Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Artikels | Articles

Top tien flieks vir 2006


André Crous - 2007-01-19


Ek kan nie anders as om met kollega Suzette saam te stem nie: hierdie filmjaar was nou nie juis waffers nie. Selfs die onafhanklikefilm-industrie – die flieks van Cinema Nouveau staan gewoonlik uit – is vanjaar byna heeltemal van my lys afwesig. Die tien flieks wat dit wel gemaak het, het my darem wel geboei en ek het die meeste van hulle ‘n tweede keer gekyk, so dalk is daar tog ‘n straal van hoop.

 
Brokeback mountain, met sy ryk atmosfeer, ondersteun deur pragtige musiek en genuanseerde vertolkings deur almal betrokke, moes net eenvoudig die eerste prys kry en troon met ‘n kop en sterk skouers bo die res uit. Niks is oorbodig nie en die film behou sy krag, selfs al weet jy wat die ontknoping behels. Die film is heeltemal te kompleks vir enige maklike opsommings en behoort nie belas te word met enige benaming nie.

Drie flieks wat eersdaags verskyn, haal reeds my lys vir volgende jaar (2007): 

The Prestige is ‘n ingewikkelde toweraffêre wat jou met illusie en misterie intrek, en net wanneer jy dink jy is nou genoeg om die bos gelei en daar is reeds genoeg geheime verklap, dan word jy met nog een gekonfronteer. Dis regisseur Christopher Nolan se beste film sedert Memento en veral Hugh Jackman (hier saam met Christian Bale in die hoofrol) se vertolking beïndruk.
 
Twee ander films, Babel en Marie Antoinette, word in Maart vrygestel. Babel, met swaargewigte Brad Pitt, Cate Blanchett en Gael García Bernal, is ‘n driedelige globale verhaal wat storielyne rondom die tema van kommunikasie en die gebrek daarvan op briljante wyse saamvleg. Marie Antoinette is Sofia Coppola se lekker prettige, effens postmodernistiese, kykie na die Franse koningin en haar avonture met sjampanje, Sweedse ridders en, natuurlik, koek.
 
So, dan, totsiens fliekjaar van 2006; ons het jou al byna klaar vergeet. Dankie vir die tien films hier onder; mag hulle ‘n nageslag van menigte hê wat selfs beter is.
 

Die Top 10
 
1.         Brokeback Mountain
2.         The Departed
3.         V for Vendetta
4.         Everything is Illuminated
5.         Hell (l’Enfer)
6.         Syriana
7.         The Road to Guantanamo
8.         Match Point
9.         United 93
10.       Munich
 
1. Brokeback Mountain
Geen groot verrassing hier nie: atmosfeer en narratief perfek gemodelleer deur die hande van regisseur Ang Lee. Natuurlik gaan kyk almal dit met hul eie bagasie, en dalk lê die grootheid van die fliek juis daarin dat beide kante hul sienings kan staaf met dieselfde materiaal. Homo- en heteroseksuele kykers wat te eng na die wêreld kyk, sal ewe veel probleme hê met die kompleksiteit van die verhaal, die feit dat antwoorde nie maklik te vinde is nie, dat karakters nie binne stereotipes pas nie en dat veral Jack en Ennis nie met ‘n enkele sin omskryf kan word nie. Dít is die kragtige veelkleurigheid van hierdie storie.
 
2. The Departed
Scorsese is uiteindelik weer, na die fiasko van Gangs of New York en die oorbeligte Aviator, terug met ‘n fliek vol bloed waaraan hy sy naam met trots kan koppel. Gebaseer op die puik Hongkongse Infernal Affairs, bied The Departed vir Scorsese en sy volle rolverdeling – hier noem ek spesifiek Leonardo DiCaprio – ‘n geleentheid om te skitter, en hulle stel nie teleur nie. ‘n Harde fliek met realistiese geweld en sterk taalgebruik wat jou herinner aan die dae van GoodFellas. Kom nou, hierdie keer is Scorsese die enigste een wat die Oscar verdien!
 
3. V for Vendetta
‘n Uiters skerp en satiriese blik op kontemporêre sosiale en politieke kwessies. Dit is dalk hipergestileerd, maar die storie is sterk en interessant genoeg om die visuele volkome te ondersteun. Natalie Portman en Hugo Weaving lewer albei skitterende vertolkings, en die onderliggende tema van ongeregtigheid op ‘n reeks verskillende vlakke, en die noodsaaklikheid om dit te beveg, is ewe belangrik. Vir my was dit ook lekker om ‘n toekoms te sien waar daar gepraat word van die “Former United States of America” – ‘n plek wat weens sy eie dwaasheid in absolute chaos verval het.
 
4. Everything is Illuminated
Na die puik Eternal sunshine of the spotless mind van 2004 vertolk Elijah Wood vanjaar die rol van ‘n Joodse jong man wat terugkeer na die Oekraïne om sy herkoms na te vors. Liev Schreiber se debuutfilm as regisseur is ‘n baie gewaagde mengsel van komedie en drama wat op kunstige wyse saamsmelt danksy die kamerawerk van Requiem for a dream-kameraman Mathieu Libatique, wat beelde so mooi optower dat dit jou asem wegslaan.
 
5. Hell (l’Enfer)
Hierdie is die "opvolgfilm” van die Bosniese regisseur Danic Tanovic, om twee redes. Eerstens: dit is die eerste film wat hy maak sedert sy debuutfilm, No man’s land, wat in 2001 vir hom die prys vir die beste draaiboek by die Cannes-filmfees gewen het. Tweedens: hierdie is die tematiese opvolg op die 2002-film, Heaven, maar die twee films verskil soos die hemel van hel verskil. Die gestileerde kamerabewegings is dalk die enigste gemene punt tussen die twee, maar Tanovic se vermoë om sy storie stadig tot die metafisiese proporsies van sy voorganger te verhef is werklik indrukwekkend.
 
6. Syriana
Dit is ‘n poel inligting, met verhoudings tussen partye wat heeltyd aan die verander is, waarin jy nie te veel moet spartel nie, anders sal jy nooit fokus op die groter prentjie nie. Met meer spronge as Crash het talle kykers die film oor die oliehandelbedryf verwarrend gevind, maar uiteindelik maak alles tog (min of meer) sin en die narratiewe energie herinner aan Alejandro González Iñárritu se Amores Perros.
 
7. The Road to Guantanamo
‘n Skokkende kykie na een storie in die sogenaamde oorlog teen terrorisme wat die Anglo-Saksiese wêreldmoondhede soms teen hulle eie onskuldige burgers voer. Na twee Britsgebore beste vriende hulle per ongeluk in die middel van die post-9/11-konflik in Afghanistan bevind, word hulle Guantanamo toe verskeep en vir jare gemartel voor hul onskuld bevestig kan word. ‘n Ware verhaal met ‘n unieke vorm van regie.
 
8. Match Point
Woody Allen se beste film sedert Bullets over Broadway – selfs nog beter. Scarlett Johansson en Jonathan Rhys-Myers bevind hulle in ‘n uiters interessante opdatering van Dostojewski, wat in Londen afspeel met ‘n perfekte balans tussen uitmergelende spanning, intrige en wonderlike Allen-humor. Vermy egter Allen se ewe Britse opvolg Scoop, ook met Scarlett Johansson.
 
9. United 93
Glad nie die pro-Amerikaanse film wat ek verwag het nie. In hierdie gedramatiseerde uitbeelding van vlug United 93 op 11 September 2001 – voor en terwyl dit gekaap is deur ekstremiste wat die Capitol-gebou in Washington D.C. wou tref – is daar geen bekende gesigte nie en ons simpatiseer met elke Jan Alleman aan boord. Ons deel die frustrasie wat elkeen voel oor die gebrek aan bevele (dit word onderstreep in die film se epiloog) en die afwesigheid van Bush se gesig – soos ons teen hierdie tyd weet, was hy natuurlik besig om ‘n storie vir laerskoolkinders voor te lees – te midde van al die drama skep ‘n indruk van regeringsapatie. 
 
10. Munich
Een van Spielberg se minder sentimentele, hoewel meer persoonlike, prente. Die 1972-bloedbad by die Olimpiese Spele in München het gelei tot volskaalse weerwraak van die Israeliese regering teen die Palestynse breine agter die aanvalle. Spielberg hanteer die kwessie baie intelligent en wys nie vingers nie – hy wys eerder ‘n inherente probleem uit met wraak, en die huidige “oorlog teen terrorisme” is boaan die agenda: Wie is uiteindelik die ware terroriste?