Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Daar’s pêre ... groooot pêre


Fanus Rautenbach - 2007-01-22

ODE AAN DIE GROOT PERDE!
 
Einde van passeerde jaar is daar ‘n Trekperdfees by Nelson’s Creek in die Pêre(l) gehou. Daar is die mooiste perde van ons land vertoon, van die vurige Friesperd tot by ons eie trotse Boerperd waarmee ons die Ingelse kafgedraf het en altyd ‘n kortkop voor was.
 
Ter viering van hierdie geleentheid van die Perd en Wyn is spesiale wyn gebottel en ek was gelukkig genoeg om ‘n kis daarvan persent te kry. Ek drink nie eintlik wyn nie, maar wil nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie, en laai die rooiwyn toe saam met die biltong in die saalsak.
 
Die aand keer ek die eerste rooie aan om mee by my nooi Sannie, ‘n halfuur te perd van my af, te gaan kuier. Toe die kurk uitkom, ruik die rooiwyn vir my anglisisties gesproke baie na “n perd van ‘n ander kleur”! Ek gooi die kurk oor my linkerskouer weg, want die perd is uit die stal en dit sou nie help om die deur te probeer toemaak nie. Ek besluit ons moet hom maar bloots probeer ry, want rooiwyn en Coke is darem te Port-ugees!
 
Ons gee die aand vrye teuels en spoor terwyl ons deur die bottel trippel en ek maar net hoop dit word nie vannag ‘n nagmerrie wat my jong osse maak inspan en môre in my kop galop nie.
 
Dis duidelik ‘n jong wyntjie en nog hard in die bek, maar ek het nou eenmaal hierdie wilde perd opgesaal en ry hom met stywe teuels, al weet ek hy gaan my voor die aand om is, waarskynlik steeks maak, en Sannie sê hoeka trou is nie perde koop nie.
 
Maar hierdie perdekrag is sterker as wilskrag en hoe meer ek van die wyn drink, hoe meer voel ek pure perd, al raak ek later so onbeholpe dat Sannie vir my beduie ek is besig om die kar voor die perd te probeer inspan, en al het ek my perd tot by die water gebring, is dit vir haar duidelik ek gaan hom nie gemaak drink kry nie.
 
Toe voel ek verleë soos lank oorlee oom Chris Blignaut uit sy graf oor Dozi wat nie die verskil tussen ‘n Ou Ryperd en kruiwa stoot verstaan nie.