Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Hotelle en films


Albert Maritz - 2010-06-08

Only a mediocre person is always at his best. – Somerset Maugham


Die Jakaranda Nasionale Kunstefees (JNKF) se segsman is Pedro Camaro. En vir ’n fees wat groot afgebyt het, vir ’n eerste – het hulle oënskynlik goed gevaar.

Vervoer vir kunstenaars was moeilik, so ons kon nie heeltyd uitkom waar ons wou nie, maar die oor op die grond het dit dat enkele stukke moes kanselleer.

Terselfdertyd was ’n stuk soos Naaimasjien uitverkoop by die Encore, Marion Holm het redelik gevaar by Groenkloof, en bywoning was glo ook redelik by die Brooklyn-teater. Dis duidelik, soos ’n paal bo water, dat die venues wat help bemark het, mense gemobiliseer het. Dis maar ’n goue reël: waar daar niks aangaan nie, gaan niks aan nie. Mense soos Piet Kroukamp en Albert Venter van UJ se oproep dat die gemeenskap hul eie heil moet berei deur betrokke te raak geld dalk meer as een terrein.

Benewens ons pragtigste van pragtige produksies, Elders aan Diens, was my blyplek en die hulpvaardigheid van Colin, wat ons shuttle gery het, my hoogtepunte. Maar meer oor  ’n vergelyking tussen die Centurion Hotel, waar ek gebly het, en dié rykmans-"hang" in Johannesburg, die Michelangelo waar ek ’n paar nagte gebly het tydens die verfilming van die Clint Eastwood-fliek Invictus, hier onder.

Hoe dit ook al sy – feeste is die Afrikaanse verhoogkunstenaar se behoud. Mag die Jakaranda (JNKF) van krag tot krag gaan.

Terwyl ek nou dinge wil vergelyk, sou dit ’n dom idee wees om Jakhalsdans en Invictus te vergelyk. Ek hou eerder by die blyplekke. Maar eers – die kern van ons land se probleme en oorlewing ... Kyk, ons het eenstemmigheid: ons kan nie oorleef as ons nie skool gehad het nie. Nie in ’n eerste wêreld nie. Maar vanweë ons skoolstelsel is universiteitsopleiding; selfs kollege-opleiding, nie almal beskore nie.

En hier ervaar ek jaar na jaar self enkele plekke waar daar uitkoms is – deur teater. In Athlone is daar byvoorbeeld Ian Bruce se skool; daar is Tauriq Jenkins – hulle Saterdagskool in Kaapstad. Daar is Klein Libertas se uitreike na die townships. Daar is Chris April, en Chris Majiedt (nou in Jakhalsdans) se pogings om in townships en die Vlakte mense aan die hand te vat, toe te rus en te inspireer.

Nog so ’n plek is die Kollege in Plattekloof, Kaapstad – oorkant die hospitaal. Mense wat nie maklik elders leiding sou kry nie, word ’n geleentheid gegee om te studeer. Beurse en befondsing kom (skaars) van “Ikapa” af, of van goedgesinde sakemanne, of bloot van die studente se (nie altyd welaf nie) ouers, of word gegenereer deur studente se eie ywer om self "jobs te hou" gedurende hul studies.

En wanneer eksamentyd aanbreek, wanneer studente hulself moet bewys met IT en bemarkingsvakke, dan verruk hulle mens met die unieke wat net die kunstenaar in enige veld kan bied.

Die afgelope week is lektore vergas op die mees uiteenlopende – soos ’n Boesman and Lena (Fugard) uittreksel, waar die verspilde rykdomme van die komende Wêreldbeker (World Cuppa – uitgespreek met die -pha, soos dominees praat)  blootgelê word aan die hand van uitstekende vermaak. Enkele studente wat aan die beginne van die afgelope twee jaar met yl selfvertroue opgedaag het, het hierdie week groot ontwikkeling kon wys, deur die gesproke woord, knap tekste – soms self geskryf, dans, sang, deur hart en siel uitstort dit waarin hulle glo. Van die werk was weer suiwer kuns. Tussen dosente en studente het hier ’n klein mikrokosmos ontstaan. So ’n instansie behoort ’n teelaarde te wees van ’n ryp gemeenskap.

Die eerste keer nóg was daar vanjaar derdejaarstudente. Van die sewe – van wie enkeles nie noodwendig drie jaar gelede begin het as die room van studente nie –  is punte toegeken – na afloop van die eksamens nou, wat wys dat minstens twee, dalk drie, reg is om in professionele werk in te stap; nog een – in haar moedertaal – definitief ook in die hierdie kategorie; dalk nog een ’n grensgeval na die professionele verhoog – nog een of twee wat met verdere studie ook die paal sal haal. Maar die opleiding maak nie net deure oop om akteurs te word nie; nee – die verlangde toewyding en studierigtings hier is gerig op velde buite akteursskap ook.

Maar in ons land is daar derduisende pogings soos hierdie – soms met winsbejag, soms "charity", wat regeringsteun moet hê, en nie het nie. Mag ’n verbeterde regeringsadministrasie om die draai wees. Met dié dat Zyl Slabbert nou nie meer president kan word nie, mag ons soos ’n rugbyspan wat met 14 spelers beter vaar as met 15, dit regkry hier in Suid-Afrika. En as ons 15de speler gebaseer is op Suiwer Intensies, is derduisende suksesse om die draai, op duisende plekke.

*

So, in die hand van die suigelinge loop die ironieë dik, nes in die lewe.

Met die Jakaranda-fees was die kunstenaarsverblyf ’n aspek waaroor mens nie kon kla nie. “Ingevoerde” kunstenaars is in Pretoria getrakteer op geborgde verblyf by die Centurion Hotel. Dis nie te verwarre met die Centurion Lake Hotel nie – nee. Die Centurion is ’n pragtige reus uit eie reg. Ek kon nie anders as om die Centurion Hotel te vergelyk met my verblyf tydens verfilming van Invictus nie.

Tydens Invictus arriveer ek die aand by die Radisson, Sandton (5-ster) – laatnag. Uit die  verwarring wat volg, is ek toe gestuur na die Michelangelo, waar die “sterre” bly. Nou – dis ontstellend genoeg om brekfis tussen Morgan Freeman en sy trawante en sy "stand-in" (’n grys ou man, wat eensaam eenkant sit – ja, hulle het hulle eie soort sosiale film-apartheid) deur van die heuningkoeke te pluk en saam met die beste brekkie wat 5-ster kan bied, tot dikwordens toe te verorber.

Maar om laatnag ’n stukkende TV, ’n kakkerlak en ’n nuttelose internetstroom op jou skootrekenaar,  sowel as op die hotel se rekenaarstasie, te beleef, is in die piepklein kamertjie, en in die hotel met sy glans, maar glanslose "gym" van 4 x 4, ’n verrassing.

In vergelyking hiermee is die Centurion Hotel, met sy pragtige areas en aangename variasie van brekfis, die afwesigheid van heuningkoeke werd. Selfs die mooi badkamerbotteltjies, wat by die 5-ster-plekke alte veel lyk na refills, hou nie kers vas by die keurige reeks in die Centurion Hotel se badkamers nie.

Later tydens Invictus bly ek toe in die Radisson (ook 5-ster). Behalwe vir die 3-verdieping-"gym" daar vergelyk die 4-ster Centurion baie gunstig hiermee ook. Goed, die Radisson het ook heuningkoek by brekfis, maar die lekker Afrikaanse diens by die Centurion, en die ligging en swembad, en atmosfeer, is enige ster werd – en heuning om die mond.

Ek skryf graag volgende keer oor Jakhalsdans. Daar's ’n paar dinge om te sê. So twee baie eenvoudige verbeteringe aan die produksieproses sou dit eg Afrikaans maak. Wat dalk nie ’n box-office-verbetering is nie.  En hoe die akteurs hulle kwyt van hulle taak. Maar daaroor is ook net goeie goed te sê.

My befondsingsaansoek by NAC vir die stuk waarin Neil Sandilands speel, Taraboemdery, is weens administratiewe laksheid aan hulle kant afgekeur. In een gesprek met die owerheid, toe ek mos nou appelleer, stop die slim man aan die anderkant my. “Hokaai,” seg hy. "Why must you use actors from abroad?" Dis toe hy nou nie kon verstaan dat Neil Sandilands ’n pêrel is wat hier vir die swyne gewerp is nie; dat die aansoek om ’n klassieke Afrikaanse stuk, met hom in die hoofrol, te toer, afgekeur is deur die wysgeër se eie instansie en dat hy reeds oorsee sy heil soek, nou meer as ooit. En daar sukses smaak.

Dis soos om te drop-kick, te mis, en te "never spare a thought" vir die vier Blou Bulle wat langs jou reg was vir aksie, en die verdediging oorhoops.


He that will not apply new remedies must expect new evils, for time is the greatest innovator. – Francis Bacon