Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Manuel, die vlees en die koningin van die see


Francois Loots - 2010-05-27

Vir André

Ek skrik gedurende die nag wakker, kom op die rand van die bed gesit en dit voel my of ek van bo af op my neerkyk: sittend op die rand van die bed, met die heupe en kruis wat enige Griekse god jaloers sou maak.

In der waarheid lyk ek hoegenaamd nie só nie. Maar hoe ek ook al mog lyk, skeel my tans min en ek staan op en mik vir die drankkabinet in die sitkamer. Ek skink ’n helse groot glas whiskey, neem ’n ewe groot sluk, voel hoe dit keelaf brand en bevind my ’n oomblik later voor die sitkamervenster.

Daar’s nie ’n maan in sig nie, die see strek haar donker uit en ek wonder of sy ooit slaap. Sy, die koningin van die see: Sy wat gee en neem, gee en neem en tydens hooggety genadeloos kom plunder.

Ek drink die glas met een groot sluk leeg, slaap daarna goed en bel vroegoggend my dokter. Gelukkig ken ons mekaar al jare en hoef ek nie doekies om te draai nie.

“Die kondoom het gebreek,” vertel ek hom. “Ek het dit eers ná die tyd agtergekom en het geen idee hoe lank ek ...”

Ek voel lomp met my woorde en sug swaarmoedig.

“Kom sien my op pad werk toe,” gebied hy.

“Ek het ’n dom ding gedoen,” bieg ek wanneer ek ’n ruk later op die doktersbedjie lê terwyl hy bloed trek.

“Nie noodwendig nie,” sê hy. “Jy het mos ’n kondoom gebruik.”

“So dit was maar net ’n klein ongelukkie?”

“Ek sal nie ’n kans vat nie,” sê hy en ek probeer my wysmaak dat die ongemaklike stilte wat op hierdie stelling volg, maar net my verbeelding is.

“En die ou saam met wie jy was?” vra hy wanneer ons oomblikke later by sy lessenaar teenoor mekaar sit.

Ek bloos opeens. ’n Donker en feitlik leë parkeerplek en ’n vragmotorbestuurder wat ek nie eers by die naam ken of oormôre sal kan uitken nie.

“En die pille?” vra ek hom om my verbouereerdheid weg te praat.

’n Retrovirale middel vir ’n maand lank, lê hy my oombliklike toekoms vir my uit. Daarna ’n maand se wag voordat ’n tweede bloedtoets volg.

Op pad apteek toe spook sy vraag nog steeds by my. Dié ou – hy was ’n bietjie ouer as ek, sy hare lig van kleur en alhoewel vragmotorbestuurder, het sy skouers en rug my vir ’n oomblik lank aan dié van ’n roeier laat dink – en sou ek die virus aan hom kon oordra? Want nadat hý uitgetrek het, was daar ander. Die week het skaars begin en ek voel of ek in die donker rondtas. Ek doen tog nie lelike goed nie. Ek is volwasse, versigtig, vernuftig. Ek het ’n werk, ’n woonstel, ’n motor en geen skuld nie. Maar hoekom kan ek nie eens die apteker in die oë kyk wanneer hy my die pille gee nie?

Ek mik vir die eerste die beste koffiekroeg. Oor ’n dubbel-espresso sit en staar ek verbysterd na die pille se ellelange lys newe-effekte, drink verbete die eerste ene en haas my werk toe.

Vanessa wag my ongeduldig op kantoor in.

“Ons kan ’n helse groot kontrak kry,” vertel sy my. “Maar ek weet nie so mooi nie.”

“Ek het ’n uitdaging nodig,” besluit ek op die ingewing van die oomblik en spring onmiddellik aan die werk, want ek is nie soos die beelde wat opeens by my spook nie. Laat nagte, effens besope, halsoorkop, vreemdelinge, die reuk van poppers en uppers en sy rug, sy heupe, sy boude. Wanneer ek moeg raak, loop ek ’n paar draaie deur ons kantore of gaan spoel my gesig af, want koffie wil nie die ding doen nie. My maag is omgekrap en ek voel aptytloos. Laatmiddag gaan koop ek Bulgaarse jogurt; daarna gaan dit beter en Vanessa maak my die volgende oggend wakker.

“Ek het ver gekom,” mompel ek en staan van die kantoor se vloer af op. Ek gaan spoel my gesig in die badkamer af en maak koffie. Terug in my kantoor is sy en Trevor, haar man, besig om die nag se werk te bekyk.

Hy’s al weer knorrig, maar sy’s tevrede en ek spring weer aan die werk. ’n Ruk later kom vertel sy my dat sy vir my vir ’n maand lank ’n kamer in ’n hotel straataf bespreek het, maar vra dat ek nie Trevor daarvan moet vertel nie. Ek knik en erken aan myself dat ek verlig voel, maar wil nie die rede hiervoor weet nie. Werk liewers, maar wanneer ek in die loop van die middag na my woonstel toe gaan om die nodigste te pak, gaan ek eers by die kerk om.

Bieg was nog nooit my sterk punt nie, maar vandag is ek bly dat ek ’n Katoliek is. Of ek dit so wou hê of nie – daar was ander mans. Mans met ligte hare en mans met donker hare, met ’n slank of gespierde rug, met nou of breë heupe, met ferm boude, breë agterstewe, ’n plat sitvlak of raakvatstêre in ’n donker gang, op ’n brandtrap, in ’n donker kamer, op ’n feitlik verlate parkeerplek. Ek struikel ’n paar keer oor my woorde; ek aarsel wanneer ek aan daardie vragmotor se bestuurder dink, maar ek kry dit reg. Ek vertel iemand. Daarna voel ek beter en wanneer ek by die kerk uitloop, voel die oortrokke winterlug nie meer so somber nie.

Tuis gaan ek vinnig te werk. Tog verpoos ek ’n hele rukkie voor die geverfde houtbeeld van Christus wat my ouma my jare gelede gegee het. Hy het lang swart hare, ’n baard en dra ’n groen en rooiblou toga.

“Ek kan nie hier bly nie,” murmel ek binnesmonds wanneer ek van dié beeld af wegdraai. “Ek kan nie vir twee maande lank hier sit en wonder wie ek werklik is en my boonop die allervreeslikste goed sit en verbeel nie.”

Goddank vir kil en onpersoonlike hotelkamers. Wanneer ek laatnag daar opdaag, is die kamer opgeruim en die bed opgemaak en soggens is ek vroeg op kantoor. Ek werk lang ure, maar ná twee weke hou ek op verskonings maak en ontmoet my vriende vir ’n drankie.

Gerhard is verlief – al weer! Ek speel saam, al is dit nie my gunstelinggesprekstema nie – al maande lank nie – terwyl Johannes ons vertel dat hy bevorder is. Een drankie raak ’n hele paar, alhoewel Danie se nuus nie goed is nie. Weens moeilike tye op kantoor werk hulle nou net halfdag en hy’s bekommerd oor die paaiemente op sy motor. Op my beurt vertel ek hulle van my sewedaeweek, maar ten spyte van die drank oorweeg ek dit nie eens om hulle meer te vertel nie. Daarvoor was bieg voldoende, terwyl my hotelkamer my tyd gun.

Waarvoor weet ek nie presies nie, maar ek gaan laai my pa een Sondag by die ouetehuis op en ry met hom Wellington toe. Ek was ’n laatlammetjie en is ’n enigste kind, maar wanneer ons by die familiegrafte is, berou ek die besluit om soontoe te gaan. ’n Warm gloed vee deur my en my voorouers dans om die grafte, maar ek wil lewe en draai van hulle af weg.

Goddank vir ’n kil hotelkamer, met my verblyf wat teen maandeinde vir ’n paar dae verleng word, maar met die groot kontrak ten einde, is ek verplig om my goed te pak en terug huis toe te gaan. Terwyl ek pak, aarsel ek ’n oomblik lank voor die spieël. Ná ’n maand van aptytloosheid en Bulgaarse jogurt het ek gewig verloor. Waar gewigsverlies mense gewoonlik goed laat voel, pak ek tuis lusteloos my goed uit en opeens voel alles vir my een te veel. Die een oomblik staan ek voor die venster na die see en kyk, kwaad omdat sy hom teruggevat het; die volgende oomblik staan en klou ek aan my ouma se houtbeeldjie en wonder wat de hel die liefde eintlik is.

Om nie my aande alleen deur te bring en eindeloos te sit en tob nie, gaan ek uit. Ek gaan kyk ’n Franse fliek, nooi Gerhard na ’n teateropvoering toe en hoor hoe ’n moeilike kalant sy nuwe liefde uitgedraai het. Ek gaan eet in Houtbaai saam met Johannes en hoor hoe sy bevordering hom nogal laat sweet. Ek gaan kyk een Saterdag na ’n string kunsgalerye en gee aan elke bedelaar wat my in hulle visier kry.

En op ’n Sondag ry ek alleen Wellington toe en gaan sit lank by my ma se graf. Ek kan jou wel op ’n foto uitken, vertel ek haar. Maar omdat jy kort ná my geboorte op vier-en-dertigjarige ouderdom gesterf het, het ek jou nooit leer ken nie. Ouma was ook nie meer ’n kind nie en ek moes vroeg leer huishou. Maar ek kla nie. Inteendeel; ek is maar net vier-en-dertig en ek wil lewe.

Omdat ek nie altyd van die huis af kan weghardloop nie, kook ek die daaropvolgende week ’n groot pot gegeurde Maleisiese sop en nooi my vriende oor vir ete. Johannes vertel dat hy sy nuwe pligte begin baasraak, Gerhard se liefde het toe nie uitgewerk nie, maar hy het reeds ’n ander man in sy visier, terwyl Danie stil is en bekommerd voorkom. Ons vermy almal enige noem van sy werk, praat nie oor paaiemente nie en op my beurt vertel ek hulle dat Trevor en Vanessa deesdae soos kat en muis baklei. Ek besluit net daar om ’n plan te maak en boonop in die daaropvolgende dae sonder Gerhard se medewete in sy sake rond te snuffel. En ten spyte van dae se gure winterweer, neem ek my pa weer ’n slag na sy geliefde Kirstenbosch toe. Ek skryf ’n tjek uit vir die ouetehuis wanneer hulle my vra en op kantoor vertel ek Vanessa dat Trevor glo dat sy reg het, maar ook erkenning wil hê vir sy aandeel aan hulle sukses. Ek vertel hom presies dieselfde en oorweeg dit glad om solank geskenke te koop vir Kersfees. Ek gaan loop in winkelsentrums rond, maar wanneer ek my in ’n gayplek bevind, voel ek onrustig. Die een man kom my meer aantrekliker voor as die ander, maar die koningin van die see is genadeloos. Sy pluk weg en sleur mee, haar getye vee skoon en laat jou nakend agter en dan gryp jy na enigiemand. Buitendien wil ek eers weet wie en wat ek is.

Danie daag ’n paar aande later by my op.

“Is jy lief vir my?” vra hy omdat ek ’n paar maande se paaiemente vir sy motor betaal het.

Ek voel verbouereerd, kry skaars ’n woord geuiter, maar vra hom om saam met my ’n fliek te gaan kyk. Daardie nag slaap ek egter onrustig en vroegoggend raak ek wakker met die wete dat die tyd gevlieg het. Ek probeer om nie daaraan te dink nie, maar wanneer ek op kantoor vir Vanessa en Trevor in die allervurigste omhelsing betrap, voel dit of ek nie raad of rigting het nie. Ek mompel iets, strompel effens verward terug na my kantoor toe en gaan deur die loop van die middag op die ingewing van die oomblik terug konfessie toe.

“Ek weet nie wat liefde is nie,” bieg ek.

“Die liefde?”

“Ek het ’n ruk lank saam met ’n geskeide man gebly,” vertel ek. “Maar nadat sy tienerseun siek geword het, het hy teruggetrek na sy gesin toe. Maar dis nie dít nie.”

“Nie dít nie?”

“Dis net dat ek partykeer God se liefde aan die uitslag van ’n bloedtoets wil meet.”

“Jy’s menslik,” vertel hy my. “Ons doen dit almal. Meet God se liefde aan ons behoeftes.”

Goddank ek is Katoliek en wanneer ek uit die kerk stap, verbaas die helder winterlig my. Ek leun ’n rukkie teen die kerk se klipmuur en op kantoor deel Vanessa my mee dat sy weer ’n uitdaging vir my het.

Ek voel verplig om opgewonde te klink, maar vertel haar dat ek nie weer in die hotel sal bly nie. Met ’n tweede bloedtoets om die draai voel ek te broos daarvoor en ’n paar dae later sit ek laatnag lank na die see en staar, terwyl my oë telkens teen die hemelruim op vee.

Die volgende oggend koop ek ’n bos blomme en gaan see toe. Die lug is oop en die water is kalm. Klein brandertjies breek en trek van die land af terug, breek en trek terug; onophoudelik trek hulle terug. Ek staan ’n ruk lank na hulle en kyk voordat ek my offerande met ’n wye boog in die see gooi. Vir ’n paar oomblikke lank staan en kyk ek nog hoe die blomme hulle helder kleure oor seegroen oopsprei.