Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Uit die boks: Ella


Willie Knoetze - 2007-01-23


Dis asof Moeder Aarde vóór ons geweet het. Vóór ons geweet het en vóór ons begin treur het. Die pyn om afskeid te neem was ondraaglik, en haar reëntrane het ons verswelg. Huise in Glentana is weggeskeur uit die landskap, paaie het vol gate geval, Knysna se brûe is deur die water teruggevat en die berg het Kaaimansrivierpas van hom begin afskud. Haar aanvanklike pynkreet was verskeurend.
 
Maar ons kon nie verstaan nie ...
 
Longontsteking was die eerste teken van my tante se agteruitgang. Die dokters het liters en liters vog van haar longe afgetap, maar daar was altyd nog. Die dubbele angiogram het die skeur in haar hart gevind. Bloed spuit al jare daardeur op haar longe. Die kleursel van die angiogram het haar niere befoeter –toe pak hulle op en gaan staan. Hulle kon nie opereer nie. Sy kon nie meer kos inhou nie, later ook nie water nie – net die drup. Maar wat ingaan kom nie uit nie.
 
EllaEk en Ella was van kleins af maatjies. Sy was nou wel ses jaar ouer as ek, maar my verstand het vinniger ontwikkel en dit was nie lank voor ek haar verby is nie. “Willie, ek is jou tannie” was egter ’n towerspreuk. Veral as ek nie wou luister of mooi verstaan het wat sy gesê het nie. Een ernstige kyk en die towerspreuk was al wat nodig was om my weer in toom te kry.
 
Sy het egter nog ’n towerspreuk gehad. Die mag van hierdie towerspreuk was onweerstaanbaar – en gewortel in die kern van haar siel. Sy was salig onbewus van die kolossale impak daarvan en het dit sonder voorwaarde gebruik: “Ek is lief vir jou”.
 
As Ella vir jou gesê het sy is lief vir jou – het jy geweet dis die waarste woorde in die wêreld.
 
Moeder Aarde het dae aaneen geween. Maar vir een spesiale dag het sy die laaste verjaarsdag met oorgawe gevier! Dit was ’n pragtige dag en helder sonlig het vrolik op die geskenkies en linte in die hospitaalkamer gespeel. ’n Teddiebeer het “Jesus loves me, this I know” gesing en op die bedkassie gedans. Almal het hul vrolikste gesigte opgehad – net die donkerkoppie met die vonkelende ogies s’n was egter volkome eerlik. Sy het gestraal van geluk! Dit was haar 34ste verjaarsdag.
 
Ella het nooit ’n feesdag stilletjies laat verbygaan nie. Verjaarsdae was elke jaar ’n groot gedoente, maar haar gunsteling fees was Kersfees. Sy het met volle oorgawe haar toegewikkel in Kersfees. Die Kersboom moes dadelik op en versier word – en nie net die Kersboom nie, maar elke plant, stoel en tafel in my ouma se sitkamer. Elke versiering denkbaar was ingespan om haar vrolikste visies tot stand te bring. Met die pakkies onder die boom en die kombuismense aan die werk, het sy dolgelukkig in haar Kerskamer gesit en briefies skryf. Hordes briefies (wat my ouma so met die tyd kon ontsyfer) is geskryf en weggesteek. Briefies in ons tasse, tussen die klere in die kaste, op jou CD’s, in die tydskrifte, sommer orals!
 
Op Kersdag het sy ons altyd laat kerk toe gaan en Kersliedjies sing. Sy was selde so mooi soos wanneer sy lofliedjies gesing het. Haar grootste liefde was ongetwyfeld Jesus. So het sy my geleer wat godsdiens waarlik is – ’n lewensles wat ek elke dag wat ek saam met haar spandeer het, kon leer. Sy was ’n lewende voorbeeld van onvoorwaardelike liefde – vir God en vir ons.
 
Op die laaste dag was Moeder Aarde se hart koud en grys. Die see was donker en vaal. Dit was stil toe sy haar asem ophou vir die einde ...
 
Ons was by haar bed toe sy vervolmaak is. Sy was in die hemel nog voor haar liggaam gaan staan het – en vir ’n paar oomblikke kon ons sien hoe wonderlik dit daar moet wees. Ella se liggaam het gestraal van blydskap, haar gesig het gelag en haar mond het soene uitgedeel aan ’n skare wat ons nie kon sien nie. En toe raak dit stil. Ella was daar – volmaak en gelyk aan almal om haar – en ons het skielik verstaan waaroor Moeder Aarde so aangegaan het: Dis nie uit hartseer oor Ella nie, maar uit hartseer vir ons wat agterbly, dat ons treur. Ons pyn lê in ons verlies.
 
Ek verlang nog na Ella. Nie na Ella op Moeder Aarde nie – na Ella by my. Maar ek is bewus van die seën wat sy in my lewe gebring het – en verheug my daaroor dat sy by haar Grootste Liefde is!
 
Waarom dit steeds reën, kan ek net raai.