Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Het die KKNK nog bestaansreg?


Jason Lloyd - 2010-04-28

Het die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) nog bestaansreg? Afrikaanssprekendes is tans almal benewel deur emosies en pyn wat nie gedelg kan word nie. Die gekerm oor Afrikaans se voortbestaan is kompleks en die bloed het al behoorlik op die geslagveld gespat. Menigtes is al in die proses van oorlogvoering vermink. Dié verminktes sien nie meer kans vir debatvoering nie. Hulle is moeg en uitgeput van die verdagmakery en verkies liewer om stil te bly.

En glo my, die laaste skote oor Afrikaans is nog nie geskiet nie. Daar gaan nog baie bloed en ook lewens verlore gaan in die stryd vir die moeder van alle Afrika-tale. Blikkieskos word versamel, gewere word skoon gemaak, nuwe barspunt-koeëls word gekoop en “hou-Afrikaans-links-veldtogte” word beplan, want dié oorlog is nog lank nie verby nie.

Die ander dag het Breyten Breytenbach sy hou ingekry deur te sê Afrikaans gaan in sy leeftyd uitsterf. Die bekende akademikus Ampie Coetzee stem saam en laat weet per e-pos: “Die Afrikaner is in sy moer in.” Ek weet nie hoekom Coetzee Afrikaans en die voorbestaan van die Afrikaner in een mengsel inklits nie.

Geharde verregses op die Matie-kampus wil Russel Botma bliksem, want hy word beskuldig dat hy Afrikaans as onderrigtaal op die altaar geplaas het. Wie weet, miskien is ’n sluipmoord op Botma nie uitgesluit nie. Dominee Botma kap terug en sê: “Hokaai my bra’s, ek wil die taal inclusive bevorder.” “Nee-nee,” skreeu die geharde Afrikaner-regses, “Engels, alles Engels is Maties se voorland.”

Die stormram-joernalis Max du Preez en Christo van der Rheede van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) klap mekaar heen en weer. Christo se bloed het gewaai; Max se snot het gespat, want Max het nie meer bloed oor nie. Sien, hy is al lankal deur Afrikaners gedoop as ’n kafferboetie. Sy gat is telkemale pers geslaan. En Max se bloed het intussen opgeraak; sy are is droog.

Volgens Max word bruines deur Afrikaners ingespan as kamoefleerdrag om eintlik vir die behoud van Afrikaner-regte te veg. “Nee,” sê Christo. “Max, bruines is nie stupid nie, en sal hulle nie deur Afrikaners laat misbruik nie.” Max spring op sy agterpote: “Nee, my bra, ek bedoel nie so nie. Ek wil maar net waarsku, moenie dat die boere julle misbruik nie. Indien wel, moenie hulle skiet nie, soen hulle liewer.”

Michael le Cordeur, Christo se handlanger, bestorm Max sonder om twee keer te dink en loop hom bloedneus in Max se vuiste vas. Max se reaksie was in die kol toe hy in ’n e-pos vra: “Is julle nie hopeloos oorgevoelig nie?”

Lionel Adendorf, voormalige Wes-Kaapse ANC-woordvoerder, sê Afrikaans behoort eintlik aan bruin mense en wil gevolglik ’n “hou-Afrikaans-links-veldtog” van stapel stuur om Afrikaans te red. “Die Afrikaners het hierdie taal 'n ‘hotnotstaal’ genoem en daarop neergekyk totdat daar in 1875 met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) deur 'n groepie Afrikaners besluit is om Afrikaans aan Afrikaner identiteit te koppel en het hulle ooreengekom dat die ‘beskaafde mense’ Afrikaans moet praat en reëls vir die taal moet vasstel.”

’n Mondvol. Kan enige groep meer verdeeld wees as Afrikaanssprekendes self?

Alle Afrikaanssprekendes is geregtig op ’n eie opinie, maar 20 Afrikaanse boeke by Exclusives (teenoor 20 000 Engelse boeke), en omdat mense sosiaal en in die huis nog Afrikaans praat, beteken nie alles is hunky dory met die taal nie. Die kreeftegang van Afrikaans (en ook belangrik: die stand van ander inheemse tale) as wetenskapstaal (’n taal waarin wetenskapsbeoefening en tersiêre onderrig geskied; ’n taal wat ’n volwaardige taal is vir alle funksies – wetgewend, wetenskaplik, juridies, ens) behoort ons bekommerd te maak.

En wat min mense weet, is dat tale sterf, by die troppe, veral deesdae met globalisering. Luidens ’n verslag van die Verenigde Nasies verlede jaar word sowat die helfte van die wêreld se sowat 6 700 tale voor die einde van die eeu deur uitwissing in die gesig gestaar. Afrikaans is miskien deel daarvan. En saam met die tale sterf tradisies, kruiekennis, kultuur en stories.

Die feit is: as Afrikaans, veral sy hoër funksies, sy gat sien, is die KKNK ook gedoem. Ons kan ons afvra of dit nie nou gepas sou wees vir die KKNK om begrafnisreëlings te begin tref nie.