Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate

Amsterdam-tafelronde oor Afrikaans: Rudolf Stehle gesels met Christo van der Rheede


Rudolf Stehle - 2010-04-22

Afrikaans is op 28 Mei vanjaar die onderwerp van ’n tafelronde in Amsterdam. Hierdie eendagkonferensie word deur die NZAV (Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging) georganiseer en deur die Nederlandse Taalunie gefinansier. Rudolf Stehle het met Christo van der Rheede gesels oor sy deelname.

Waarom woon jy die konferensie by?

Ek is uitgenooi om te kom praat oor die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se taalbemagtigingsprojekte en oor die Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU).

Wat behels die konsep van ’n Vrye Afrikaanse Universiteit?

Die idee van ’n Vrye Afrikaanse Universiteit is geïnspireer deur ’n koerantartikel in Sake-Rapport van November 2009. Dit het gehandel oor die Cida-universiteit in Johannesburg. Dié universiteit is deur die sosiale entrepreneur Terry Bletcher vir behoeftige studente van stapel gestuur. Dié studente het nie die geld om aan een van die tradisionele universiteite te studeer nie.

Baie meer instellings is nodig om die duisende aansoekers wat jaarliks by hierdie universiteite weggewys word, te akkommodeer. Ingevolge die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys wat in Februarie aan die Parlementêre Portefeuljekomitee verantwoordelik vir Hoër Onderwys voorgelê is, stel die outeurs van die verslag voor dat die kapasiteit van universiteite dringend in alle provinsies uitgebrei moet word.

Die belangrikste rede vir hierdie projek is dat ’n Vrye Afrikaanse Universiteit toeganklik sal wees en die volgehoue beoefening van die wetenskap deur middel van Afrikaans sal verseker. Dit sal gehalte-moedertaalonderrig bied en sodoende gegradueerdes lewer wat oor die nodige kwalifikasies en vaardighede beskik om in die behoeftes van ’n ontwikkelende staat soos Suid-Afrika te voorsien. Hierdie ideaal word egter deur ’n wye verskeidenheid faktore aan bande gelê, onder andere:

  • die hoë studie- en verblyfkoste van universiteite waar daar nog in Afrikaans klas gegee word
  • die lae deelnamekoers vanuit arm Afrikaanse gemeenskappe
  • die beperkte aantal beurse beskikbaar vir studente wat nie kwalifiseer as African Black nie
  • die hoë uitvalkoers op skoolvlak
  • die gebrekkige akademiese voorbereiding op skoolvlak en groot aantal leerders wat nie behoorlik kan lees, skryf of somme doen nie
  • die stelselmatige verengelsing van hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika
  • die algemene vervlakking van akademiese standaarde in Suid-Afrikaanse skole en tersiêre instellings.

Ons operasionele strategie is daarop gemik om oorhoofse onkoste tot die minimum te beperk, dit wil sê geen groot geboue nie, maar net ’n plek waar die administrasie gehuisves kan word. Verder wil ons die kurrikulum virtueel, dit wil sê deur middel van die internet, lewer. Ons beoog om satellieteenhede op die platteland te vestig waar studente byeenkom om:

  • eksamen te skryf
  •  in groepe telematiese onderrig te ontvang,
  • groepwerk te doen en voorleggings aan besoekende dosente te doen
  • bepaalde aspekte van die kurrikulum saam met ’n besoekende dosent deur te draf
  • saam met meer ervare studente of mentors deur moeilike studiemateriaal te werk.

 
Ons aksieplan vorentoe behels:

  • gemeenskapsvergaderings plaaslik en oorsee
  • die stig van VAU- gemeenskapsgespreksforums
  • die samestelling van ’n databasis van kundiges wat hul dienste vrywilliglik sal aanbied
  • deelname aan die Amsterdam-konferensie
  • die skep van kundigheidskomitees
  • die samestelling van ’n strategiese en operasionele plan

Wat verwag jy van die konferensie?

Om vennootskappe met Nederlandse organisasies te sluit.

Die organiseerders se uitnodiging noem dat die hooffokus van die konferensie die loods van praktiese projekte is. Watter projekte gaan jy namens die SBA aan die aanwesiges bekend stel?

’n Skoolsteunprojek om gehalte-onderwys en leerderprestasie te verbeter

Wie (gaan) baat by die projekte wat jy bekend gaan stel?

Skoolgemeenskappe in die Wes-Kaap

Kan jy meer uitbrei oor die SBA se taalbemagtigingsprojekte?

Die SBA se taalbemagtigingstrategie bestaan uit vier bene:

1.       Ekonomiese bemagtiging

Gebrekkige geletterdheids- en entrepreneuriese vaardighede in die arbeidsmark strem ekonomiese vooruitgang. Dit gee aanleiding tot werkloosheid en skep omstandighede waarin misdaad en ander maatskaplike euwels floreer. Om dit te help oorkom, het die SBA ’n vaardigheidsprogram vir werklose volwassenes van stapel gestuur en tot op datum meer as 3 000 mense opgelei. Die opleiding bied hulle die kundigheid om die arbeidsmark met selfvertroue te betree, behoorlik te kommunikeer en ’n professionele diens te kan lewer.

2.       Opvoedkundige bemagtiging

Gebrekkige leesvaardighede op laerskoolvlak lei tot swak matriekuitslae en ’n hoë uitvalkoers onder leerders. Die SBA is deur die Wes-Kaapse Onderwysdistrik genader om skole in die Atlantis-omgewing met ’n leesprogram en aansluitende ondersteuningsprogramme by te staan. Die SBA het toe ’n leesprogram, genaamd Projek Skoolseun, by laerskole van stapel gestuur. Die projek word vanaf graad 4 tot 6 geïmplementeer. Dit behels die plasing van ’n ervare en afgetrede leesonderwyser in elke skool om leesondersteuningsprogramme vir die sukkelende leser aan te bied. Tans verskaf die projek gespesialiseerde leesonderrig aan 1 000 leerders met swak leesvaardighede.

Hierbenewens voorsien die SBA addisionele leesmateriaal aan 350 skole en bied ons addisionele eksamenvoorbereidingsklasse vir hoërskoolleerders aan. Die SBA bied ook leesonderrig- en bestuurswerkswinkels aan vir onderwysers en skoolhoofde om ’n hoogs funksionele en effektiewe skoolomgewing te help verseker.

3.       Kulturele bemagtiging

Suid-Afrika se diverse taalerfenis is ’n waardevolle bate waarmee gemeenskappe bemagtig kan word sodat hulle ’n selfonderhoudende bestaan kan voer. Die SBA is aktief betrokke by steunwerwing vir die optimale benutting van ons kulturele hulpbronne en wys veral op dit wat deur Afrikaans vermag word. Die SBA werk saam met verskeie kunstefeeste en fokus veral op gehoorontwikkeling en die gebruik van drama om die opvoedkundige en ekonomiese moontlikhede van Afrikaans te belig.

4.       Sosiale bemagtiging

Sosiale kohesie tussen die taalgemeenskappe in Suid-Afrika word deur baie faktore, soos onkunde, wantroue en vooroordele, aan bande gelê. Dit is die gevolg van ons politieke geskiedenis, diverse agtergronde en die voortgesette klasse- en etniese ongelykhede in ons land. Om dit te help oorkom, doen die SBA voorspraak deur middel van navorsing en referate waarin ons die opheffing van al ons inheemse tale bepleit. Dit doen ons in samewerking met organisasies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), Project for the Study of Alternative Education in South Africa (Praesa), die Independent Development Trust (IDT) en Public Participation in Education Network (PPEN).