Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

“Op die pad wat jy maak, ry jy self” – Lina Spies lees Christine Barkhuizen-Le Roux se Padmaker


Lina Spies - 2010-05-27


Titel: Padmaker
Skrywer: Christine Barkhuizen–Le Roux:
Uitgewer: Human en Rousseau, Kaapstad
Prys: R195
Bladsye: 352
ISBN:
9780798150965

Klik hier om Padmaker by Kalahari.net te koop!






Christine Barkhuizen-Le Roux se debuutroman Padmaker plaas die leser onmiddellik binne die handelingsverloop. Daar is geen lang beskrywende inleidings wat op woordspel konsentreer voordat die leser uiteindelik deur die personasies en wat met hulle gebeur, geboei word nie. Die inleidende paragraaf van die eerste hoofstuk lui:

’n Padmaker is nie ’n mens nie, hy trap net ’n spoor van ’n mens. Die woorde wat sy as sewejarige kind van agter ’n winkelrak gehoor het, rol deur haar kop; dit sing saam met die wiele op die teer op pad na die woestyn. Halfwoestyn, langs die Oranjerivier, daar waar haar eerste onthou lê. (9)

Daar word ná hierdie inleidingsparagraaf na die onmiddellike verlede terugbeweeg: die afskeid wat die verteller – wat ons eers later by name leer ken – neem van haar tannie Ousus, wat haar ’n koffertjie gee met enkele besittings van haar ma, wat soek is, daarin. Die spanning is dus dadelik gewek, maar die leser is ook reeds in die inleiding gewaarsku dat die reis van Katrien ’n ander doelstelling het as om haar ma op te spoor: “Tannie Ousus het aangeneem sy gaan haar soek, en sy het haar dit maar laat glo. Watter kind sou nie ’n ma wat weg is, gaan soek nie?” (9). Katrien se reis langs die plekke waar sy grootgeword het, is ’n herinneringsreis wat ten diepste ’n ondersoek is na wat haar, as kind wat in ’n padkamp grootgeword het, die mens gemaak het wat sy is.

Die naam Katrien resoneer met die naam van die skrywer, Christine, en die boek is opgedra aan Carli, ’n naam wat op sy beurt met Juli, die naam van Katrien se dogter, resoneer; in haar verbeelding die reisgenoot op die sitplek langs haar in die motor met wie sy soms in haar gedagtes praat. Die roman is, soos dikwels die geval is, ’n spel tussen die fiksionele en die outobiografiese. Waarheid en fiksie is in die roman kennelik só nou met mekaar verbonde dat die leser die fiktiewe momente, omrede hulle opmerklike verwysing na die werklikheid, nie kan identifiseer nie; maar die boek lees nogtans ten regte as ’n roman en nie ’n outobiografie nie.

Teen haar aanvanklike bewuste bedoeling in word Katrien se reis tog ’n reis na haar ma soos wat sy haar van plek tot plek waar hulle gewoon het, in herinnering roep. Sy reis met die onderliggende besef dat om insig in haar ma te verkry, haar uiteindelike heelwording en finale selfbevryding sal beteken, en veral ook haar identiteit sal bevestig, want elke mens erf sy invloedrykste gene van sy ouers en word gevorm deur hulle agtergronde en identiteite, wat op hulle beurt geneties geërf is. Die letterlike pad wat vir Katrien alreeds besondere betekenis het, omdat haar pa ’n padmaker was, word ’n metafoor vir dié tema: Onderweg na Middelburg lyk die grootpad soos ’n “fietsband wat gelap is” en Katrien onthou haar pa se woorde dat die vernietiging van die teerblad die “groot lorries se werk is” waaraan hy soos dikwels ’n lewenswaarheid verbind het: “So is dit maar, as jy iets wil heelmaak, is daar ’n deel wat soms eers nog verder stukkend breek” (98).

Die plekke wat Katrien aandoen – aangedui op die padkaart voorin die boek – verteenwoordig die reis wat haar voer deur die Karoo en die Oos-Kaap en via die Boland na die Klein Karoo en terug na die Boland. Dis ’n reis waartydens landskappe deur Katrien se sintuiglike waarneming in aansyn geroep word en ’n groot stuk Suid-Afrika gestalte vind. Die sensitiewe natuurbeskrywings – waarin die digter Barkhuizen-Le Roux herkenbaar is – sorg vir ’n balans tussen die werklike reis van Katrien wat gepaard gaan met haar introspeksie. Die natuur is op meer as een manier ’n medespeler in die verhaal. Dit verskaf vir Katrien onder andere skoonheidstroos wanneer onaangename of skokkende herinneringe by haar gewek word:

Na Middelburg se kant toe begin die populiere; lang, smal, regop bome wat soos kersvlamme boontoe brand. Onverwags staan daar ’n klompie, sowat dertig of meer, blou kraanvoëls anderkant die rye garingbome teen die draad. Die kleure is so mooi dat sy stilhou en ’n foto neem. (98)

Dié beskrywende element versteur nie die epiese gang van die verhaal nie, maar sluit naatloos daarby aan. Die opnoem van plekname word ’n liriese refrein waarvan die volgende sitate enkele voorbeelde is:

Klippunt. Kalksloot.
Kameelmond.

Muishondrivier. Swartberg.
Blindefontein.

Moedverloor. Bitterfontein.

Katrien se reis is ook Christine Barkhuizen-Le Roux se reis deur die Afrikaanse taal. Die persoonlike Katrien/Christine-verhaal word die groter geskiedenis van mense wat dorpe aangelê en name gegee het en wat hierdie plekke deur paaie aan mekaar verbind het en so ’n land geskep het. Dit word ’n huldiging van padmakers se bydrae tot die vestiging van ’n beskawing.

Die verhaal word nie ’n eensydige stuk Afrikanergeskiedenis nie, al verskuif die klem na die Afrikaner. Tydens die verblyf op Queenstown vertel Japie Badenhorst aan sy oudste kind, sy seun Oubie, en sy oudste dogter Katrien, dat baie van die nasate van die Engelse wat vir hulle ’n “blyplek” in die Oos-Kaap kom maak het, op die Paaie kom werk het en vervolg:

“... maar heelparty van die padmakers daardie tyd was ook maar boeremense wat hulle grond verloor het ná die Boere-oorlog; baie soldate wat ter wille van ons mense gaan veg het, het aan hulle goed skade gely. Hulle grond was weg, hulle geld was op, hulle trots was tot niet. Die families was uitmekaar. So loop ’n ding geslagte lank voordat jy weer iets kan word, êrens kan uitkom. Maar hier op die Paaie, hier het ons weer deel geword van ’n nuwe familie.” (171–2)

Katrien is geborge in haar pa. Sy het as kind ’n angs vir swart mense wat in meerdere episodes tot uitdrukking kom. Die angs word geïntensiveer deur die aanval van die Poqo’s met pangas op die blankes in Queenstown. As die buurman die berig bring dat die Poqo’s op die stasie van die trein afgespring het, hardloop sy onmiddellik na haar pa wat haar optel en verseker: “Toemaar, Katrien, Pappa sal sorg dat julle veilig is, hoor. Altyd” (109). Tydens die Poqo-aanval kon haar pa, ’n baas-skut, nie skiet toe hy die swart man Jackson in sy visier gehad het saam met wie hy gewerk en letterlik sy brood gedeel het nie, en sy vriend moes die skoot aftrek wat waarskynlik hulle lewens gered het. Eers op haar reis hoor Katrien dié verhaal en die verwyt dat omdat haar pa sy vriend verplig het om te skiet, hy indirek verantwoordelik gehou is vir sy latere selfmoord. Om op jou kinderspore terug te loop, is om kennis te bekom – soos in hierdie geval – waar onkunde genadiger sou gewees het.

Die titel Padwerker verwys op die verhaalvlak na Katrien se pa wat sy nederige werk met trots en toewyding verrig het. Die roman is ’n huldiging van die geliefde vader, maar op aweregse wyse ook ’n huldiging van die ongeliefde moeder. Wanneer Katrien na haar eerste oornagting op Springbok haar koffiebeker skoon uitspoel en Juli in haar gedagtes hoor sê: “Genade, Ma ... Ma betaal mos”, dink sy: “Jy kan nie weet hoe dit was nie. Die smal paadjie is vir my nie met palmtakke nie, maar met witgebleikte doeke uitgelê; ’n voet mag daarop nie ’n stofspoor getrap het nie” (34). In hierdie metafoor word die hele ma-dogter-verhouding soos wat dit in die verhaal ontwikkel, saamgevat: ’n dogter wat altyd gevoel het sy skiet te kort om – soos veral haar ouer broer – haar ma se goedkeuring weg te dra. Maar die pad sonder lof wat uitgelê was met “witgebleikte doeke” roep ook ’n ma in herinnering wat verbete bo haar milieu probeer uitstyg het deur onder meer ’n obsessiewe netheid.

 “Hoe word ’n mens gereduseer van ’n Ierse skoonheid tot ’n wasvrou?”, wonder Katrien by geleentheid (65). Barkhuizen-Le Roux se vermoë om deur metafore die karakter van haar personasies te verbeeld, stel die leser in staat om agter doodgewone, nugtere konstaterings die mens te herken: “Elke middag sit sy eenkant op ’n stoel en kyk hoe skrop haar ma die tafelblad af sodat dit skoon bly.” Langsamer­hand daag by Katrien die besef wat die sin van haar ma se obsessiewe netheid was – dat dit meer beteken het as om sindelik te wees – maar dit bevry haar nie van die wete van wat sy desnieteenstaande gemis het nie; demonstratiewe moederliefde:

My kop sê ek onthou van die “goed” wat sy gedoen het. Van die skoon klere, van die netjiese huis, die mooi maniere wat ons ten alle koste moes hê. Van die aanmoediging, die druk om goed te vaar op skool en daarna. My hart sê ek wou haar gekén het; wou op haar skoot kon sit. Ek wou haar lyf van naby af kon ruik. (255)

Dit is egter nie net die gemis aan haar ma se liefde – wat Katrien haar wel sien betoon het aan haar oogappel Oubie en in ’n mindere mate aan haar jongste dogtertjie Lenie – wat verantwoordelik is vir die vervreemding tussen Katrien en haar ma nie. Selfs ’n groter rede vir die vervreemding is dat haar ma se reaksie op konflik en spanning was om siek te word of om te weier om mee te doen aan familie­uitstappies. Alhoewel nie bewustelik nie, is dit natuurlik ’n manier om diegene wat verantwoordelik gehou word vir die onenigheid en spanning – dikwels onregverdiglik – skuldig te laat voel en om simpatie vir haarself te wek. Barkhuizen-Le Roux se optekening van hierdie insidente oortuig die leser op skrynende wyse van die vernietigende effek wat dit op ’n hipersensitiewe kind het.

Die verskynsel wat gepaard gaan met siektetoestande wat onmiddellik onder die geringste provokasie by die moeder manifesteer, is dat sy haar liefde vir die kind net konkreet kan bewys wanneer die kind siek is, soos met Katrien se mangeloperasie. Die siekte-episodes keer voortdurend in Katrien se herinnering terug. Op Barrydale, die eindpunt van haar reis, onthou sy haar aankondiging tuis dat sy definitief nie soos haar ma begeer het, in die medisyne gaan studeer nie. Die herinnering aan haar ma se teleurstelling is terselfdertyd Katrien se konfrontasie met die kernoorsaak van haar vervreemding van haar ma:

Die reuk van medisyne, wat haar vroeër herinner het aan hoe sorgsaam haar ma by haar bed gesit het destyds met die breinvliesontsteking, het ’n weersin in haar begin wek, ’n afkeer van die donker huiskamer. ’n Woede teen hospitaalbeddens en dokters en operasies. (311–12)

Die voltooiing van Katrien se reis is dat sy wel in die voorlaaste hoofstuk willens en wetens na haar ma gaan soek wanneer haar suster bel en sê dat hulle ma êrens in Pinelands is. Deurdat sy ’n telefoonoproep van ’n vrou in ’n Pinelandse versorgingsoord gehad het, skakel sy dié nommer, wat sy op haar selfoon bewaar het. Op haar laaste stukkie reis na die versorgingsoord is Katrien deurentyd in ’n gedagtegesprek gewikkel met Elena la Grange van die versorgings­oord, maar ten diepste is dit ’n gesprek met haarself oor haar ma. Sy het by Elena verneem dat haar ma asof uit die niet verskyn het onder die indruk dat die versorgingsoord nog die Conradie Hospitaal was, maar dat hulle haar nogtans opgeneem het, waarna sy gou rustig en tevrede geword het. Die opmerking van Elena dat haar ma ’n “baie verwikkelde persoonlikheid” het, laat Katrien se woede opvlam en sy antwoord: “My ma is ’n siek mens. Baie sieker as wat ons, of sy, ooit geweet het. Ek kom vanmiddag nog.”

Op haar laaste kort reis maak Katrien deur introspeksie vrede met haar ma. Sy kom op grond van haar kommunikasie met die psigiater wat sy geraadpleeg het – ’n onderdeel van haar psigiese reis – tot die slotsom dat haar ma aan ’n diagnoseerbare afwyking ly: die Munchausen-sindroom. Dit is ’n diagnose wat sy klaarblyklik aanvaar soos blyk uit die vraag wat sy haarself stel oor haar broer en suster se reaksie daarop: “Wat sal Oubie en Lenie se reaksie wees as sy hulle vertel van Henry se diagnose?” (327). Sy voel haarself bevry van die jare lange veroordeling van haar ma: “Hoe kan sy oordeel oor die feit dat haar ma veiliger gevoel het tussen die kliniese mure van hospitale?” (325). “Veiliger” beteken ook binne die konteks van Ma-Kinnie se lewe “meer gekoester”, veral ook deur die wegneem van fisieke pyn wat ’n positiewe psigologiese effek het. Die bewuste fingering van tekens en simptome van siekte en/of pyn word vir Kinnie ’n geykte aanpassingsmeganisme wat, as dit perke oorskry, die gesinslede negatief affekteer, soos wel in die roman gebeur, en inderdaad as ’n psigologies versteuring (“factitious disorder”) gediagnoseer kan word.

Hoe en waar Katrien haar ma uiteindelik in die nag per ambulans vind, is in vaagheid gehul; die suggestie is dat haar ma weer haar toevlug tot ’n hospitaal geneem het waar sy as twaalfjarige die eerste keer die liefdevolle behandeling vir ’n gebarste oortrom van ’n dokter ervaar het. Die laaste twee hoofstukke is vir my as leser in meerdere opsigte ongeloofwaardig: die vind van die ma, maar ook die botsing met die verpleër, Elena, op wie Katrien haar skuldgevoel oor haar ma en haar woede oor haar verdwyning botvier. Dat Elena haar ma volgens Katrien kwansuis vir waarneming daar gehou het omdat sy ’n tante met dieselfde sindroom gehad het, is darem net te vergesog. Maar ook die versoening met die ma aan die slot oortuig my nie. Moeder en dogter bring die res van die nag in een van die Albatross-woonstelle deur. Die deernis van die dogter vir die ma wat nou as ’n ou verskrompelde vroutjie weer die twaalfjarige dogtertjie geword het met die vuurwarm pen in haar oortrom, oortuig my wel, maar as dié patetiese figuur bely dat sy ook deur die geliefde dokter misbruik is, dink ek: dis te dik vir ’n daalder.

Katrien se verhaal is in ’n hoë mate die verhaal van die lelike eendjie soos wat Clarissa Pinkola Estés dit oorvertel in Women Who Run With the Wolves, ’n boek wat Barkhuizen-Le Roux in haar literatuurlys noem. Katrien is anders: sy is ’n eenkant-kind en daarom kan haar ma – anders as wat sy waarskynlik wou – haar nie aanvaar nie. Die ma herken die “swaan” in haar kind sonder plesier omdat sy soos ’n “eend” behoort te lyk. Die beeld van Katrien se ma is wat Pinkola Estés noem die moeder wat “ineenstort”, die ma-eend wat haar “lelike eendjie” wil beskerm, maar dit nie kan doen nie: “When a mother collapses pscyhologically, it means she has lost her sense of herself.” Die ma se innerlike ineenstorting belet haar om bo die groter gemeenskap se meerderwaardige beskouing van padwerkers uit te styg. Daar is haar vernederende ervaring wanneer die verkoopsdame in ’n winkel aanvanklik voorstel dat sy ’n rok wat sy bewonder, eers op sig moet neem en dan die voorstel terugtrek as Kinnie nie ’n adres kan verskaf nie, omdat ’n padkamp nie strate met nommers het nie.

Soos duidelik uit die Katrien-karakter blyk, is sy in sommige opsigte wankelrig omtrent haar eie waarde, maar sy doen presies wat Pinkola Estés sê ’n dogter met ’n “collapsed mother” moet doen om haarself te word: “[S]he must have a start on some heroic qualities herself. She must be able, like the heroines of myths, to find and obtain these qualities, if they are not allowed, to shelter them, unleash them at the right time, and stand for herself and what she believes.” In ’n droom sien Katrien haarself as kind met grond en klippies ’n pad maak: “Ek is ’n padmaker, sê sy tevrede vir haarself. Ek kan ’n pad maak soos my pa.”

Dit is presies wat Katrien/Christine gedoen het: die dogtertjie met die gekwelde gesiggie en met die strik in die wit haartjies op die voorblad het die mooi jong vrou op die agterblad geword. Hierdie vrou, geraam deur die ondergaande son wat haar gesig aan die regterkant verlig, met Florence, die stad van die kunste, op die agtergrond, kyk die leser reguit, selfversekerd en glimlaggend aan. Die enigste versoening wat moontlik is tussen so ’n vrou en een wat innerlik inmekaar gestort het en letterlik gebreek is in die motorongeluk waarin haar man gesterf het, is die deernis van die kant van die dogter. Aan die einde van die boek tel Katrien die “benerige lyf” van die “kind-vrou” wat haar ma is op om haar “te dra oor ’n pad wat nog lank is, en steil”. Ironies genoeg hou Katrien dieselfde ma in haar arms as dié een deur wie sy “gely en oor getob het” (324) en wat nou van háár ook kry wat sy altyd van al haar gesinslede wou gehad het: die liefdevolle aandag vir ’n sieke. “Dis te laat, Ma-Kinnie” het Katrien al vroeg op haar reis besluit (25). Vir ’n ware versoening tussen ’n moeder en dogter binne ’n volwaardige medemenslike verhouding is dit inderdaad te laat. Wat in Katrien oor jare heen gebreek is, kan, anders as die gelapte teerpad, nie so maklik heel gemaak word vir haar verdere reis nie.

Ondanks my kritiek op wat ek beskou as die manipulasie van die slot tot ’n min of meer gelukkige einde en die motiewe wat nie tot hulle konsekwensies ontwikkel word nie, in besonder Katrien se verhouding met haar man Sebastiaan en haar dogter Juli, is Padmaker meer as net ’n verdienstelike roman. Dit is ’n boeiende verhaal wat ontroerend en uitstekend vertel word. Ek wil my verstout om te sê dat dit die Eugène Marais-prys verdien.



American Psychiatric Association. 2000. Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders: Text Revision. Arlington, Virginia: American Psychiatric Association.

Estés, Clarissa Pinkola. 1992. Women Who Run With the Wolves. Londen: Rider.