Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXV: Joan Hambidge se tweede verslag


Joan Hambidge - 2010-06-03

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie
Tweede verslag deur Joan Hambidge:

 

Ek het in my eerste verslag etlike tekste voorgeskryf en ’n mantra vir die digter gegee:

  • Dít wat ek wil sê, moet op ’n eerste vlak duidelik wees;
  • daarna kan dit simboliese of komplekse interpretasies oproep;
  • elke woord moet op sy plek wees – gooi oordadige woorde uit;
  • bly weg van vae of gesogte beelde;
  • dig konkreet en span jou sintuie in om ’n abstrakte gedagte oor te dra;
  • jou beelde moet klop – dis wat beeldkongruensie beteken;
  • is my titel ’n sleutel vir en tot my gedig?; en
  • het iemand anders dit al beter en flinker in Afrikaans gedoen? Indien wel, moet ek op daardie gedig verbeter.

Ek gaan nou let op veral oortollige woorde en botsende beelde. Of die groot vyand van die digkuns, naamlik om namens die leser te interpreteer. Die leser moet self die drade vasbind.

Ek volstaan dus met “close reading” om vrae te vra waaraan jy aandag kan gee.

  • Gebruik interpunksie deurgaans. As jy ’n vraag- of uitroepteken in ’n gedig gebruik, moet jy kommas en punte ook gebruik;
  • herskryf ’n gedig totdat die gedig “swing”. Elke woord en beeld moet op sy plek wees;
  • die digkuns is die spel van konkreet dink: Vermy abstraksies soos pyn, liefde en dood sover as wat jy kan en gebruik beelde om ’n emosie te verwoord.
  • Wanneer ek (wat) in ’n gedig sit, moet jy dit konkreet maak. Soos wat? ’n Vergelyking of metafoor (die snelvergelyking) is dan nodig;
  • lees die Afrikaanse digkuns, veral. Gaan kyk wat is reeds gepubliseer en of jy hierop kan verbeter. Jy kan nie net ’n gedig sommer uit jou kop uit skryf nie. Jy moet weet wat is reeds gedoen.

Joan Hambidge



 

Lee Beeslaar: "Androïed – ’n selfportret" en "Enigste I"

 

“Androïed – ’n selfportret”

Dit gebeur ook soms met ’n digter dat die tweede weergawe van ’n gedig ’n verswakking is. Niks hiermee verkeerd nie! Ek dink ’n mens moet dikwels verskillende vorme vir ’n gedig ondersoek totdat die gedig vir jou vertel watter weergawe of vorm die beter een is. ’n Vrye vers moet jy dikwels herskryf as ’n distigon of sonnet en dit weer terugvertaal na die vryeversvorm toe ten einde die gebreke of swakhede van die gedig raak te sien. Dis soos om ’n resepteboek te beproef. Jy probeer verskillende vreemde resepteboeke en dan besluit jy dat jou eie resep tog beter werk. Al het jy dan sommer daardie resep “opgemaak”.
Ek hou meer van die eerste weergawe. Die eksperiment met die vorm werk nie vir my nie. Dis ’n bietjie Tarkastad-hoërskooljaarbladagtig, hierdie inkepings.

 

Androïed

Die spieël kaats brokkies menswees terug
Elektriesblou skerwe in die oë verraai die kortsluiting
In die moederbord
Wis uit die frons, die glimlag
Elke spier moet glad en goed beheers vertoon
Oefen tot geen teken van die elektroniese warboel
In die sentrale prosesseringseenheid ooit
Van buite waargeneem kan word nie
Beveilig met brandmuur en antivirus
Funksioneer
Lewer die verwagte uitsette sodat die kragbron nie ontneem word nie
Pantser die sagte kwesbaarhede
Deur die laaste rudimente van organiese ontroering
Onverbiddelik na die herwinningsblik te verban
Nie-mens tussen mense
Verwonderd oor gewone menswees wat moeiteloos
oorspoel in emosie
Onmenslik vreemd verstrengel in geslote kringbane

“Your system has encountered a serious problem and needs to shut down …”

Gaan terug na die eerste weergawe en skrap “funksioneer” en “rudimente”. (Kry ’n ander begrip hier.)

Verander die slot:

oorspoel in emosie:
onmenslik verstrengel
in kringbane geslote.

 

“Enigste I”

Hierdie gedig is ’n verbetering op die vorige een, maar ek dink jy moet steeds waak teen té veel stelling en te min vers.

“Eindelik” moet eerder “uiteindelik” wees?

Jy gebruik ook die ek te veel. Skryf weg van die ek en laat die beelde vir sigself praat. (Let the metaphors do the walking through the yellow pages.)

“Volbring”? Is dit die regte woord hier?

“Jy’t my voltooi soos wat …”

Anders bly dit ’n blote stelling. Jy moet nou ’n beeld vind om die gevoelens en gedagtes oor te dra.

“Die skewe griffel van my erfenis
wegkeer van jou ongeskryfde lei.”

“Jou ongeskonde hou” – skrap. Die beeld hierbo suggereer dit reeds.

Die strofe “Maar steeds was daar die vrees” is te hoogdrawend. Herskryf in beelde.

Brei nou uit op die idee van die lei – dat geen mens gebore word sonder die “sondes van die vadere” of die genetika nie. Daar kan dus nie so iets as ’n skoon lei wees nie.

En dan die wending: Die kind se behoeftes oorstyg al die vrese en gedagtes.

Toe ek jou die eerste maal kon vashou,
Jou oë helder (soos wat) in myne kyk
En jou mond (soos wat) oor my bors vou,
Vou jy presies in my liggaam in
Of word jy één met my (soos wat)
Die dubbel-heliks van Watson/Crick

Of

Escher se skilderende hande

Of

Kry ’n beeld wat hierdie eenwording so goed verbeeld dat die leser kan sien die moeder is rustig.

Die kind wat uit die moeder beweeg (fisies), beweeg nou psigies terug na haar.


 

René Lötter: "Leksikografie vir ons lyke" en "Aflos oor tydsones"

 

“Leksikografie vir ons lyke”

Skrap die “en” (versreël 3) en “nee” in die gedig – dis onnodig.

Ná “afrodisiak” ’n komma.

“Kom ek vertel jou ’n grap”: die “k” moet ’n hoofletter wees.

Plaas die afwesige se woorde in kursief sodat ons presies kan sien wat die persoon gesê het. Plaas ’n punt ná “weduwee in rou”. Jy moet die interpunksie gebruik.

“Weersinwekkende frase in my taalpurisme”(.) sal beter klink.

Verander die slot:

“Met ’n hand vol gruis,
soekend na ’n eufemisme.”

“Aflos oor tydsones”

Dit is ’n baie interessante gedig wat (nou) ’n sonnet wil word! Hoekom probeer jy dit nie in die sonnetvorm herskryf nie? Só sal jy dan kan agterkom wat oortollig is in die gedig. Jy kan dit weer herskryf of terugskryf na ’n vrye vers toe. Terloops, die vryeversvorm is die moeilikste digvorm vir ’n beginnerdigter om te kies. Jy moet kompenseer met ander dinge soos klank, metrum en sterk beelde om die gedig te laat werk.

“Soos die kabbels van my indring langsamerhand verdwyn” – wat bedoel jy met “indring”?

Die gedig laat my dink aan iemand wat Scrabble speel en langs die bord woorde begin uitwerk voor dit op die bord geplaas word. Jou gedig is nog nie ’n geslaagde gedig nie, omdat die verskillende beelde nog nie by mekaar uitkom nie.

Die gedig is iewers tussen ’n praatvers wat los gestruktureer mag wees en ’n sonnet.

Die jellie het nog nie gestol nie.


 

Isabelle Nell van Niekerk: "Kortpad" en "In transit"


“Kortpad”

Om ’n reël op “van die” te laat eindig, is swak. Jy moet die eindes sterker maak!

Komma ná “bronstige honde”
.
Oppas vir die woord “wat” in ’n gedig – herskryf. Prosa!

Kwaito-beat. Aandagstreep.

Skrap, ná “plakkerskamp”.

Hoekom “short cut”? Is dit funksioneel? Hoekom nie net “kortpad” nie?

Herskryf nog ’n keer; maak meer vaartbelyn. Die gedig het beslis moontlikhede.

 

“In transito”

Is die woord “enorme” die regte woord?

Dalk eerder

“kyk na die tapisserie van dinge
enorm en klein, verweef en verwant”.

“Spiraalarms” eerder een woord?

Herskryf nog ’n keer – maar dis ’n gedig met moontlikhede!


 

Isabel Niemand: "'n Winterwind" en "Nagmusiek"


“’n Winterwind”

Die gedig het nog steeds te veel woorde en jy laat nie genoeg aan die leser se verbeelding oor nie.

Langs die Weskus vandag,
wind waai jou terug,
parfuum en Persiese bloubont serp,
ons gedeelde landskappe genadiglik ver.
Op die platform wag jy my in,
middagete op Matjiesfontein,
tee op Touwsrivier by Kom Kyk Motors.
Jou lag kom terug,
’n terloopse vat aan ’n Delftbord.
Sand waai teen my op,
’n verlate strand: dink
aan ons onbevange saamwees
vóór ons bestraalde tyd.

’n Gedig is nie ’n getuigskrif nie; hierdie gedig staan te na aan die werklike gebeure. Kyk na my aanwysings en werk daarmee. Moenie die siekte vermeld nie; dis nie nodig nie. Die digkuns werk met die krag van suggestie.

 

“Nagmusiek”

“Op ’n heel ander (…) noot” – hier is die metriese patroon versteur. Wenk: Tel die sillabes van ’n gedig sodat die klank en metrum nie versteur word nie. En sê die gedig hardop voor; dan hoor ’n mens die foute.

“Sou hy onder die Magerebrug deur haar hand vashou” – gewoon net prosa.

“Saxofoon”. Vernoem na ’n persoon.

“… bekende bors”.

“Emosies ’n ongenooide klant” (skrap hier; dis logies dat dit hier is).

Ná vraagteken ’n hoofletter: “En …”

Die twee “vir’s” in een reël steur. Wat van:

“Immer” beskore vir ’n vrou soos sy.
Sketterende munte beklink die transaksie:
hy talm op die drumpel.  (Talm is vir ’n oomblik – skrap dus “vir ’n oomblik”)
’n Saksofoon begelei
’n donker gety. (Die ander woorde is onnodig!)


 

Hilda Smits: "Drogbeelde" en Ongetiteld


“Drogbeelde”

Waarom herhaal jy die woord “deins” twee keer? Kry ’n sinoniem.

Stop die gedig by:

“ek in die lang nag en tussen versreëls” – dan is dit sterk!

“En in kliniese …”: kleinletter “n”.

 

“Ongetiteld”

Hier kan ek nie verder help nie.


 

Terug na SkryfNet XXV - Poësie