Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Uittreksel uit Marike se laaste dans


Deborah Steinmair - 2010-04-22

Marike se laaste dans
Deborah Steinmair

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151467
Prys: R160

Die verteller, Maud, sien van kleins af dinge wat nie daar is nie. Op ’n dag verskyn Marike, ’n voormalige presidentsvrou, aan haar by ’n robot. Sewe jaar nadat sy vermoor is, wil Marike aanbeweeg ... Vervleg met die vertelling van Maud en Marike se sporadiese ontmoetings, ontvou die verhaal van Maud se “regte” lewe. Magies-realisties, humoristies, verbeeldingryk.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Marike se laaste dans nou van Kalahari.net!

**********************************

Ek sien haar die eerste keer sewe jaar ná haar dood.

My naam is Maud Grobler en my lewe lank sien ek dinge wat nie daar is nie.

Ek sien nie dikwels spoke nie, behalwe soms uit die hoek van my oog. Wanneer ek my kop in hul rigting draai, het hulle lankal verkas.

Die ondooies meld hulle gewoonlik bloot as ’n teenwoordigheid by my aan: ek stap ’n vertrek binne en weet dat iemand onsigbaar in die leunstoel in die hoek sit en tob. Of hulle teister my drome.

Hulle maak my nie bang nie.

Maar daar staan Marike by die robot naby haar woonstel, roerloos soos ’n stilfoto. Net haar klere lig in die wind.

Sy druk ’n paprandhoed met een hand vas teen die suidoos. Sy dra ’n wit vloothemp en swart rompie. Haar blik rus op die verste horison. Sy frons met mening. In haar ander hand klem sy ’n klein reistassie vas.

Sy laat my dink aan Jacques Brel se Timid Freda with her valises held so tightly in her hand

Net buite Kaapstad, agter ’n moeras digby Bloubergstrand, hurk ’n woonstelkompleks met ’n dak wat herinner aan Liewe Heksie se hoed. Dis ’n nasionale vingerwysing.

Ek weet nie of ek slaap of wakker is nie. Miskien is dit alles ’n kollektiewe droom.

Op 4 Desember 2001 is Suid-Afrika se laaste blanke Presidentsvrou hier vermoor deur ’n tingerige sekuriteitswag. Al wat hy gesteel het, was haar horlosie en selfoon. Miskien wou hy ook die Nobelprys vir Vrede wat haar eksman losgeslaan het, buit.

Ek het haar nooit in die lewe ontmoet nie. Ek het haar nie geken nie. My woede oor haar moord is persoonlik. In my kop is sy die plakkaatnooi van Christelike Afrikanernasionalisme wat sy kruin bereik het in die middel en sy gat gesien het kort voor die einde van die vorige eeu.

Sy het ingekoop in die ideaal wat aan ons almal voorgehou is, van die raakvattervrou as helpmaat, klankbord en voetstoel van haar man; as tuisteskepper en woekeraar vir liefdadigheid. Tegelyk elegante modepop, grasieuse gasvrou en klein patroon – rustelose intellek of te not.

In my kop is sy saamgebondel met briljante, neurotiese slagoffers van hul eie mentaliteit en die voorskrifte van hul tydsgees, soos my ma en Sylvia Plath. Nerveuse presteerders wat bly ywer het om die liefde van hul pa’s te verower.

Die getrouste proponente van die vorige eeu se verwagtings het fronsend gestol. Hulle kon nie in gelid bly met die tyd nie. Hulle het uit die mode geraak soos WB Yeats se stokou deuntjie. Hulle het die hand aan eie lewe geslaan of in die agtermiddag in netjiese woonstelle na die son op die see gestaar met ure om te verwyl voordat ’n moffie-pel hulle kom oplaai vir dansklas.

Die Marike in my kop het nie sinneloos gesterf om eers 36 uur later deur haar haarkapper op die vloer ontdek te word nie.

Omdat dit ’n droom is, kan ek op enige punt begin . . .

**********************************

Daar staan Marike langs die pad met haar tassie, soos Brel se Bedremmelde Freda.

Die verkeerslig word groen, maar ek trek af en hou met skreeuende remme langs haar stil, sonder om my flikker aan te sit, tot groot ontsteltenis van ’n ry taxi’s agter my.

“Mevrou de Klerk, kan ek u ’n geleentheid gee?”

“Dit sal danig gaaf wees, Maud.”

“Ken u my?”

“Ek lees jou soms op die internet, my skat. LitNet en Die Burger is oral beskikbaar.”

“Aan . . . die Anderkant ook?”

“O ja. Dit vat net ’n bietjie langer om af te laai.”

“Mevrou . . .”

“Noem my Marike, mens. Ek’s nie seker hoe oud ek nou is nie en wie weet of ek nog ’n mevrou is.”

“Waarheen gaan ons?”

“Besluit jý, my skat. Ek is hartlik sat georganiseer. Ek is hier om te leer ontspan, soos oom Diederik moes leer huil.”

“Van Melle. En oom Karel wat sy geweer saamgeneem het.”

“Alhoewel daar nie hekke is nie. Maar dis ontstellend hoeveel hunkering daar steeds bestaan. Jy sal eendag weet: dis nie so eenvoudig om ’n lyf af te skud nie.”