Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXV: Johannes Prins se tweede verslag


Johannes Prins - 2010-06-03

 

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie
Tweede verslag deur Johannes Prins:

 

Partykeer kom ’n vers soos ’n maagaandoening na mens toe. Jy voel jy móét eenvoudig nóú gaan skryf en dinge val meestal redelik vinnig in plek. Óf, perfek in plek.

Ander kere is skryf (van poësie) soos om ’n baie hoë berg te klim (kom ons neem Everest – dis mos nou dié seisoen):

Eers moet jy verskeie weke in die basiskamp lê. Dinge uitkyk en gewoond raak aan die omstandighede.

Stadig, stadig klim jy en jou span elke week deur die meesleurende Khumbu-ysval – traplere gespan oor diep, donker gate.

Die mantra is: Klim hoog en slaap laag (dat jou lyf aan die stadig doodgaan van die hoogtes bo seespieël gewoond kan raak, en dan herstel jy meer na onder – by die basiskamp – waar daar meer suurstof is).

En elke week gaan jy ’n bietjie meer dood – maar elke week lewe jy ’n bietjie meer.

Vir sommiges bly die piek altyd buite bereik.

Maar vir ander maak daar ’n “weervenster” oop en alles werk perfek saam (en jy hou jou oog op die Sjerpa-muse):

En, skielik het jy ’n vers …

Johannes Prins



 

Lee Beeslaar: "Androïed – ’n selfportret" en "Enigste I"

 

“Androïed – ’n selfportret”

Toe ek die eerste weergawe van die vers lees, het ek nie getwyfel oor die feit (of die idee) dat ek hier met ’n selfportret te doen het nie – ek dink nie dis nodig om dit in die titel te noem nie.

Met die selfportret dan voorop, is dit vir die skrywer moontlik om meer ekkerig te skryf – nie iets wat noodwending negatief is nie, maar iets wat tricky is om af te pull.

Een van die dinge wat in die eerste weergawe gewerk het en wat myns insiens bygedra het tot die verontmensliking, word hier nou effe ingeboet met die “ek”. Die androïed het so ’n bietjie meer mens begin word …

Die eerste versreël in die derde strofe (“Behou die kragbron deur te funksioneer”) plaas die aksie in die eerste weergawe (“Lewer die verwagte uitsette sodat die kragbron nie ontneem word nie”) tweede. Wat ek bedoel, is: Die rangorde pla my – wat gedoen moet word om die kragbron te verseker. Iets het vir my verlore gegaan in dié ommeswaai.

Twee dinge waarvan ek hou in die nuwe weergawe, is die vorm van die strofes en die enkele woord “Niemens”.

Die strofes se vorm herinner nogal aan ’n rekenaar (die eerste vier reëls die skerm en die onderste, ingekeepte reëls die toetsbord (key board)). En “Niemens” is amper Siemens – die vervaardiger van onder meer rekenaars …

 

“Enigste I”

Toe my vrou dié vers lees, was haar eerste, eerlike reaksie: “Sweet.” Maar die vers het potensiaal om ver verby sweet te beweeg tot iets heelwat meer.

Die “Die sondes van die vadere” laai die vers vir my onnodig melodramaties, maar die idee is tog daar: “Ek wou die skewe griffel van my erfenis / wegkeer van jou blanko lei.”

Ek hou van die “vlinderroering in my lyf” in die eerste strofe, maar die “My liggaam eindelik van waarde” is ek nie so seker van nie. Ook die twee “uite” in die derde versreël van die derde strofe pla – gooi die laaste een dalk weg: “Ek wou dit uit my wese uitskroei.”

Dié vers werk vir my beslis beter as die eerste weergawe en ek’s bly die “ek het in my siel gegrawe” het in die hek geduik. Ook die punt ná “Jy het my nodig” werk. Dis ’n stelling en dan, punt: Dís hoe dit is.

Ek vermoed die vers kan selfs nóg verder gestroop word. Maar, helaas, ek hou baie van die gegewe – werk dalk nog daarmee?


 

René Lötter: "Leksikografie vir ons lyke" en "Aflos oor tydsones"

 

“Leksikografie vir ons lyke”

Dié jongste weergawe is beslis beter as die vorige een, maar waar en hoe die hoofletters gebruik is, is steeds nie vir my heeltemaal funksioneel duidelik nie. Maar die vers vlot beslis heelwat meer.

Die “Nee” wat so op sy/haar eie hang, kan werk, maar die herhaling (en aksente) van die “géén” is dalk iets waaroor jy nog moet gaan dink.

Terloops: Ek weet nie of dit die drukstuk is wat ek gekry het nie, maar dit lyk of daar ’n spasie ná die eerste “Géén” is? Indien wel, hoe funksioneel is dit? En “gimering” is seker net ’n spelfout?

Hoewel ek baie van die idee van die vers hou, weet ek nie of die woord wat jy nou een gemaak het, die “geelgalgmarmer”, die job doen nie. Verder pla die afwesigheid van ’n lidwoord in die laaste versreël my, en dalk ’n “en” – but that’s just me …

Maar jy’s reg: Die heengaan-trooswoorde ís oordadige cliché – totdat jy jouself vang dat jy daarmee in die mond staan …

 

“Aflos oor tydsones”

Yes, ek dink dié ene werk. Heelwat meer as die eerste weergawe.

Ek sou dalk “nou net” in die vierde reël met “pas” vervang, sodat dit lees: “Soos jy aankom waar ek pas vertrek het.” Dis dalk nog meer punchy.

En ek hou van die komma ná die “Ék” in die laaste reël – dit stel die einde lekker uit en maak die oog van die storm nogal heel effektief meer dramaties.


 

Isabelle Nell van Niekerk: "Kortpad" en "In transit"


“Kortpad”

Die nuwe titel werk beter as die vorige een en dié weergawe het ook meer vleis – die narrative word meer ingekleur.

Ek hou steeds van die tekstuur wat jy vasvang met onder meer die “kaias”, “bronstige honde” en “transistormusiek”, maar dalk ’n komma ná “honde” in die tweede strofe? Dus: “aas bronstige honde, / vrouens skud kooigoed uit”.

En raak dalk ontslae van die “af” by “afgewas” in die vierde strofe, sowel as die kommas ná “die besoekers”. Die reël lees dus nou: “seremonieel van die besoekers / uit die plakkerskamp / se voete gewas”.

Die woord “stof” leen hom ook nogal lekker daartoe om verder ontgin te word weens verskeie Bybelse verwysings – oorweeg dit dalk ook.

 

“In transito”

Ek hou van die idee, maar die vers wil nie lekker loskom nie.

Dalk moet jy as reisiger ’n bietjie met die tipografie speel?

gereed
om weg te breek
         uit dié begrensde bestaan
op soek
na ewigheids-deeltjies
gevleg
aan die waarheid
waaroor
die geheim swyg

En ja: Jy wil nogal baie doen met dié vers. Ek dink jy moet nóg gaan lees, nog musiek gaan luister, nog reis …

En dan weer skryf.


 

Isabel Niemand: "'n Winterwind" en "Nagmusiek"


“’n Winterwind”

Ek dink Joan het jou baie goeie raad en ’n baie goeie skelet gegee om mee te werk.

Ek hou baie van die gedeelde landskappe in dié jongste skepping. Die “Transkaroo inwag”, “middagete op Matjiesfontein”, “tee by Kom Kyk Motors op Touwsrivier” …Dié leser is meegevoer.

Dalk moet jy tog gaan met ’n dubbelpunt ná die “terug na jou” in die tweede versreël?

Andersins ’n mooi vers. ’n Vers wat werk.

 

“Nagmusiek”

Soos met “Winterwind” dink ek Joan se skelet en jou afwerking is in die kol.

Net een ding pla my eintlik: Dis nou té opgejazz. Jy begin met jazz en hulle eenheid is soos jazz (so ingewikkeld, ja), en die saksofoon hang teen die einde in die lug.

Ek sou in die middel die “soos jazz” bloot weglaat en net gaan met “hul eenheid (is) ’n teenmelodie”. Die jazz is tog reeds daar?

But I like it!


 

Hilda Smits: "Drogbeelde" en Ongetiteld

 

“Drogbeelde”

“[E]k in die lang nag en tussen die versreëls” – dankie hiervoor …

Dis nou net so ná 02:00, Woensdagoggend. Ál tyd wat ek kry om aan letterkunde te werk, is wanneer my jongste (nou tien maande oud en aan’t tande kry …) slaap. En dit gaan maar wild!

En dan doem jou “Drogbeelde” voor my op, en ek’s weer wakker!

Ek hou van die nuwe titel én die tipografie. Mense sal dikwels vir jou sê dis ’n no‑no, maar ek reken wanneer jy dit uit die vers kan motiveer, dan kan jy dit doen.

Dis ook goed dat jy die reël “hande wat bewend rook teen die lang pad” na “bewend rook teen die impak” verander het – dit werk vir my beter.

En daai laaste reël van jou: “En my mond is ’n diep donker skag. En my tong val soos die reën, so sag.”

Dis beautiful.

 

“Ongetiteld”

Jou verse praat met my – wat kan ek sê?

Publiseer!

;-)


 

Terug na SkryfNet XXV - Poësie