Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXV: Androïed – ’n selfportret (tweede weergawe)


Lee Beeslaar - 2010-05-04

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie
Tweede weergawe van Lee Beeslaar se gedig:

Androïed – ’n selfportret

“Your system has encountered a serious problem and needs to shut down …”

Die spieël kaats brokkies menswees terug;
Elektriesblou die skerwe van die oë
wat desperaat soek na beheer voordat ek vlug –
Weg van ’n kind se onvermoë.
          Wis uit die frons en glimlag
          Want menswees
          en emosie
          is verdag.

Oefen tot dit maklik word.
Elk’ spier moet glad en goed beheersd vertoon.
Die kortsluiting in die moederbord
vereis dat ek myself verloën.
          Pantser met teenvirus
          en brandmuur
          die lus,
          die vuur.

Behou die kragbron deur te funksioneer;
Rudimente van organiese ontroering
onverbiddelik weer en weer
na die herwinningsblik te bring.
          Niemens tussen mense
          staan verstom
          oor grense
          wat verdom.

Onmenslik vreemd verstrengel
in geslote kringbane van dwang
lê die hart kwesbaar en bengel
tot die tyd my eindelik vang.
          Onttrek die koppelvlak
          met wilsbesluit;
          toevoer knak
          brand uit.



<< Terug na SkryfNet XXV <<