Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices > Afrikaans

Die nuwe Woordeboek van Afrikaanse Geneeskundeterme


2010-06-04

SAVI Boland, SATI Boland en USATI Boland bied aan:

Inligtingspraatjie: Die nuwe Woordeboek van Afrikaanse Geneeskundeterme
Deur: prof Jan Lochner, US
Aangebied deur: SAVI Boland op 29 Mei 2010.

Die Boland-afdeling van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (www.translators.org.za) nooi almal wat in Afrikaans oor mediese sake skryf na ’n praatjie oor die nuwe, hersiene Woordeboek van Afrikaanse Geneeskundeterme (WAG), deur prof Jan Lochner van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Universiteit van Stellenbosch.

SAVI Boland hou graag sy lede op hoogte van nuwe publikasies en hulpbronne vir taalpraktisyns. Die mediese wetenskap verander by die dag, en daarmee saam mediese terminologie. Skrywers, joernaliste, vertalers en teksversorgers wat in Afrikaans oor mediese aangeleenthede skryf, sal dus verheug wees om te hoor dat die WAG tans hersien en bygewerk word en binnekort by Pharos Woordeboeke op CD beskikbaar sal wees.

SAVI Boland nooi dus alle belangstellendes om te kom luister na prof Jan Lochner se praatjie oor die hersieningsproses. Prof Lochner (DSc Geneeskundige Fisiologie, US; MBChB, US) was lid van die Kollege van Geneeskunde, vise-president van die S.A. Mediese Navorsingsraad, professor en later hoof van die Departement Geneeskundige Fisiologie en Biochemie, asook Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde aan die US. Hy was Stigter en Bestuurder van die Afdeling Navorsingsontwikkeling en -steun, Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Sedert 2002 is hy voltyds outeur en organiseerder van die hersiening en opdatering van die WAG.

Prof Lochner sal meer vertel oor hoe die proses aangepak is, die bykans meer as 5 000 nuwe lemmas wat ingesluit word en die nuwe studievelde wat betrek word. Daar sal ook ’n verteenwoordiger van Pharos Woordeboeke wees. Die geleentheid vind op Saterdag 29 Mei plaas, in die ouditorium van Bellville-biblioteek, om 09:30 vir 10:00. Alle lede van die publiek is welkom. Verversings word verskaf. Die koste is R35 vir lede van SAVI Boland en R70 vir nie-lede.

Vir nadere inligting en om te bevestig, kontak Gretha Aalbers by 021 461 0486 of 083 635 1258 of aalbers@iafrica.com.