Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Liefde vir die Karoolandskap


Jason Lloyd - 2010-05-11

Dit was op ’n dag dat die uwe sy liefde vir die Karoolandskap so ampertjies verloor het – omdat ek op dié stuk landskap vir ’n wyle in ’n “dal van doodskaduwee” beweeg het.

Ek bewonder die Karoo, amper soos die digter Antjie Krog die golwende rooi gras van die Vrystaatste vlaktes (Themeda triandra) bemin. Dit is inderwaarheid ’n vry landskap waar jy nog in die aande “Tant’ Tollie hoor hoe sy nog die Here en die uile roep (...)” – soos NP Van Wyk Louw in sy 1962-gedig “Karoo-Dorp: Someraand” gedig het. Dit is ook ’n streek, soos Van Wyk Louw dig, waar “die laat-middag room geword (het)”, en waar mense nog in “tennisbroekies loop”.

Sesuur laatmiddag moet die uwe by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees(KKNK) se feeskoerant, Krit, se redaksiepartytjie in Oudtshoorn wees. Verbeel jou, dit is 12h00, en ek is nog by die kantoor in Bhisho. Nou hoor ek die titel van een van Pieter van der Westhuizen se liedjies: “Hoe gaan jy nou maak, want die pad is lank ...”
 
Die rit begin by my woonstel in my aangenome tuiste, King William’s Town, sedert 2004. Alice, Fort Beaufort, Adelaide, Bedford, Kookhuis, Somerset-Oos, Pearston, Graaff-Reinet, Aberdeen, Willowmore, De Rust en dan die Hoorn. ’n Mondvol. Sedert my eerste KKNK in 2003 was dit Uitenhage, Steytlerville, Willowmore, De Rust en dan die Hoorn. ’n Halwe mondvol.

Met  ’n tenk vol petrol en die klanke van The Blueprint 3 in my ore jaag ek verby heuwels en berghange oor vlaktes die verlate en pragtige gedeeltes van die Karoo binne. Soos 'n vlakhaas voor ’n windhond hardloop ek sonder stop.

’n Ligte reëntjie maak sy verskyning duskant Bedford en die stilte van die uitgestrek-verlate Karoovlaktes was stadig uitgedoof. Die gesuis van die reëndruppels was alomteenwoordig.

Toe ek in Somerset-Oos kom, het ek versigtig die hoofstraat afgery op soek na ’n restaurant; net soos Henk de Melker – ’n inwoner van Somerset-Oos en die hoofkarakter in Etienne van Heerden se roman 30 Nagte in Amsterdam – versigtig leef.

Filterkoffie, bruin suiker en peppercorns was nie verkrygbaar nie. Amper hap ek toe ’n sluk droë rooiwyn uit frustrasie weg. Oppas, die afstand lê nog so ver voor my soos ’n uitgestrekte Karoopad.

Nou begin my tweede skof: op ’n galop tussen 160 en 200 km/h. Ek hoor die plaaswerkers in Van Wyk Louw se gedig, hulle wat koue koffie uit (goedkoop) wynbottels drink en brood eet waarop niks gesmeer is nie: “doer op die nasionale pad loop motortjies onhoorbaar, hoog.”

Graaff-Reinet en Willowmore is 169 km uit mekaar. Vir my was dit ’n onbekende donker pad, want die petrolliggie het begin flikker. Dit op die “pad van die dood” net voor Aberdeen. Die wind het met die kar gespeel en ek was vrek bang vir die dood. By Willowmore was ek weer vry, tenk vol petrol, en toe sien ek “rook uit die lokasie rook”. Toe is my liefde in die Karoolandskap herstel.