Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXV: Enigste I (tweede weergawe)


Lee Beeslaar - 2010-05-04

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie
Tweede weergawe van Lee Beeslaar se gedig:

Enigste I

Die sondes van die vadere

Ek was verwonderd oor jou eerste dowwe beeld;
Die eerste vlinderroering in my lyf –
My liggaam eindelik van waarde.

Jy’t my voltooi, volbring.
Volmaak het jy in my gegroei.
Al duideliker die beeld van jou in my.

Ek’t diep in my gaan soek
na alles wat verhaspel of verderf.
Ek wou dit uit my wese uitskroei.

Ek wou die skewe griffel van my erfenis
wegkeer van jou blanko lei,
jou ongeskonde hou.

Maar steeds was daar die vrees
dat al my strewe dalk verniet was;
dat ek steeds verydeling in my dra –

Toe ek jou die eerste maal kon vashou,
jou helder oë jou onherroeplik aan my bind;
jou honger mondjie oor my bors bevestig

Jy het my nodig.



<< Terug na SkryfNet XXV <<