Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Hier kom die sensitiewe stoeiers met The Rude Mechanical: Foto’s


Annie Klopper - 2010-04-22


Foto’s: Annie Klopper


As dit kom by stemgimnastiek, is Werner Olckers, voorsanger van die Pretoriaanse groep Wrestlerish, se beheersing tussen intervalle grasieus en soomloos. Nie slegs die sterk voorsang nie, maar ook ’n verfrissende aanslag tot liriese wenresepte, maak hierdie groep tans een van die mees opwindende bands op die plaaslike toneel. Hulle stoei dalk op poëtiese wyse met heelwat eksistensiële krisisse en romanses, maar met melodieë word daar allesbehalwe geworstel – die gevoelswaarde van die lirieke, en Werner se warm stem, laat die note tot ’n rype volheid swel.

Wrestlerish se musiekvideo vir die enkelsnit “Bad News” geniet nou al vir ’n geruime tyd hoë rotasie op die musiekkanaal MK, en nadat die groep by heelwat plaaslike feeste ’n opwagting gemaak het (onder meer Splashy Fen, Oppikoppi Smoorverlief, Oppiaarde, Rocking the Daisies, Old Mutual Encounters en M-Net se Magic in the Music) het die debuutalbum The Rude Mechanical onlangs verskyn.

As jy bloot straightforward balls-to-the-wall rock ’n roll soek, gaan jy dit nie hier vind nie. Ten spyte van die rockgrondslag is dit ’n onopgesmukte, dog sensitiewe, emosiegedrewe akoestiese popklank wat Wrestlerish se debuutalbum toeganklik maak.

Wrestlerish bestaan buiten Werner (wat sing en kitaar speel) uit Jacques du Plessis op klavier en agtergrondsang, asook David Grevler op baskitaar, en Gavin Flaks slaan tromme. Hulle het al ’n verhoog gedeel met heelwat bekende plaaslike kunstenaars en groepe, soos aKING, Goldfish, Freshlyground, Watershed, Heinz Winckler, Fokofpolisiekar en Dear Reader. Hulle het ook al saam met plaaslike legendes soos Johnny Clegg and Valiant Swart opgetree.

As ’n mens kyk na hierdie lys name, is dit duidelik dat Wrestlerish reeds saam met die vet visse in die plaaslike musiekpoel swem. Dis net ’n kwessie van tyd voor die Suid-Afrikaanse gehore behoorlik van hulle kennis neem. En met The Rude Mechanical, waarvan die liedjies die vermoë besit om vir dae aaneen nog in jou kop te draai, maak hulle dit vir ons moeilik om hulle te ignoreer.

Ek was by die Kaapse bekendstelling van The Rude Mechanical waar the Lottery Tickets en Ashtray Electric die verhoog geopen het en ek het die foto’s om dit te bewys:



Jacques du Plessis speel klavier en sing in die agtergrond.