Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die visserman


Francois Loots - 2010-05-18

“Kyk,” sê Sannie en trek haar rok op en haar broek af.

Ek is uit die veld geslaan, maar buk, net soos sy ’n oomblik gelede voor my gebuk het. En ek voel opgewonde; ek kry dieselfde gevoel as wanneer ek ’n nuwe boek oopmaak. Sus en Daan. Die kinders van die wêreld. Of Arabiese nagte, waaruit Ma soms vir my voorlees.

Ek lig my hand op, maar Sannie trek meteens haar broek op, laat haar rok val, draai om en hardloop by die boorde agter die kombuis in.

“Vang my!” skree sy. “Maar tel eers tot by tien!”

Ek sit my hande voor my oë en begin hardop tel. “Een, twee, drie, vier ...”

“Kom.” Dis Pa se stem en sy hand lê op my skouer. “Ons ry nou,” sê hy met ’n stem wat geen teëpraat duld nie.

“Maar wat van Sannie?” vra ek nogtans.

Hy versterk sy greep en druk my voor hom uit, by die kombuisdeur in en deur oom Johannes se huis. Hy’s ’n belangrike oom, want hy’s die dorp se burgemeester. Wanneer ons deur die groot voorkamer loop, is die grootmense doodstil en my oë kom op oom Stoffel s’n te ruste.

Hy’s belangriker as sy broer, Johannes, want hy’s ’n minister se sekretaris. Hy kyk kwaai na my terwyl ek aan Sannie dink.

Ma en Pa is stil wanneer ons die dorp uit ry. Die pad plaas toe lê voor, maar ek bly Sannie in my geestesoog sien. Kyk, sê sy. En ek buk en kyk, wil my hand ook uitsteek, maar dan hoor ek Pa se stem.

Ma antwoord hom, maar hulle praat Engels. Hulle praat net Engels as dit oor ’n belangrike saak gaan en hulle nie wil hê ek moet verstaan nie. Maar ek is nie dom nie. ’n “Minister” is ’n minister, ’n “party” is ’n partytjie, ’n “fisher” is ’n visserman, ’n “Afrikaner” is een van Pa se beeste. En ’n “sister” is Ma se suster, tannie Joe.

Ek hou van haar. Sy werk in ’n klerefabriek in Kaapstad en wanneer sy kom kuier, bring sy altyd vir my ’n hemp en ’n broek saam. Sy rook, vloek soms hardop en sit saans lank met Ma en Pa en gesels. Soms klink dit of hulle stry, maar partykeer word ek in die loop van die nag wakker en hoor hulle lag. Miskien het sy hulle ook gevra om te kyk; miskien lyk sy net soos Sannie.

“Maak jy nie oop nie?”

Dis Ma se stem en ek besef dat die motor stilstaan en ons reeds by die lynhek is. Ek klim uit. Van hier sak die pad plaashuis toe in ’n vallei af, met lae berge aan weerskante daarvan en vir ’n lange oomblik staan ek oor die vallei en uitkyk. Ek dink aan Sannie en dit voel of ek my hand in die diep vallei sou kon insteek om daarin te blaai.

“Seun?” Dis Ma se stem en sy por my aan om die hek oop te maak.

Ons eet brood, eiers en polonie. Ons eet dit as Ma nie tyd het om te kook nie en om die een of ander rede praat Ma en Pa nie ’n woord nie. Ek brand om hulle te vra hoekom Sannie lyk soos sy lyk. Net toe ek die moed bymekaargeskraap het, sê Ma opeens dat sy na die buurdorp toe gaan ry en tannie Joe daar van die poskantoor af gaan bel.

“Ek sien nie nou kans vir die plaaslyn se afluisteraars nie,” sê sy.

Ek besef dat iets verkeerd moet wees, want sy staan op voordat ons klaar geëet het. Ek en Pa sit nog aan tafel wanneer ons die motor hoor wegry en ek besluit om hom te vra.

“Pa?” sê ek vraend.

“Nie nou nie,” sê hy en staan ook op.

Ek probeer om ’n standbeeld van Sannie langs die watervoor te maak. Ek meng sand en water, maar haar sagte moddervoete en -bene sak elke keer inmekaar. Ek besluit om haar op haar rug te laat lê en dit werk beter. Ek moet ook net wag totdat die son die modder ’n bietjie uitgedroog het, en binnekort lyk haar onderlyf net soos hoe ek dit gesien het. Ek het skaars met die bolyf begin, of ek hoor Pa se stem.

“En dít?” vra hy.

“Dis Sannie,” sê ek opgewonde.

“Kom,” sê hy, vat my modderige hand en trek my weg.

“Waarnatoe gaan ons?” vra ek.

“Ons stap sommer net,” sê hy.

Ons stap na die boorde toe en hy pluk ’n hele paar perskes. Ek maak ’n bak uit die voorkant van my hemp, hy ook, en ons dra die perskes stoep toe. Pa gaan haal ’n bord en ’n mes, sit en skil die een perske ná die ander en bly gee my stukke daarvan. Al gee hy my perskestukke om te eet, kyk hy nie na my toe nie, maar na die breë, droë sloot duskant die voortuin. Wanneer Pa só kyk, is iets nie reg nie, maar ek voel te skrikkerig om hom te vra wat hom pla. Ek weet dat dit iets te doene het met oom Johannes se minister, ma se suster en die visserman. In die motor het hulle gesê dat hy ’n Afrikaner is, ’n bees van ’n man wat visvang. Soos die dissipels, want Ma sê altyd dat hulle vissers was. Miskien bring tannie Joe hom saam om hier te kom visvang, maar hy sal eers ’n diep gat in die sloot moet grawe om water te soek. En as die gat diep genoeg is en ’n klomp visse in die water wys, sal jy jou hand kan insteek en deur hulle blaai.

Ek vra vir Pa hoe diep ’n mens sal moet grawe om vis te vang, maar hy lag en vra hoekom ek nie met my karretjies speel nie.

Ek gaan maak eers ’n baan aan die kant van die stoep en begin dan met hulle resies jaag. Daar’s ’n rooie, ’n witte en ’n swarte. Sterling Moss ry in die rooie en hy wen altyd. Vandag het hy egter kompetisie, want Sannie bestuur die witte. In die ry spring sy van die witte na die swarte, van die swarte na die witte en tannie Joe staan langs die baan en spoor haar aan.

“Ek het gebel,” hoor ek opeens Ma se stem.

Ek kyk oor die lae stoepmuurtjie. Ek het nie die motor gehoor nie en sy kom met die tuinpaadjie opgeloop.

“Dit ís so,” sê Ma vir Pa. “Hulle party is verban en hulle name is nou op ’n swartlys.”

Ma loop by die huis in en Pa volg haar. Ek sit ’n oomblik lank oor die droë sloot en kyk. ’n Bees van ’n visserman – hy en tannie Joe gaan kom kuier – maar ek verstaan nie wat die lys beteken nie. Maar as Sannie kan kom kuier, sal sy miskien weet. Miskien is dit om die visse te tel en ons twee kan dit mos doen. Ons kan al twee tel en skryf en ek spring op en hardloop by die huis in.

Ek aarsel in die kombuisdeur. Ma staan skuins langs die kombuistafel. Die oorblyfsels van ons middagete is nog op tafel en Pa omhels haar van agter af, met haar kop op sy skouer.

“Verdomde Bram Fisher,” sê sy en sug.

“Nee,” sê Pa. “My verdomde broers wat ons nie meer in hulle huise wil hê nie.”

“Ag, my man,” sê sy en klink hartseer.

Dis die hartseer in haar stem wat maak dat ek na haar toe hardloop en haar bene omhels.

“Ma,” vra ek, “wanneer kom tannie Joe en die visserman kuier?”

“Die wie?” vra sy.

“Die visserman,” sê ek. “Julle’t van hom gepraat.

Sy glimlag.

“Fisher, my kind,” sê sy. “Dis ’n van.”