Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Jakhalsdans nie so 'n sukses


Albert Maritz - 2010-06-14

Let us endeavour so to live that when we come to die even the undertaker will be sorry – Mark Twain

 

Op ’n vraag aan my uit die media oor hoe die kleiner staatsubsidies die kunstenaars beïnvloed, skryf ek: Die grootte van die regering se kunste-begroting maak nie ’n verskil aan die befondsing wat kunstenaars kry nie. Ons is die Danie Gerbers van vandag, met ander woorde mense wie se werk op die hoogste vlak hul man kan staan, terwyl ons plaaslik in ’n verpolitiseerde amateurstelsel beoordeel en bejeën word.

Die vraag het die vinger op die pols. Daar is nie ’n wonderkuur nodig vir die kunste nie. Die afwesigheid van gesonde verstand, logika, kundigheid, stiptelikheid, administratiewe vermoëns, visie, integriteit en volwassenheid lê nie by kunstevervaardigers nie. Daar is talle plaaslike suksesse. Suksesse as dit by Afrikaanse teater kom, is weinig direk weens steun van formele kunstestrukture. Die feeste is ons verhoog. Wanadministrasie, waarmee die Engelse teatermaker dit gelukkiger tref, of wat hulle beter manipuleer, is gereeld my, en baie ander – ongeag ras – se doodsteek.

Sou daar stelsels gewees het wat onbevooroordeeld en onafhanklik gewerk het, sou die letterlike doodsteek oor soveel minder kunstenaars se paadjies gekom het. My gevoelens oor mense soos Ernst Eloff, wat hierdie week dood is, en tannie Miems nou die dag, en onlangs Jan Bruyns, en … ai, talle, talle ander, behels meer as net dat iemand bekends dood is. Hoe behou ons hulle nalatenskap vir ’n wyer publiek? Ons jeug het weens te veel omstandighede ’n kort geheue. En dit hoef nie so te wees nie, of hoe? Of is ek net geamuseerd met ’n stelsel in die verlede, waar almal meer belese was, maar minder TV kennis had? Verder terug was daar Leonardo da Vinci wat valskerms ontwerp het, ’n kunstenaar was ... Enigiets onder die son kon hy doen. En dis ’n aanvaarde feit dat ons nou meer spesialiseer. So noem my ou doos. Nee, nie vloek my nie. Ou doos, soos uit die oude doos. Of nie?

*

Hier’s nuus vir jou. Taraboemdery se kort lewe bestaan uit ’n speelvak by Innibos, met ’n toekenning, en die wegholsukses by die KKNK – en klaar is die stuk.

As ek dit nie sê nie, sal niemand weet nie: ek het ’n toer gereël vir die stuk, met besprekings by die UJ-teater, in Pretoria, in Port Elizabeth, en ek was besig om ’n plattelandse toer te reël tussen die hoofsentra. Ander feeste sou seker ook positief reageer het as daar ’n bietjie geldelike steun was.

My aansoeke om befondsing vir die projekte was verlede jaar twee weke voor die sluitingsdatum ingehandig by die Nasionale Kunsteraad. Maar toe tree ’n misverstand in. Hul reaksie was een briefie, maande later, wat sê hulle oorweeg nie my aansoek nie, omdat ’n vorige siklus onafgehandel is. My aansoek om te appelleer is weer deur ’n e-possie afgemaak wat sê hulle sal dit nie eens oorweeg nie, want my admin is nie in orde nie. Toe ek hulle met ’n arbitrasie-advokaat se hulp nader, kom dit op die lappe dat die admin aan húlle kant nog nie afgehandel is nie. Die fout is dus die heelpad hulle s’n. Die appèl mag toe tog plaasvind, maar hulle is nie in staat om iets te bespoedig nie. Hulle sou gedurende Maart daaroor gesels, en vandag is die skrywe hopelik al in die pos. So hul goeie bedoelings in ag genome, is als wat Taraboemdery sou kon, gekanselleer. In een van my talle gesprekke met die NAC roep ’n beampte my tot stilstand: Hokaai! Hoekom gebruik ek mense van oorsee? Hulle sal my nie befonds as ek mense van oorsee gebruik nie!

Hulle befonds my rééds nie. Neil Sandilands, wat in Taraboemdery een van die grootste "performances" nóg deur ’n Afrikaanse akteur gee, soek sy heil in Amerika. Hy beskik reeds oor ’n groen kaart en is ’n hoog aangeskrewe TV-programmaker daar. Nog ’n unieke sanger/akteur, ook in die stuk, se jaarkontrak vir ’n musical in Australië is ook reeds bevestig. Al die ander akteurs is gesnoeker; my eie pogings om ’n fliek te maak van die gesogte produksie, vervaag en versmelt; die gehore ontneem van ’n studie van die siel, in die vorm van uiterste vermaak en kultuurgoed, in ’n wêreld sonder die politieke wil om ons te laat slaag.

*

Gepraat van slaag. Resensente reageer baie positief oor die fliek Jakhalsdans. En toegegee, dis nice. Alhoewel ek nie ver verskil van die brief in Die Burger (Saterdag 29 Mei 2010) nie:

Jou poging tot sukses met ’n fliek is halfpad bereik, as daar ’n goeie teks is ... In die ou dae het mense soos Jamie Uys, en selfs Jans Rautenbach die finale teks op stel laat gestalte kry. Ek dink iemand soos Regardt van den Bergh is nogal mislei daardeur. Gereeld in flieks soos Faith Like Potatoes en Tornado … The Horse Whisperer, kom ’n mens diep onder die indruk van improviseerde (self-opgemaakte) teks.

Dis nie vir die grootste deel van Jakhalsdans die geval nie. Die basiese teks het die begeerte om eenvoudig en suiwer te wees, en met enkele juweeltjies te betower. Wanneer Neil Sandilands se karakter aan die dogtertjie die gelykenissie vertel van die mielie, die fyn sandjies en die liefde, ervaar die kyker dit as beeldskoon. Die rede is voor die hand liggend: dis ’n mooi vergelyking, dis deur die regte karakter gespreek, en teenoor die leergierige engelkind.

Die konflik tussen die twee hoofkarakters is nogal verrassend. Waar die tipiese Amerikaanse ontknoping deur die afwesigheid van egte intensiteit soveel eenvoudiger is (nie altyd nie), laat die hoofkarakter (gespeel deur Theuns Jordaan) hier, so ’n bietjie soos ’n boelterriër, nie los nie. Die nabootsing van egte realiteit maak vir ’n baie ernstige spanningslyn.

Maar hoe het Mara (Elizma Theron) verander? Sy moes van vooroordele verander. ’n Gesprek wat hieraan krap – so boheems soos die een tussen Neil en die dogtertjie – kon ’n verskil gemaak het. Iets soos om die druk wat sy al in haar lewe gehad het, weer op te roep. En dat sy eintlik uit oorbeskerming van haar dogtertjie opgetree het, want hulle het al so baie verloor?! Voordeel is wat rassisme in sy lelikste graad van gemaak is. So dis goed dat Ruan (Theuns Jordaan) se teks haar nie sommer laat wegkom met “ek's jammer” nie.

Alhoewel ... Dalk is dit genoeg om te weet sy is inherent ’n goeie meisie? Dalk wil ek nou dinge uitspel wat nie uitspel nodig het nie. Maar skep ’n mens daardie dilemma – eg aan die lewe – open dit soveel deure vir ’n ewe aangrypende ontknoping. Ongelukkig, omdat die fliek eerstens moet vermaak, is die ontknoping hier te maklik. Met meer tyd en geld, sou mens – soos van ouds op stel, of in vroeëre prosesse – gesoek het vir die oplossings – wat nooit te ver is nie, veral nie in die hande van die geniale Deon Meyer, met die briljante Sandilands en ander mense met bewese goeie oordeel, soos Theuns Jordaan, dalk Elizma - dalk die vervaardigers self - byderhand nie.

’n Beter “toeval” om Jordaan te kry om by die romantiese Mara te gaan kitaarspeel, kon nie te moeilik gewees het om uit te werk nie. Mia, Mara se engeldogtertjie, se manipulering van Ruan (Jordaan) kon effe meer verwikkeld gewees het. Dis in die hande van die regisseur. Die oomblikke wanneer sy die briefie oorhandig, na die fietsongeluk, kon ook veel geloofwaardiger (verwikkelder) hanteer gewees het, met min moeite of geld of tyd. Dis in die hande van die regisseur.

En die erge Amerikanisme – die eerste soen – is onvergeeflik. Sonder daardie soen sou ’n spanningslyn behoue gebly het, sou die aanloop na die briefie en die volgende soen-oomblik ’n momentum ontwikkel het en die éérste soen op die regte oomblik laat gebeur het. Sonder die eerste soen sou die weg gebaan gewees het vir ’n baie knap ontknoping.

Maar wat ons tog kry, is die eenvoud, die mooi kameraskote, die hyskraanskote hier en daar, wanneer die kamera hoog oplig en oor ’n muur beweeg. Die spel van die akteurs is ’n verrassing. Akteurswerk is regtig ’n vakmanskap, en ’n regtige goeie akteur sou beter gevaar het in die rolle wat deur sangers gespeel is, maar die leek sal nie maklik die verskil sien tussen die sanger wat speel en die akteur wat speel in hierdie rolle nie.

Juwele op stel is die skoolhoof, ’n gesoute verhoogakteur van Mitchells Plein, Chris Majiedt. Hy was ook ’n hoofrolspeler in die TV-reeks Riemvasmaak, en is ’n veteraan van vele verhoogoptredes. ’n Aktrise wat as kind fantastiese werk gedoen het in van ons klassieke dramas, en later aanbieder was, is Chanté Hinds – ook in die fliek. Onopgeleide plaaslike mense vaar ook baie goed.

En dan is daar genoeg eenvoud van teks, met klein juweeltjies tussenin, mooi skote, 'n hyskraan hier en daar, en sterre.

’n Mens sou jou plig versuim as mens nie krities is oor ’n paar dingetjies nie. In die fliek waar ek gekyk het, was daar snaakse kleurskakeringe op skote – veral in die eerste tien minute van die fliek. Die fout daar lê in die "grading".

Jakhalsdans as die fliek op dieselfde hoë plaas stel as byvoorbeeld Paljas? Nee, ek verskil van beide. Ons regtig goeie flieks is daai tyd gemaak deur Jans Rautenbach, Dirk de Villiers, Emil Nofal. Deur Manie van Rensburg en Johan van Jaarsveld op TV. Suid-Afrika het suksesse in die vorm van Tsotsi, District 9, en andere. Maar die Afrikaanse fliek het geduld, geld en tyd nodig.

Met ’n Deon Meyer-teks en die paar basiese vaardighede wat by Jakhalsdans betrokke is, is Jakhalsdans hoogstens ’n rigtingwyser – en die naald wys in die regte rigting.

 The mass of men lead lives of quiet desperation. – Henry David Thoreau