Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Als nie maanskyn en rose in Afrikaanse taaltuin


Rudie van Rensburg - 2010-05-05

Noudat die stof gaan lê het oor Breyten Breytenbach se onlangse voorspelling dat ons in sy leeftyd nog die begrafnis van Afrikaans gaan bywoon, is dit moontlik ’n geskikte tyd om ’n 2010-oudit te doen oor die stand van Afrikaans.

Die meerderheid Afrikaanses het Breyten van ’n oormaat pessimisme beskuldig. Want ons jol dan nog só lekker in die taal wat ons saam met moedersmelk ingekry het. Ons sing op rockkonserte, ons lees Rapport en Huisgenoot, en die taal kook behoorlik by die KKNK en die ander feeste!

En dis waar: op die oog af is Afrikaans nog stewig geanker in die Suid-Afrikaanse bodem. Maar ’n taal is soos ’n blomtuin. Die tuinier moet voortdurend natlei, vir onkruid skoffel en die grond voed. Anders verdor die aarde en verwelk en vrek die blomme.

Sien die Afrikaanssprekende soos ’n toegewyde tuinier na sy blomtuin om? Of is ons willose afsydigheid dalk die rede dat die plante besig is om van hul wortels af te vrot? Want alles is beslis nie maanskyn en rose in die taaltuin nie.

Die bekroonde Afrikaanse akteur Marius Weyers is aangehaal dat hy gereken het die taal sal nie uitsterf nie en dat die taal nog “sterk staan”. Terselfdertyd het hy bygevoeg dat die status van Afrikaans op universiteitsvlak bedreig word. Dit is twee standpunte wat beswaarlik in dieselfde paragraaf tuishoort. ’n Taal se penwortel is sy akademiese instellings. As ’n taal by skole en universiteite die rug gekeer word, ontneem jy hom van sy voedingskrag. Sonder opleiding vir Afrikaanse moedertaalsprekers trek jy nie alleen Afrikaans se akademiese tande nie, maar ook sy kultuur-, owerheids-, regs-, wetenskaps-, handels- en tegnologiese tande  – en jy reduseer hom tot ’n tandlose kombuistaal.

In só ’n geval kan ons maar alles groet wat ons tot nou toe as vanselfsprekend aanvaar het: die Afrikaanse media, letterkunde, kultuurfeeste, ekonomiese vooruitgang, ensovoorts. Want dan is ons van die vermoë ontneem om uitdrukking te gee aan ons hoër funksies. ’n Taal ontwikkel nuwe konsepte immers net op ’n hoë vlak.

Teen dié agtergrond is dit dus onstellend dat die tradisionele Afrikaanse universiteite so onverskillig met die taal omgaan. En hier verwys ek meer spesifiek na die Universiteit van Stellenbosch. Gesetel in ’n oorweldigend Afrikaanse gebied, waar daar boonop twee volwaardige Engelse universiteite is, bring dié instelling met sy T-opsie rampspoedige Afrikaanse gevolge mee.

Ook teleurstellend was dat Die Burger in die tyd toe daar hewig oor die taalkwessie by die US gedebatteer is, oorwegend prominensie aan Russel Botman se T-opsie-standpunt gegee het. In dié proses is Hermann Gilliomee die “kroek” in die verhaal gemaak. Ewe teleurstellend was dat die Afrikaanse sakereus Johan Rupert in sy kanseliersrede die taalkwessie soos ’n wafferse senter gepypkan het. In dié “polities-korrekte” toespraak het hy ’n lekker kapstok geskep vir die pro-Engelse faksie om hul jasse op te hang deur “uitnemendheid” voor te hou as die alfa en omega – so asof Stellenbosch in sy Afrikaanse verlede nie uitnemendheid nagestreef het nie! Of dat ’n universiteit nie uitnemendheid in Afrikaans kan handhaaf nie!

Die versekering dat Afrikaans nog hier gekoester word, sien ’n mens weinig van in die praktyk. Sekere fakulteite het Afrikaans al oorboord gegooi en navorsingsartikels en doktorale verhandelings verskyn toenemend in Engels. Dit is ’n ope vraag of ons tradisionele Afrikaanse universiteite vir ons moedertaal gered kan word – veral as na Stellenbosch as voorbeeld gekyk word. Tans is daar nog ’n Afrikaanse vernislagie sigbaar, maar dit dop teen ’n vinnige tempo af!

Wat onder die eikebome wel ’n sprankie hoop verskaf het, was dat al die kandidate wat onlangs deur die konvokasie van die US tot sy raad verkies is, hulle sterk vir die handhawing van Afrikaans aan die US uitgespreek het. Daar is ook sprake van ’n hofsaak teen die US oor sy taalbeleid, wat volgens die beswaarmakers “onwettig is en tot niet verklaar kan word”.

Op skoolvlak gaan dit darem beter, maar ook hier flikker die gevaarligte. ’n Vendetta teen Afrikaans-medium skole steek plek-plek sy kop uit. Die Hoërskool Ermelo het darem sy Afrikaanse karakter ná ’n appèlhof-beslissing verseker, maar hoekom moes ’n basiese taalreg soos deur die Grondwet gewaarborg, in die hof gaan draai?

Buiten die regering se gebrek aan ’n taalstrategie laat hy die verengelsing van staatsinstellings ooglopend toe. Amptelike regeringskennisgewings geskied hoofsaaklik in Engels. Met die uitsondering van die Wes-Kaapse regering verskyn alle advertensies vir poste in ander streke net in Engels (ook in die Afrikaanse pers).

Die sakewêreld het lank gelede reeds sy rug op Afrikaans gekeer. In groot maatskappye is alle interne vergaderings, e-pos-korrespondensie, opleidingsprogramme en amptelike dokumente in Engels. Jaarverslae (ook deur tradisionele Afrikaanse maatskappye) verskyn toenemend net in Engels. Die oorgrote meerderheid doen nie eers moeite om hul reklameboodskappe in die Afrikaanse media te verafrikaans nie. Op kykNet is tagtig persent van die TV-advertensies Engels. Hoewel Afrikaanses se geld in die sakewêreld welkom is, is dit net te”duur” om hul taal te respekteer.

’n Gebrek aan advertensiesteun deur die private sektor het juis in die onlangse verlede gehalte-tydskrifte soos Insig, Boeke-Insig en die reistydskrif Mooiloop (voorheen Wegbreek) gekelder.

Dit raak selfs al ’n risiko om Afrikaans op South African Airways-vlugte te praat, soos onlangse mediaberigte aangetoon het.

’n Ander feit wat Afrikaanses wat vir die taal omgee, in hul koffie moet laat stik, is dat baie Afrikaanse ouers (wit en veral bruin) hul kinders na Engelse skole stuur. Die emigrasie van miljoene Suid-Afrikaners (van wie ’n groot persentasie Afrikaans is) maak die Afrikaanse poel vir die toekoms nóg kleiner. As daar uiteindelik nie ’n Afrikaanse vraag is nie, gaan daar ook nie ’n Afrikaanse aanbod wees nie.

Te midde van dié donker vooruitsigte het daar darem buiten die Stellenbosch-konvokasieverkiesing in die afgelope tyd ook ’n paar ander Afrikaanse ligstrale tussen die onweerswolke deurgebreek:

  • Absa het aangekondig dat hy multimiljoen rande oor die volgende vyf jaar in die KKNK gaan belê.
  • Afrikaans is saam met Bulgaars, Duits, Engels, Frans, Hongaars, Italiaans, Portugees, Russies en Spaans opgeneem as deel van ’n internasionale maksiwoordeboek op grond daarvan dat dit oor ’n gevestigde vaktaal in die leksikografie beskik.
  • Miljoene rande is ingesamel om die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein te red.
  • Afrikaanse rolspelers onder leiding van Christo van der Rheede, voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, is op dreef met planne vir ’n vrye Afrikaanse universiteit.
  • Die eerste keer sedert 2004 is daar weer ’n Afrikaanse toneelstuk (Willem Anker se Skrapnel) op die hooffees van die nasionale kunstefees in Grahamstad.
  • Bun Booyens, aangewese redakteur van Die Burger, het in ’n onderhoud gesê Afrikaans is ’n grondwetlike reg by die US. “As dit ’n reg is, dan is dit ’n reg.” Dit is bemoedigende woorde van die nuwe leier van ’n koerant wat in die onlangse verlede maar flouerig vir die taal gestry het.

Daar sal egter veel meer moet gebeur om die taal se toekoms te verseker. Want terwyl die Titanic sink, vind daar nog binnegevegte tussen die passasiers plaas. Soms lyk dit of Afrikaans maar net nie sy apartheidsjuk kan afskud nie. Daar is steeds ’n skeiding tussen wit en bruin taalstryders. Die bruin Turke is kwaad. Clinton du Plessis skryf in LitNetdat die Afrikaanse rug op bruines gekeer word en dat daar geen rede meer is om vir die taal te baklei nie.

Intussen het ’n nuwe bruin stem, Die Forum vir Swart Suid-Afrikaners, ’n beraad gehou. Die boodskap wat sterk na vore gekom het, was dat Afrikaans inklusief en toeganklik vir alle Afrikaanssprekendes gemaak moet word. Bemoedigend was dat ’n taakspan aangewys is om by wit gespreksforums aan die sluit om die agteruitgang van die taal as onderrig- en openbare taal te stop.

Die sameroeper van die Forum, Lionel Adendorff, het egter vroeër in ’n onderhoud met Heinrich Wyngaard in Die Burger getoon dat hy nog wantrouig is wanneer dit by samewerking kom. Hy sê swart Afrikaanses moet eers bepaal of daar enigsins ’n behoefte by hulle is om by die tradisioneel Afrikaanse instellings in te skakel. In die onderhoud het hy ook gedurigdeur na wit Afrikaanssprekendes as “Boere” verwys.

Maar selfs in wit geledere is daar nog wantroue tussen Afrikaners. Die bekende en bekroonde skrywer Marita van Vyver noem in ’n onlangse koerantberig dat een van die redes waarom sy nie baniere in ’n taalstryd wil swaai nie, is dat sy haar nie tuis voel by baie van die Stryders vir die Taal nie. “Ek wil nie soos ’n stom skaap in dieselfde kamp gejaag word as die jakkalse wat ek steeds nie vertrou nie.”

Red nou ’n taal met sulke ambassadeurs! Kom ons vergeet van ons verskille, van Swart of Wit gespreksforums, van Boere en Bruines, van apartheidsagendas en ou wit mans wat op en af spring om hul taal te red, en trek saam om ’n Nuwe Afrikaanse Taalbeweging te lanseer.

Afrikaans is nie ’n “wit taal” nie. Kom ons akkommodeer die nuwe betekenisse van verskillende woorde en frases in Standaardafrikaans. Dit is ’n praktiese beginpunt om Afrikaans vir almal toeganklik te maak. Die eiendom van taal is sy sprekers en sny oor alle kleure en kulture.

Die voorlopers in die taalstryd het ’n groot uitdaging om die Afrikaanssprekende op straatvlak te mobiliseer. Stel die voorbeeld soos Koos van der Merwe, IVP-hoofsweep, gedoen het deur te weier om by die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria opgeneem te word omdat die hospitaal se opnamevorms net in Engels beskikbaar is. Of soos Hermann Giliomee, wat regsprosedures teen die Matiese se taalbeleid oorweeg.

Beroep julle op die erkenning van jul taalregte soos in die Grondwet bepaal. Sleep die minagters van julle taalregte hof toe as dit moet. Hou julle beursies toe vir maatskappye wat Afrikaans misken. Dring aan op Afrikaanse onderrig vir jul kinders. Praat Afrikaans by julle werkplek. Skep en skryf in jul moedertaal.

Want per slot van rekening wil ons almal graag vir Breyten verkeerd bewys.

 

Rudie van Rensburg is ’n oudjoernalis en vryskutskrywer.