Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Artikels | Features

Kruispad: akteurs deel hul ervarings


2010-06-10

Toe Wim Vorster my nader om in Kruispad te speel, het ek nie lank daaroor nagedink nie. Met die eerste oogopslag was die teks en die karakters baie speelbaar. Binne elke nuwe, oorspronklike teks lê daar soveel meer uitdagings in wat te bowe gekom moet word. Met Wim aan die stuur voel ons – weens sy insig in die teks en dit wat hy daardeur wil bereik – deurentyd in veilige hande. Die werksproses is opwindend en vernuwend. Die geleentheid om deel te wees van hierdie produksie beskou ek as ’n voorreg. – Johan Engelbrecht (Tertius de Geus, wysgeër)

Wat 'n voorreg om saam so 'n ervare groep spelers en regisseur te werk! Alreeds na ek die eerste keer die teks gelees het, was ek verlief daarop en het ek geweet, this is my type of theatre: wreed, dapper en klassiek. Dis 'n moeilike teks om aan te werk, maar dis waar Wim inkom – 'n meesterlike regisseur met 'n innerlike begrip van, en hartstog vir, sy kuns. En deeglike kennis van die Teater van Wreedheid. Hy skep 'n veilige, kreatiewe ruimte om in te werk waar almal se insae as waardevol beskou word. Voeg by 'n toegewyde cast en 'n goeie skeut waagmoed, and baby, do we have something coming ... – Christelle van Graan (Cora Wasserthal, digter)

As jong akteur is dit vir my 'n ongelooflike eer om met só 'n ervare en professionele regisseur te werk. Wim het soveel hartstog vir die teater en dit is duidelik dat hy sy hele hart en siel in hierdie produksie insit, en waarom nie? Dit is 'n kragtige teks met sterk potensiaal om 'n nuwe klassieke Afrikaanse toneelstuk te word! Ons werk almal baie goed saam en "gel" lekker. Ek het 'n verskriklik uitdagende rol om te vertolk, nie net as gevolg van die karakter se seksualiteit nie, maar ook sy psige. Ek moet wel bieg, die "groot naaktoneel" saam met my mede-akteur Andre Lötter is eerlikwaar nie vir my so 'n "big deal" nie; ek het al tevore naakte en gay-tonele gedoen, en het selfs in my eie eenman-toneelstuk Sade(ism) my klere uitgetrek. Ek speel maar net 'n karakter wat bloot moet maak soos hy lus kry. John Berger het in elk geval gesê: “The nude is condemned to never being naked. Nudity is a form of dress.” Dis maar net 'n ander kostuum om te dra, een wat nie gesien kan word nie, soos die Keiser s’n. Ek sien baie daarna uit om Kruispad met die res van die wêreld te deel. Hier kom 'n ding! – Chris van Rensburg (Rex Spédiou, chauffeur)

Ek vertolk die rol van Delphine Appollus die teateragent! Sy is vol lewe, sy is groot! Dis vir my ’n lekker uitdaging ... Die afgelope paar weke was vir my vol opgewondenheid en uitdagings. Om saam met Wim Vorster te werk is ’n absolute vreugde. Hy laat ons toe om kreatief wees en te eksperimenteer. Een ding wat ek baie waardeer, is dat hy ongelooflike vertroue in ons as akteurs het. Dit maak die werk vir ons makliker. Nogtans sê hy hy is nie ’n regisseur nie, hy is ons spelleier, want hy weef net al die drade wat ons spin, aanmekaar. As ’n jong aktrise leer ek ook baie by my medespelers en ons ondersteun mekaar. Dit maak my regtig opgewonde oor die toekoms! Ek kan nie meer wag vir Grahamstad nie. – Hildegardt Whites

As finalejaar-student het ek die Kruispad-teks gelees voordat ek nog vir Wim geken het. Dit het my so geboei en geskok dat ek ’n uittreksel daaruit gedoen het vir my finalejaar-produksie. Toe Wim my bel vir die rol van Esmé de Geus, was ek in die wolke. Dis my eerste professionele teaterproduksie en die inhoud is nogal vreesaanjaend. Maar Wim het my bitter vinnig op my gemak gestel. Hy laat my as aktrise beskermd en gemaklik genoeg voel om dinge te probeer en te eksperimenteer. As ’n groot aanhanger van die Teater van Wreedheid is dit vir my ’n eer om deel te wees van die eerste Afrikaanse produksie in hierdie genre – hoe dit ook al my sintuie mag teister … – Nina Marais (Esmé de Geus, skilder)

Die drieweke-reis met Wim Vorster is gevul met pret, vrees, kreatiwiteit, uitdagings en ’n toenemende mate van kennis. Elke dag stap ’n mens weg met ongelooflike nuwe inligting. Die platform wat die regisseur vir die akteur gee, is een van ontginning. Hy laat ons toe om te speel met die karakter en dialoog, maar staan gereed om jou te vang as jy val. Iets van ’n perfeksionis, maar glad nie "pushy" nie. Wim is a gulhartige mens met baie geesdrif, en tog kalmte en visie.

Die rolverdeling is jonk en "vibrant". Elkeen bring ’n ander geur en kleur na hierdie pragtige kunswerk. Party van hulle ken ek maar die afgelope paar weke, maar dit voel asof ons ou bekendes is. Manto Muthwa, persoonlike assistent van Justa, is as karakter baie uitdagend. Sy beweeg voortdurend van een emosie na die ander, maar probeer terselfdertyd kalm bly. Ek sien werklik uit na die res van die reis saam met hierdie vreeslose regisseur en wonderlike "cast". – Pamela Ndlovu

Dis vir my ’n groot voorreg en besonderse ervaring om deel te wees van die cast van Kruispad. Dis ’n stuk met baie intensiteit, intrige en menslike groei en ek leer baie. Wim Vorster het ek net as skrywer geken, so om saam met hom te werk, is inspirerend. Hy laat my gemaklik voel en gee sy akteurs baie vryheid vir interpretasie en beweging en groei, maar deel sy idees en visie met insig om sodoende saam as akteur en regisseur ’n multidimensionele karakter te bou. Vir my om ’n gay-liefdestoneel en naaktoneel te doen, is net so uitdagend as om ’n straight liefdestoneel en naaktoneel te speel. Dis ’n intense proses wat met motivering, op die gemak stel en insig aangepak word om heeltemal met die inhoud van die toneel meegevoer te raak. Daar word nie gefokus op die feit dat ek sonder klere is nie. En die karakter het veel meer om die lyf as net sy vel! – André Lötter (Etiénne de Geus, student)

“In die teaterwêreld is dit alombekend dat mens selde, indien ooit, die rol speel waarvoor jy jou oogtande sal gee.” – Justa de Geus, Kruispad. Hoe waar is dit nie. In ’n betreklik jong akteur se loopbaan is teaterwerk soms yl geplant en nie gesaai nie. Om dus die rol van Justa de Geus aangebied te word, is voorwaar ’n voorreg. Ek was aanvanklik skepties en skrikkerig om die rol van ’n ouer karakter aan te pak, veral een met soveel emosionele bagasie as Justa, maar ek het besef dat ek nie die geleentheid deur my vingers kan laat glip nie. Die Teater van Wreedheid word maar deur enkele regisseurs in ons bedryf aangepak, dus word die genre nie gereeld op die verhoog gesien nie. Dit is werklik ’n verrykende ervaring as akteur om die prosesse wat Antonin Artaud vasgelê het, deel te maak van karakterisering. Laasgenoemde is ook nie sonder “wreedheid” nie, maar regisseur Wim Vorster hanteer elke aspek daarvan met sensitiwiteit en integriteit en die pad na openingsaand in Grahamstad het dus elke dag minder en minder struikelblokke. Ons ensemble groei met elke repetisie en groot opgewondenheid heers nou, met slegs twee weke voor die groot dag. – Carmen Kershoff (Justa de Geus)