Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Kennisgewings | Notices

Hope pret vir kleingoed tydens Stellenbosch Wynfees


2010-06-07

Met opwindende aktiwiteite vir oud en jonk tydens die jaarlikse Stellenbosch Wynfees wat plaasvind vanaf 1 tot 5 Julie in die Wynlande, het ouers geen rede om gedurende die skoolvakansie met Jan-tuisbly-se-karretjie te ry nie! Ontdek uitmuntende Stellenbosch-wyne in die einste kelders waar dit gemaak word in pendelbussies wat jou en jou gesin van plaas tot plaas sal rondrits. Almal kan deel in die sokkerfiesta terwyl die jongklomp vermaak word met hope aktiwiteite wat spesiaal vir hulle gereël is.

Kinders kan kom blad skud met Middelvlei se vernaamste donkie, Jerepigo, terwyl hulle saam die landgoed verken in sy karretjie en maats maak met die ander plaasdiere. Voer ook die dwergbokkies, gaanse en skilpaaie heerlike smulhappies wat hulle magies lekker vol sal maak.

Word weggevoer na ‘n ander wêreld met ‘n bietjie toorkuns op Welmoed, Vrydag 2 Julie wanneer ‘n towenaar sy staffie sal swaai terwyl ma en pa wegval aan ‘n heerlike spitbraai en potjiekos by die Duck Pond restaurant.

Avontuurlustige japsnoetjies kan ‘n perd van ‘n ander kleur kom opsaal by Bellevue Wynlandgoed vir ’n halfuur se perderit of maak die gesin bymekaar en geniet ‘n rustige trekkerrit na die wêreld se oudste kommersiële Pinotage-wingerde. 

Beweeg dan na Villiera vir ‘n een uur lange wingerdsafari en ontdek die pragtige natuur met sy groot verskeidenheid voëls, Rooi Hartebees, Eland, Gemsbokke, Springbokke, Bontebokke, Bosvarke, Zebra’s en nog vele meer! Villiera bied ook toegewyde kindertoesig aan wat ma en pa die geleentheid gun om weg te glip vir ‘n heerlike Cap Classique proe.

Met al die opwindende aktiwiteite sal honger magies gou hul verskyning maak. Klop aan by Café de Paris by L’Avenir en smul aan heerlike croissants, crêpes en baguettes. Alle kwarteindrondte-wedstryde kan hier gekyk word terwyl kinders hulle ekstra energie opgebruik op die binnehuise springkasteel. Ouers kan mekaar ook uitdaag met ‘n sosiale potjie boules.

Delvera omskep sprokiesverhale in ‘n realiteit op Sondag, 12h00 met ‘n vertoning van Cinderella. Deel in die vermaak saam met die kinders of wandel rustig deur die talle klein winkeltjies op die plaas met unieke tuisgemaakte kunswerke.

Kinders kan hul kreatiewe denke inspan by Longridge tydens ‘n Design-a-label kompetisie. Die wenner se ontwerp sal op ‘n spesiale wynfeesbottel verskyn en verkoop word. ‘n Persentasie van die geld sal aan ‘n liefdadigheidsorganisasie geskenk word. Na sulke harde werk verdien die kleingoed ‘n blaaskansie en kan hulle rustige speletjies speel of ‘n fliek kyk terwyl ma en pa aan ‘n Kelder Rat Race deelneem waartydens hulle as ‘n span so vinnig moontlik ‘n kis Longridge wyn moet bottel, toekurk en verpak.

Die Bottelary Heuwels Wynsentrum bied ook ’n toegewyde kindersorgsentrum aan. Met springkastele, gesigverf en vele meer aktiwiteite onder toesig, sal kinders nooit verveeld wees nie.

Kaartjies vir die Stellenbosch Wynfees is aanlyn beskikbaar teen R150 per persoon per dag en R500 vir ‘n gouetoegangskaartjie wat al die dae van die fees dek. Kinders onder die ouderdom van 18 jaar kan gratis die fees geniet! Vir meer inligting oor die Stellenbosch Wynfees, geborg deur American Express Kaarte®,  skakel 021 886 4310 of besoek www.wineroute.co.za.