Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Amsterdam-tafelronde oor Afrikaans: Verslag


Rudolf Stehle - 2010-06-01

Die idee van ’n Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU) het wyd aanklank gevind onder Nederlanders en Vlaminge wat Vrydag die rondetafelkonferensie oor Afrikaans in Amsterdam bygewoon het.

“As ons nie radikaal anders gaan kyk na die konteks waarbinne ons Afrikaans se posisie as wetenskaptaal verseker nie, is dit neusie verby,” het Christo van der Rheede van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) aan die gehoor gesê. Van der Rheede het gesê dat Afrikaans as wetenskaptaal nog té elitisties is. Hy het bygevoeg dat die VAU-projek die beginpunt kan wees van ’n proses om Afrikaans se historiese bagasie finaal te begrawe. “Dink net die ongelooflike moontlikhede wat hierdie idee kan ontsluit,” het hy gesê.

Die konferensie is aangebied deur die Nederlands Zuidafrikaanse Vereniging (NZAV) en bygewoon deur Nederlandse en Vlaamse politici, akademici en kultuurleiers.

Die sprekers was Van der Rheede, Wannie Carstens van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Dorothea van Zyl van die Universiteit Stellenbosch, Kwesi Kwaa Prah van die Centre for Studies of African Society (CASAS), Alana Bailey van Afriforum, Danie Langner van Solidariteit Helpende Hand, Koen Pauli van die Marnixring en Susan van der Rhee van die Hogeschool Ede.

In sy sketsing van die situasie van Afrikaans in 2010 het Carstens die oneffektiwiteit van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) toegeskryf aan die regering se “gebrek aan politieke wil”. Hy het einde verlede jaar se hofbevel insake die Nasionale Talewet beskryf as “een van die belangrikste gebeure die afgelope sestien jaar”. Dié bevel dwing die regering om die Talewet binne twee jaar te implementeer.

Volgens Carstens het die ATR tot stand gekom omdat die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans nie daarin geslaag het om uitvoering te gee aan Afrikaans se grondwetlike regte nie.

Van der Rheede het die gebrek aan selfvertroue onder die Afrikaanse jeug uitgesonder as een van die redes waarom hulle akademies so swak presteer. Die SBA wil die Afrikaanse jeug se selfvertroue aan hulle teruggee. “Dit gaan nie oor die bevordering van bepaalde etniese groepe nie, maar oor die bevordering van veeltaligheid en demokrasie,” het hy gesê. Hy het die gehoor ingelig oor SBA se Projek Skoolsteun, ’n gefokusde leesprogram wat in 50 Afrikaanse Wes-Kaapse skole aangebied word.

Willem Botha het die WAT se Khanya-projek aan die gehoor bekend gestel. Dit behels dat die elektroniese WAT in Afrikaanse skole in die Wes-Kaap gebruik word. As deel van dié projek word onderwysers opgelei in vooraf-uitgewerkte lesplanne wat van die WAT gebruik maak. Die WAT beoog om 1 540 skole teen 2012 in die Wes-Kaap te bereik. Botha het gesê dat die projek die potensiaal het om landswyd toegepas te word.

Dorothea van Zyl het meer vertel oor die Woorde Open Wêrelde (WOW)-inisiatief se verskillende projekaksies wat daarop gemik is om leerders entoesiasties oor leer en lees te maak. Sy het verwys na die groot verskille in geletterdheidsvlakke tussen die Nederlandse en Suid-Afrikaanse jeug en gesê dat Suid-Afrika ’n enorme agterstand het om in te haal. Sy het die gehoor daarop gewys dat geletterdheid noodsaaklik is om in vakke soos wiskunde en wetenskap te presteer.

Danie Langner het gefokus op die toenemende verarming van die wit Afrikaanssprekende gemeenskap. Hy het gesê dat daar te min aandag gegee word aan die maatskaplike aspekte van die taalstryd. Al hoe die Afrikaner-armoedevraagstuk opgelos kan word, is deur die opheffing van Afrikaners deur middel van beroepsopleiding in Afrikaans. Hy het ook gesê dat die behoeftes van Afrikaanse kinders in Afrikaanse kleuterskole afgeskeep word. Hierdie kinders ontvang nie toereikende voeding nie en kleuterskoolonderwysers is dikwels onopgelei. Langner het die drastiese afname in die aantal ambagslui wat die land jaarliks lewer, en die gebrekkige toegang van Afrikaanse studente tot studiebeurse, as verdere knelpunte uitgelig.

Alana Bailey van Afriforum het gesê dat die pro-Afrikaanse protesaksies wat hulle koördineer, dikwels as pro-apartheidsprotesaksies geëtiketteer word. Sy het egter benadruk dat enige protes niegewelddadig moet wees. Die internet is volgens haar ’n baie effektiewe medium vir protes. Afriforum wil ’n webwerf skep wat maatskappye wat in Afrikaans kommunikeer, met gratis reklame beloon. Bailey meen dat die ontwikkeling van die ander nege inheemse tale ontmoedig sal word as Afrikaans sy hoër funksies verloor.

Koen Pauli van die Marnixring het die organisasie se Scholenproject bekend gestel. Die Marnixring is ’n organisasie wat die Nederlandse en Afrikaanse taal en kultuur bevorder. Met die skoleprojek word beoog om korrespondensie via e-pos tussen kinders van 8-9 jaar in Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika te fasiliteer. Die onderskeie kandidate sal in hul eie taal korrespondeer en vooraf van inligting voorsien word oor die land waarmee hulle in verbinding sal tree. Die onderwysers sal die kinders voorberei op hul kennismaking met ’n vreemde taal. Dit sal in Oktober begin. Dana Winner en Stef Bos het reeds hul steun aan die projek toegesê. Die projek kan in die toekoms aanleiding gee tot skooluitruilprogramme tussen die drie lande.

Susan van der Rhee het vertel wat by die Hogeschool Ede gedoen word om Afrikaans te bevorder. Onderwysstudente maak kennis met Afrikaanse jeugliteratuur met die doel om laerskoolkinders daaraan bloot te stel. Sy het ook uitgewei oor reeds bestaande projekte waarin Nederlandse onderwysstudente vir ’n paar maande in minder gegoede Suid-Afrikaanse skole klasgee.

Kwesi Kwaa Prah was verantwoordelik vir ’n boeiende lesing oor die verhouding tussen taal en kultuur in Afrika. Hy het Afrikaans bestempel as een van drie linguistieke wonderwerke die afgelope 100 jaar. Die ander twee is moderne Hebreeus en Bahassa, wat in Indonesië gepraat word. Hy het gesê dat Afrikaans binne 50 jaar ontwikkel het tot ’n intellektuele en wetenskaptaal. “Dít verg hulpbronne en determinasie. Afrika leer nie behoorlik hieruit nie,” het hy gesê. Hy het ook gesê dat Standaardafrikaans van sy eksklusiewe wit karakter bevry moet word. Volgens Prah kan Afrika se 1 125 tale afgeskaal word tot 17 hooftaalgroepe, omdat baie van die sogenaamde tale bloot dialektiese variasies van dieselfde tale is. Ortografieë kan hierdie verskille tussen dialekte harmoniseer. Elke taalgroep sal sodoende 50 miljoen sprekers hê, wat dit ekonomies lewensvatbaar sal maak. Dit moet egter ook wetenskaplik gesofistikeerd wees. Prah en sy span het reeds skoolboeke wat op nuwe ortografieë gebaseer is, aan vier Afrika-lande gelewer. Prah het gesê dat Suid-Afrika se elf tale deur middel van ortografieë tot slegs vier tale afgeskaal kan word, naamlik Engels, Afrikaans, Nguni en Sotho/Tswana.

Een van die organiseerders van die konferensie, Joris Cornelissen van die NZAV, het aan die einde bekend gemaak dat ’n Afrikaanse fees vir April aanstaande jaar beplan word, maar finansiering word nog benodig.

Wannie Carstens het ten slotte benadruk dat die doel met die konferensie is om praktiese projekte van stapel te stuur en het die gehoor aangemoedig om daadwerklik betrokke te raak by die inisiatiewe wat aan die gang is.