyk gedoop het, na aanleiding van die vulkaan Stromboli wat so onverwags kon uitbars), besluit die eksamen sou die oggend met die intrapslag afgelê word. So asof hy geweet het wat sou kom. Ek, Brônie en Mirror, Jose, Anne-Marie en Bridgette, Marius en Martin, Davy, Peter en Voëltjie, Leande, Donie, Hilton, Roy, Anthony, Stephen, Chico en nog ander is die klas binne. ’n Paar ander was afwesig. Ek het senuweeagtig rondgekyk vir wanneer hulle inkom. Hulle het nooit opgedaag nie.

Ons het begin skryf. Jy kon die spanning met ’n mes sny.

Meteens is die onheilspellende stilte versteur. ’n Helse slag het afgegaan. Gille en angsuitroepe het gevolg. Die warboel wat gevolg het, is effens vaag. Kinders en onderwysers het by die klasse uitgestorm. Buite is ons in ons vier spore tot stilstand geskok toe ’n vlammesee ons begroet het. Niemand het geweet wat aangaan nie. Instinktief het ons na die hoof se kantoor gehardloop, waar ’n nóg groter skok op ons gewag het. Die hele administrasiegebou was in ligte laaie (die grootste gedeelte van die Hoërskool Bergrivier het destyds uit tydelike plankstrukture bestaan). Êrens het ’n sirene geloei. Polisievoertuie en swaargewapende polisiemanne was oral te sien. Uiteindelik het ek beheer oor myself gekry en instinktief na my jonger broer en suster gesoek. Toe ek hulle vind, het ons so vinnig as wat ons kon, huis toe gehardloop.

Die grootmense was reeds almal by die huis. Sommige was reeds op pad na die skool toe. Die nuus het soos ’n veldbrand versprei: Die skool is aan die brand!

Die res van die dag het ons vasgenael by die draadloos gesit (daar was nog nie televisie nie). Die een nuusberig na die ander het dit uitgebasuin: Skole is ontwrig. Skole brand. Die land is aan die brand. Hector Pietersen is doodgeskiet.

Die volgende dag is ons doodbang skool toe. Ouers het saamgestap. Dit was ’n hartseer gesig. Die grootste gedeelte van die skool was in puin. Ons het gehoor vier van ons maats is gearresteer (ek sal liefs nie hul name noem nie). Hulle sou daarna aan ’n senutergende hofsaak onderwerp word; en uiteindelik moes hulle vanaf 1976 tot 1994 elke Kersfees by die polisiekantoor aanmeld. Eers met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika is dié onmenslike praktyk gestop. Daar het natuurlik niks van die eksamen gekom nie. Die skool is summier gesluit en sou eers vyf weke later heropen.

Daarna het die studente elke 16 Junie hul eie feesvieringe gehou, die talle vermaninge ten spyt. Uiteindelik het die bruin en swart skoolhoofde die eksamen so gereël dat dit voor 16 Junie afgehandel is. Die jeug het dus hulle eie vakansiedag geskep. Vanaf 1994 sou 16 Junie as Nasionale Jeugdag gevier word.

Vandag weet ons dat die opstande nie ontstaan het soseer oor die taal nie, maar oor die paswette, die martelings, die groepsgebiedewette ens. Afrikaans was slegs die laaste strooi op die rug van ’n volk wat reeds op vele ander gebiede gely het. Hierdie feit is al oor en oor bevestig in die erkenning van Afrikaans deur talle swart mense. Die gebrekkige kennis hieroor is ook die agtergrond vir die afstand teenoor Afrikaans. Dit bly ons taak om die taal los te maak van die apartheid-gruwels.

Die meeste van ons het onderwys gaan swot. Ek is na Bushkollege, oftewel UWK, waar ek Afrikaans-Nederlands en Filosofie studeer het. Die Departement Afrikaans was die grootste in die land. Ons het van die beste dosente gehad: Adam Small (Filosofie), Jakes Gerwel (Letterkunde) en wyle Tony Links (Taalkunde). Die werke van André P Brink, Etienne Leroux, Karel Schoeman, John Miles en Elsa Joubert is verken. Die passie waarmee Gerwel sy vakkundige kennis met ons gedeel het en die entoesiasme van Links (hy moet die dosent wees wat die netjiesste aangetrek het – altyd uitgevat in ’n snyerspak en bypassende sakdoekie) sou ’n blywende indruk op my maak, my liefde vir my moedertaal slyp en my denke vorm.

Danny Titus wys daarop dat toe ons as jong studente in die Wes-Kaap begin het om effek te gee aan Junie 1976, ons ons stryd in Afrikaans gevoer het. Die UWK, wat die fokus was van die opstande in die Wes-Kaap, het onder leiding van die tokkelokke Leonardo Appies, Russel Botman en ander studente-aktiviste die leiding geneem – in Afrikaans. Uiteindelik het ek my terugkeer na my Alma Mater gemaak as Afrikaans-onderwyser.

Dis nou 34 jaar later, en baie water het in die see geloop. Afrikaans het sy beeld verander van ’n taal wat wil verdruk tot ’n taal wat wil bemagtig en versoen. Ironies genoeg sou juis die gebeure van 16 Junie Afrikaans van sy bagasie bevry. En vandag word die taal met meer vrymoedigheid as ooit gepraat. Ek sien dit byvoorbeeld in die feit dat ek by baie vulstasies of in winkels deur Xhosasprekendes in Afrikaans bedien word. Dan reageer ek gewoonlik in my gebroke Xhosa (ek het Xhosa as vak in my eerste jaar by Alet van Huyssteen aan die UWK geleer). “Hierdie bereidheid onder gewone mense om na Afrikaanssprekendes uit te reik, skryf ek toe aan die breër konteks in ons land, nl die veranderde politieke klimaat wat groter verdragsaamheid gebring het en waartoe die 1976-opstande meegehelp het,” sê Ria Olivier.

Volgens Ria het sy, terwyl sy na die drama Afrikaaps gaan kyk het, agtergekom hoeveel Xhosasprekers die produksie bygewoon en dit geniet het. Dit dui vir haar op ’n groter aanvaarding van ons taal as ons almal se besit. Ook die Roots-konferensie by UWK laat haar besef hoeveel gesindheidsverandering daar op die grond plaasgevind het. Afrikaans beleef sedertdien ’n bloeitydperk, Afrikaanse musiek is groter as ooit, Afrikaanse feeste skiet op soos paddastoele, Afrikaans publiseer meer boeke as enige ander taal in Suid-Afrika, en jaarliks word nuwe produksies en nuwe verhoogstukke vir kultuurfeeste geskryf. Die lys is lank.

En dis juis waaraan 16 Junie ons wil herinner: dis nie net óns wat vry is nie, maar ook ons taal. Daarom moet ons elke geleentheid om ’n spreker vir Afrikaans te wen, verwelkom. Want dis sprekers van Afrikaans wat die taal se toekoms gaan bepaal, nie wette, beleide en uitgerekte debatte nie. Laasgenoemde is op sigself geen waarborg dat Afrikaans die volgende 30 jaar sal gedy nie. En wanneer gaan mense besef dat elke keer as daar iets negatief oor Afrikaans in die media verskyn, daar ’n Afrikaanse spreker is wat die taal vaarwel roep?

Nelson Mandela het in Reflections from Prison aangetoon dat ons onmoontlik die taal van die aardbol kan vee. Dit word volgens hom deur ’n oormeerderheid bruin mense gepraat, talle Indiërs en heelwat swart mense ook. En juis daarom moet 16 Junie ook in die teken staan dat tale ons land en sy mense, eens so verdeeld, kan verenig. Laat ons hierdie dag so vier dat alle jeugdiges welkom sal voel by die feesvieringe, maar meer belangrik, welkom in die land van hul geboorte. Laat ons wegbeweeg van die blameer-taktiek. Sodat ook wit jeugdiges sal aanklank vind by 16 Junie en nie langer hoef skuldig te voel oor iets waaraan hulle geen deel gehad het nie. Terloops: dis tyd dat ons ophou om die wit jeug te straf vir die sondes van hul vaders. Om voortdurend herinner te word dat jou voorvaders apartheid beoefen het, doen niks vir nasiebou nie en lei daartoe dat talle talentvolle jongmense hul rug op Suid-Afrika keer.

Maar van owerheidskant is dit natuurlik ’n ander storie. Mens merk meermale ’n gebrek aan verdraagsaamheid en ’n versoenende gees op by owerheidsinstellings wat nie heeltemal strook met wat mens by die gewone mens merk nie. En dat dit juis hierdie instellings is wat die verpligting het om grondwetlik-verskanste regte te beskerm, gaan mens se verstand ook te bowe. Om ’n gesindheidsverandering aan te help, moet ons ons oproepe vir Afrikaans binne ’n breër meertalige verband doen.

Juis daarom moet ons Jeugdag benut deur ons kinders in te lig wat die gevolge kan wees as ons onverskillig omgaan met mede-Suid-Afrikaners se taal. Want wat ek vir Afrikaans verlang, moet ek ook vir ons ander inheemse tale gun. Daarom is dit onafwendbaar dat ons moderne jeug sal besef dat meertaligheid toenemend belangrik sal word, want vir suksesvolle interaksie met ander landgenote sal ons soms die gemaksone van Afrikaans moet verlaat en in ander tale moet kommunikeer. Dit vra ’n nuwe soort opoffering.

Op dié manier word die herdenking van Jeugdag dan belangrik en relevant vir alle jongmense in ons land.

 

  • Michael le Cordeur is voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee, ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en dosent in Afrikaansonderwys aan die US. Ria Olivier en Danny Titus se bydraes word met dank erken.