Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Op soek na die onbekende: Jason Lloyd in gesprek met skrywer Pieter Wagener


Jason Lloyd - 2010-06-14

Dit sou heel gepas wees om die Afrikaanse skrywer Pieter Wagener as ’n ontdekkings-
reisiger te beskryf – iemand wat heeltyd op soek is na die onbekende. Iemand wat soek en vind, maar nooit versadig word nie. Iemand wat soekend bly. ’n Renaissance-persoon, wat met sy kop, mond, hande en voete amper alles kan doen. Soos William Shakespeare in ’n ander konteks opgemerk het: “He is a man of all seasons.” Dit is asof Wagener heeltyd probeer om die karakter Smerki, uit die skrywer John Miles se roman Buiteveld (2003), verkeerd te bewys. Smerki het gesê: “’n Mens voltooi nie ’n lewe nie, jy kry nie daarmee klaar nie.”

Wagener (69) se ontdekkingstog het hom verlede jaar ’n tweede doktorsgraad (LLD) in die regte aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) besorg. Sy eerste doktorsgraad (PhD) in teoretiese fisika het hy in 1987 aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf na voltooiing van sy navorsing aan die Universiteit van Londen. Nadat hy in 1999 voltyds uit die akademie getree het, is hy verlede jaar aangestel as navorsingsgenoot in die fisika-departement by NMMU en ook as navorsingsgenoot in die fakulteit regte.

Wagener is ook ’n arbeidskonsultant, fisikus, wiskundige, musikant, boekbinder en mesmaker. Op universiteit het hy onder meer fisiese chemie, toegepaste wiskunde, fisika, rekenaarwetenskap en musiek gedoseer. Hy doseer tans regte vir nagraadse studente aan die NMMU.

Volgens Wagener het sy nuuskierigheid as kind begin. “Nuuskierigheid prikkel ’n mens. As ek ’n klip opgetel het en die klip lyk nie soos ’n gewone klip nie, dan het ek dit (...) huis toe geneem. Ek het gewonder hoekom groei plante? Hoekom is diere anders? Ag, al hierdie tipe dinge …”

Boonop het hy, nadat hy in 1986 van sy vrou Nancy geskei is, sy vier kinders – Magnus (nou 36), Justus (35), Tertius (32) en Carla (30) – man-alleen grootgemaak.

Sy nuuskierigheid het hom ook aangelok tot die regte, “want daar was ’n braakveld wat net gewag het om ontgin te word. Die braakveld van globalisering.” Sy navorsing vir sy LLD het gefokus op die invloed van globalisering in die SADC-lande. Dit het veral gegaan oor die invloed van multinasionale maatskappye se direkte beleggings in die ontwikkelende wêreld, in besonder in Afrika-lande.

Hy sê Afrika-lande beleef die sogenaamde “volmaag-dilemma”, oftewel ’n keuse tussen demokrasie en welvaart. “Met ander woorde: of ’n gasheerland sy demokrasie en menseregtebeginsels sal opoffer om oorsese beleggings te lok. Hierdie dilemma staar Suid-Afrika in die oë betreffende swartbemagtiging.” Volgens Wagener word die dilemma ook uitgespel as: “Wil jy stem, of wil jy eet?”

Dit is laat Sondagaand en ek kom by Wagener se historiese huis, Beaufort House in Fort Beaufort, aan wat in 1842 gebou is. Hy en sy familie het dié huis in 1978 betrek. “My gewese vrou se ouma wat ’n familielid van Paul Kruger was, het tot met haar dood in 1977 hier gewoon. Toe ons in dieselfde jaar vanaf Londen teruggekeer het, het ons die huis van haar gekoop. Inderwaarheid het vier geslagte van ons familie hier gewoon. Dit is nog die enigste huis van 1842 wat nog bestaan. Dit is werklik ’n Setlaarshuis.”

Wagener se plan is om ’n koffie-boekwinkel in die huis te begin, “want ek sit letterlik met duisende boeke hier”. In die kombuis – wat eers die deurgang vir perde was – hang daar ’n swaar reuk van koffie in die luglaag. Ons drink ’n tweede dop koffie en Wagener sit reg onder ’n speseryrakkie wat meer as 150 jaar oud is. Dit het aan sy skoonma se ouma behoort. “Die huis is feitelik vol oudhede”. 

Pieter Cornelius Wagener is in 1940 in Queenstown gebore en het in 1957 aan die Hoërskool Hangklip gematrikuleer. Daar het veral sy Afrikaans-onderwyser, wyle Jan van Schoor, ’n groot invloed op sy lewe gehad. So is sy liefde vir Afrikaans en ander tale gekweek. Wagener is Duits en Frans magtig en kom ook goed oor die weg met Spaans.

Hy sou daarna teologie aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer het, maar het toe daarvan afgesien en ’n BSc-graad voltooi. ’n Honneurs-graad in toegepaste wiskunde het gevolg, asook drie meestersgrade (een daarvan aan die City Universiteit van New York) in onder meer fisika, toegepaste wiskunde en fisiese chemie. ’n BA-graad in Afrikaans en filosofie, ’n gevorderde diploma in rekenaarwetenskap en arbeidsreg, en ’n LLM-graad in arbeidsreg in 2002. Hy is tans in sy tweede jaar van ’n LLB-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika.

In 1961 het hy junior lektor in fisiese chemie by Tukkies geword, en in 1965 het hy as lektor by die Universiteit van Fort Hare aangesluit. In 1968 het hy oorgeskuif na die departement toegepaste wiskunde. Vanaf 1970 tot 1972 het hy aan die City Universiteit van New York fisika gestudeer en klasgegee.

Kort nadat hy in 1972 na Suid-Afrika teruggekeer het, is hy met Nancy getroud.

Wagener het in 1999 as professor in toegepaste wiskunde aan Fort Hare uitgetree.

Twee Afrikaanse kortverhaalbundels, Boereboeddhiste (1997) en Mantrakolie (2007), het uit sy pen verskyn en het goeie resensies gekry. Sy verhale verskyn ook in Tydskrif vir Letterkunde en in verskeie bloemlesings. ’n Engelse kortverhaal verskyn in A Century of Anglo Boer Stories (1999) en ’n Engelse kortverhaalbundel is tans by ’n uitgewer om gekeur te word.

Sy lewensuitkyk beskryf hy in ’n essay in die bundel Sewe Sondes, nee meer..., wat deur Hennie Aucamp saamgestel is. Daarvolgens is hy ’n mistieke wetenskaplike, wat wiskunde as ’n heilige taal gebruik. Daardeur ontluik ’n begrip van die skepping. Die wetenskaplike Eugene Wigner, wat die Nobelprys vir fisika gewen het, beskryf sy verwondering hieroor in "The Unreasonable Effectiveness of Mathematics in the Natural Sciences".

Ook vir Wagener se liefling-wetenskaplike, Isaac Newton, was die wetenskap die grootste drif wat hom geïnspireer het. Hy het gesoek na die geheime van die natuur in terme van wiskunde. Hy het God se werke in die natuur gesien. Die natuur was vir Newton – en so ook vir Wagener – die manifestasie van alles.

Wagener handhaaf die goeie Calvinistiese mentaliteit en ry nog steeds in sy 1982-Volkswagen Passat.

Verlede jaar was dit reeds 500 jaar gelede dat Johannes Calvyn in die Noord-Franse stadjie Noyon gebore is. Sedert die Duitse sosioloog Max Weber se omvattende studie van 1904 glo baie mense Calvyn het sekere waardes – harde werk, spaarsamigheid, en verstandige beleggings – gevestig wat vir die groei van die kapitalisme in Europa verantwoordelik was. Weber het veral verwys na die ekonomiese opbloei van die Nederlande in die 16de en 17de eeu as die gevolg van die Calvinisme. Dié mening word volgens die historikus en joernalis Leopold Scholtz toenemend as verouderd beskou. Wagener stem nie saam nie en sê die Calvinistiese beginsels is ewigdurend.

“Ons beleef reeds die ergste ekonomiese krisis sedert 1929 omdat ons afgewyk het van die Calvinistiese beginsels af. Ons sogenaamde welvaart berus op skuld. Die geld in omloop is nie wat mense gespaar het nie, maar geld wat geleen word om uitgegee te word. Die hele kaartehuis is besig om in mekaar te tuimel.”

Hy praat oor swart ekonomiese bemagtiging en sê dit is ’n euwel en dat dit afgeskaf moet word, “want die toepassing daarvan is verkeerd”. Hy betoog dat alle entrepreneurs gelyke kanse moet kry en dat bekwame mense gelok moet word. “Bekwame ingenieurs, verpleegsters en dokters verskaf die onderliggende struktuur vir die ekonomie om te ontwikkel. Indien nie, val die hele ekonomiese struktuur in mekaar.”

As hy die geleentheid sou kry om pres Jacob Zuma oor die land se makro-ekonomiese beleid te adviseur, sou hy sê: “Spaar en skep meer en meer werksgeleenthede.”

Hy praat met lof oor die Afrikaanse boek en sê die Afrikaanse letterkunde floreer. “Die bruin gemeenskap speel natuurlik ’n groot rol hierin. Ons het ’n boekwinkeltjie hier in Fort Beaufort gehad en die meeste van ons klandisie was bruin. Hulle het al die Afrikaanse boeke opgekoop. Iemand wat sê bruin mense lees nie, weet nie waarvan hy of sy praat nie.”

Wagener sê daar is ’n vernuwende element veral by bruin digters te bespeur. “Hulle is nie vasgeketting aan die Christelik-Nasionale uitkyk in die Afrikaanse letterkunde van destyds nie. Veral Afrikaanse skrywers soos André P Brink, Jan Rabie, Etienne Leroux en andere wat uitgebreek het uit die dwangbuis van die Christelik-Nasionale filosofie. Hulle werk het egter ’n rebellie geword teen die Christelik-Nasionale uitkyk van die lewe. Ek het begin wonder oor die kunskwaliteit daarvan.

“Met die bruin skrywers bespeur ek egter ’n kwaliteit wat nuut is. ’n Kwaliteit wat die Afrikaanse letterkunde vernuwe. Enige iets nuuts is goed en moet verwelkom word.”

Dit is laat Sondagaand en donker buite. En terwyl ons groet en ek die donkerte in die rigting van King William’s Town binnery, loop Wagener in die rigting van sy studeerkamer om weer aan die werk te spring – want hy wil Smerki verkeerd bewys.