Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Teater ’n studie van die siel?


Albert Maritz - 2010-05-14

Life is not a problem to be solved, but a reality to be experienced – Sören Kierkegaard

Nou een Sondag in die kerk nooi vader Rob mense wat graag gebed wil ontvang, na vore. ’n Hele klomp mense gaan vorentoe. Agter een ouerige vrou staan ’n jong meisie in hippierige klere. Sy hou een hand bo-oor die vrou se kop. En, let ek op, haar hand bewe van tyd tot tyd woes, intens.

Ek dink aan die vreemde ervaring om die boek te lees van Choo Thomas oor haar lyflike ervarings tydens besoeke aan die hemel. En ek wonder hoe baie navorsing al in dié verband gedoen is. Want, skiet dit my te binne, die mens het opdrag gekry om die wêreld te bestuur.

Tans is daar die navorsing oor die "missing link", daar is die werk van byvoorbeeld Mark Shuttleworth om mense tegnologies te bevorder. Daar is ruimtereise, en dies meer … Maar gister vra ek myself: Waar trek navorsing oor die siel?

Die ander dag op Freek Robinson se Praat Saam hoor ek skrams die swets van George Claassen. Dis dieselfde man wat so maklik op ’n TV-program waar hy vir evolusie en ’n ander man daarteen gepraat het, die vloer op die mees disrespekvolle wyse met die arme man gevee het. Hy was ook betrokke by die beweging wat skole wou keer om godsdiens te beoefen. “Dis ’n blerrie skande,” voer hy aan, dat ons joernalistiek oor tegnologie op so ’n lae standaard is. Bernard Ficker eggo hom: hy stem saam met professor Claassen - “dis ’n blerrie skande”. Nog mooi grepe volg op mekaar:

GC: Ek stem heeltemal met jou saam.
BF: Dankie Professor. (Freek groet Claassen as doktor.)

Ek raak meegevoer, omdat ek in die kerk gewonder het of die kunste nie een baie, baie belangrike aspek van navorsing oor die siel uitmaak nie. Is die mikpunt van die kunste nie dalk "peace, love and healing" nie? Vrede, liefde en genesing … nes in die kerk die Sondagoggend.

PS: ’n Oud-kollega van Claassen sê hy is glo ’n baie gawe man.

 

*

Daar is soveel kunstenaars in Suid-Afrika, nes elders in die wêreld, wat nooit beroemd word nie. Maar hordes, honderde, dalk duisende – afhangende van waar in die wêreld jy is – het die potensiaal om beroemd te wees, maar die regte geleentheid bly ontwyk die talentvolle een dalk. Ander weer, met minder talent, kom ver. Daar is juis op hierdie oomblik ’n Amerikaanse rolprent op die kringloop met een so ’n talentlose “ster” in ’n hoofrol. Hoe sulke dinge gebeur, is ... die lewe? Ja, dis maar die natuur.

Tussen roem en briljantheid is egter ’n reuse-kloof, soos Dozi se “berg” (Wit-s'n-Berg?). Soms kry mens egter mense wat beroemd word omdat hulle briljant is. Een so ’n talent is Neil Sandilands. Hy het nie sulke ongekende roem verwerf net oor 7de Laan en sy duiwe Breëbors en Bekkie nie. Ook nie oor die slag wat hy glo die gastehuiseienaar oor ’n tafel gepos het nie. Ook nie oor die keer wat hy blykbaar in die tronk wakker geword het en gehoor het hy het die rol in Orion gekry van die Sandilands-eweknie – die naam-weggooier, tronk-wakker-worder, Zatopek, briljante speurder in Orion – nie. Daar is nóg redes hoekom die publiek mal is oor Neil.

Die dag toe ons Orion opneem by ’n tronk vir kinders, en die kinders begin van die verbeterskool terugkeer, raak hulle opstandig omdat hul blyplek ingeneem is deur kameras en vreemdes. Dis toe ek klaar gewerk is en daar weg is. Ek hoor toe: dis tóé wat hulle begin oproerig raak en chant het en die bui gevaarlik raak. Al die kinders was in ’n draad-omheinde binneplaas met ’n toegesluite hek.

Toe hulle Neil sien, verander dinge egter. Hulle is toe gretig om "Bart" te ontmoet en sy handtekening te kry. Maar die owerheid het hom gewaarsku dat sy lewe in gevaar sou wees as hy tussen hulle ingaan. En net daar is Neil – teen die owerheid se waarskuwing in – deur die hek. Jip. Dis op sy versoek oopgesluit, en hy is daar in, en daar het hy ’n paar mense se dag gemaak. En nie net omdat die duur proses van verfilming kon voortgaan nie, en omdat hy die vrede gaan herstel het nie. Nee, omdat hy ’n paar mense vertrou het. Omdat hy ’n paar mense ’n kans gegee het. Toe ek die volgende oggend vroeg op stel die nuus hoor – van sy onverskrokkenheid – het emosie my oorrompel. Want dis waardevol.

Wat teen dié tyd nie meer ’n geheim is nie, is dat Neil daai "iets" het. Neil leer al jare lank, en sy briljante brein het soms protesteer, soms lank herkou aan inligting, en in die proses het hy vyande gemaak – veral as dit met te veel dop-met-skop gepaard gegaan het. Maar teen dié tyd weet ons: Neil drink nie; Neil is in sy ernstige verhoudinge getrou; en Neil is bereid om hard te werk. En Neil is nie beroemd en geliefd net omdat ons hom baie op TV sien nie. Nee, Neil is in ’n nuwe generasie voorlopers ’n diamant. Skouer aan skouer met ander, soos Chris Vorster en Hennie van Greunen, kweek hy kwaliteit. Dié paar individue – en ek weet ek laat ander belangrikes uit – is "self-made" mense – hulle kan oorleef in ’n klein gemeenskap waarbinne mens baie dinge moet doen om te oorleef; hulle is veelsydig – en boonop ondersteun hulle nuwe juwele uit opkomende generasies – soos die opkomende Christo Davids, die nuwe skrywers/dramaturge van Stellenbosch, die Johan Smitte van Pretoria, en nog ’n heel paar ander.

En dis een rede hoekom dit jammer is dat die stukke waarby Neil en Chris en Christo betrokke is, nie by nog feeste en hoofsentra te siene is nie.

Sou dit nie nice wees as ons almal regverdige geleenthede kon hê nie. Verhoogkuns is 'n dissipline. Wanneer jy die kuns en analise en die "inleef" en die uitleef wil pak, bly daar nog die diksie, stemplasing, projeksie en dies meer oor. Dis iets om te vier. Die fondament van baie duurder, ryker en lonender dinge.

Neil Sandilands verjaar in Mei. Hy is ’n Taurus. Dis die mense wat effe vooroor loop. Soos ’n kollega sê: om hul koppe suiwerder te stamp, soos hulle gereeld doen. (Ek behoort te weet. Nie omdat ek geniaal is nie, maar omdat ek ook ’n Taurus is.) En omdat hy ’n Taurus is, is hy besig om toenemend vir homself geleenthede te skep – selfs op internasionale verhoë. Gun my om vir hom in sy verjaardagmaand net ietsie regverdigs toe te dig:

Neil speel in Taraboemdery die rol van Koot met ’n omvangryke range – dis nou om te sê hy laat die gehoor die karakter beleef as veelfasettige, volronde mens – met ’n omvang van emosie, gesteun met die lyftaal, stemintonasie en afwisseling, logiese en meesleurende tempo, en tempowisselings – sodat jy dink dis ’n regte, egte persoon hier voor jou, wat die verhaal waarbinne hy optree, op die oomblik beleef – daar voor jou oë. Saam met Neil op die verhoog is ’n uitgelese span akteurs, elkeen onder die bestes op sy of haar gebied.

En die begrip waarmee die hele span die ontleding van die gebeure probeer ontsyfer het, dra duidelik by tot Neil se vertolking. En die manier waarop al die spelers op die verhoog hulle rolle – tot in die fynste besonderhede – vertolk, skep die fondament waarbinne Neil se karakter, Koot, tot sy volle reg kan kom. Maar hierdie karakter van Chris Barnard – die dramaturg wat Taraboemdery geskryf het – is dalk een van ons omvangrykste karakters op ’n verhoog nóg in ’n Afrikaanse stuk in Suid-Afrika.

En teenoor die briljante Milan Murray se Fransien, in Neil se hande, kom Koot tot sy reg, in wat ek beleef as een van die grootste vertolkings nóg van ’n karakter op ’n Suid-Afrikaanse verhoog. ’n Mens sal moet speel dat jy bars om kragte te meet met die ou grotes van ouds, soos Cobus Rossouw, maar weet jy, as hierdie een nie dalk een van daais match nie, is dit nie ver weg nie. Taraboemdery op KKNK 2010 ... match. Taraboemdery is ongelukkig grotendeels deur administratiewe rompslomp van die Nasionale Kunsteraad verhoed om dusver elders op te tree.

Mag jy geseënd wees, Neil, waar jou weë jou ook al mag lei. Mag daar benewens dit wat jy als vir jouself doen, ’n paar meevallertjies ook op plekke uitval. Jy werk hard daarvoor. Jy verdien dit. En mens mág maar vir harde werk beloon word.

Die brief van daai Amerikaanse TV-vervaardiger vir wie jy ’n program gemaak het, besing jou soos nog nooit tevore nie. Ek weet hoeveel erkenning vir ons beteken. Mag jou groot aanhang hier, en jou groot opgang daar, altyd eggo in die “jy”-dingetjies – soos jy GROOT word. Want grootsheid lê nie in size nie (nudge nudge, wink wink), maar in die klein dingetjies – soos jy weet. Lekker verjaar.

 

*

Eugène Terre’Blanche was in my oë, soos in die oë van die meerderheid Suid-Afrikaners, “common”;. Maar hy had ’n reusagtige talent – as woordemaker, die uitdrukker van gedagtes en orator. In die dae toe die hoofstroomkoerante konserwatief was, regse politiek en die NP nog bestaan het, was groot getalle (die meerderheid?) joernaliste links van hul koerante se beleid. Selfs die linksste van hulle het gaan luister as ET praat. Sy poësie, sy alliterasie, woordkeuses, emosie, perfekte pouserings vir die heel mees dramatiese effek, was aangrypend. Suiwer kunstenaarskap. Sy kennis van die geskiedenis, en sy eie ideëvorming, was reusagtig.

Hy was as laerskoolkind ywerig oor die kunste; hy was as volwassene wenner van ’n toekenning as beste akteur by die senior ATKV-toneelfees – ’n toekenning wat my pa ook ’n paar keer gewen het.

Ek is jammer ET is nie meer met ons nie. Ek wens hy was by die KKNK, Aardklop – nie as politieke dier nie, maar as kunstenaar. Die wêreld is sekerlik armer … en ryker … sonder hom.

Life can only be understood backwards, but it must be lived forwards – Sören Kierkegaard