Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Deborah Steinmair: Fratsgolf

Die wêreldwye hoekie vir eensames


Deborah Steinmair - 2010-05-10

Kuber klink altyd vir my na ’n mengsel van koors en fever. Ek sien ’n ontheemde, bleek landskap met ’n laning koorsbome wat lei na nêrens. Dis ruim, amper so wyd soos die Heer se genade, maar minder toeganklik. Die portale laat die besoeker nie altyd deur nie. Konneksies pak op, lugtyd verstryk, bytes word gecap, modems kalf, proxy servers skop uit, moederborde stort in duie.

Verkry jy uiteindelik toegang, betree jy ’n kil stadskap besoedel deur ’n duisternis voetspore. Maar soms vind jy, in die middel van die sypaadjie in die wêreldwye web, ’n bedoudruppelde Tretchikoff-roos waarop miljoene voete nie getrap het nie. Want die kuberruim word bevolk deur mense, of dan hul avatars, die wesens wat hulle gekies het om hulle te verteenwoordig. Gevolmagtigdes, handskoenbruide wat hulle met die geklik van vingers oor toetsborde in die virtuele landskap laat beweeg, asemhaal en redeneer.

Die kuberruim het baie wonings. Ruim wonings. Mense wat in die sogenaamde regte lewe in saamgestelde neste ver bo die grond woon, besit in die kuberruim werwe, stoepe en plase waar besoekers kan aandoen. Daar is uithangborde, daar is foto-albums om deur te blaai, daar is gerieflike opsommings van jou gasheer se vriendekring, voorkeure, belangstellings en geskiedenis. Alles natuurlik fyn geredigeer vir verteerbaarheid, maar ten minste beskikbaar met die voetstap van ’n vinger. Ons leef toenemend in ons koppe en nou is daar argitekte, stads- en streeksbeplanners om ons droomlandskappe uit te lê.

Die gesante van die groot geldgod het lankal besef dat fantasie eindeloos bemarkbaar is. Mense, geseën met ’n hoër bewussyn, kan eenvoudig nie soos dassies in die son lê en bak, eet, paar, ontlas, gaan slaap en doodgaan nie. Ons koppe het nie ’n skakelaar nie. Daar is maar altyd ’n lig wat brand êrens in die huis. Ons hunker ewig na ontvlugting.

Een ding kan die kapitaliste egter nie verblik nie, en dit is die menslike faktor – daardie lukrake, onvoorspelbare vrye radikaal. Daardie bestanddeel wat plat landskappe in 3-D laat opspring en avatars laat leef en beef. Gebruikers is meer gekompliseerd as kompers en dus minder voorspelbaar. Ons fouteer en skep. Ons marsjeer vreesloos, ons markeer die pas in die "margin of error". Ons bemin.

Eens het mense idealisties bemin vanuit die verte, versigtig hofgemaak deur middel van galante briefwisseling en uiteindelik alleen saam verkeer nadat ’n duisend gedagtes met groot versugting oor maande of jare heen uitgeruil is, twee hartkloppe geleidelik oor ’n groot afstand heen gesinchroniseer is. Maar soos alles in ons samelewing het die liefde kits geword. Vandag is dit maar ’n paar treë van kroegstoel tot motor tot bed. Maar nou, nou maak die kuberruim – daardie koorsagtige, kleurlose landskap – idealistiese liefde weer moontlik. Die kuberruim is die laaste vesting van hofmaak, soos in "courtly love", waar ’n ridder nag na nag onder ’n onbereikbare beminde se balkon ballades sing.

Soos op ’n maskerbal begin jy in die kubersaal dans met ’n gesiglose kavalier. Iets; die een of ander x-faktor; die persoon se reuk, die klank van hul stem, die houding van die gemaskerde kop op die nek, die beweging van die gewrig, gryp jou verbeelding aan en een polka gaan naatloos oor in ’n ander. In die kuberruim, soos op ’n bal, val die masker weldra grond toe.

Verhoudings en huwelike is in elk geval hopeloos te werklik vir hibriede wesens met koppe vol drome van vreemde oewers. Die planeet is te verslete, die alledaagse paadjies vol sinkplaathobbels, suf gery. Dis nogal veel gevra om romantiese liefde lewend te hou wanneer jy daagliks ’n bed, toilet, bad en kombuistafel deel. Die klein jakkalsies verwoes die wingerd. Die muis word dik en die kool is die sous nie werd nie. Dis mosterd na die maal. Die oë was groter as die maag. Liefde skif tot haat of hoogstens apatie.

In romantiese films en boeke van weleer oorkom die held en heldin vele struikelblokke om uiteindelik lank en gelukkig saam te leef. In hedendaagse jeugfiksie gryp net die gedoemde, totaal onmoontlike liefde nog aan, soos die fatale attraksie tussen ’n meisie met ’n lieflike nek en die soetruikendste hemoglobien en ’n bloedarmoedige vampier. So onversoenbaar soos Blackberrys en Cell C. ’n Eindelose, tergende dans van amperse vervulling hou die hartstog aan die klop.

So is dit in die kuberruim. Die geliefde, die brein en gemoed wat jy leer bemin, behoort dalk aan iemand anders; woon dalk in ’n ander halfrond; is dalk ’n kwadrupleeg wat tik deur sy oë te beweeg; of ’n ledemaatlose mens wat die toetsbord heel bedrewe met haar neus slaan. Daar is eindelose struikelblokke in die pad van oorskakeling na die werklikheid. Die kuberlandskap is soos ’n droom waaruit jy altyd met leë arms en ’n vol gemoed stap. Reënboogkleurige rivierklippe verbleek op die oewer tot vaal, stowwerige knolle.

Maar nou bied die kollektiewe verbeelding van tegnologiese droomwewers ’n nuwe, ideale opsie: ’n romanse wat pendel tussen die kuberruim en die werklikheid. As die dobbelstene reg val, woon jou kubergeliefde ten minste in dieselfde land as jy, indien nie dieselfde provinsie nie, is sy of hy met die tasbare aanraking nog net so bedwelmend, kan julle soms versmeltend fisiek saamkom en in die lang afwesighede tussenin van oomblik tot oomblik gedagtes wissel, met beeldmateriaal in volkleur, geanimeerd, met klank, in real time. Vir so ’n liefde kan ek ’n toekoms sien.

Kom ons bevolk die kuberlandskap. Dis ’n brawe nuwe wêreld. MMS my, my liefling. Raak my aan; my foon is op "vibreer" in my binnesak. Sien jou in die chatvenster. O, vanaand gaan ons Skype.