Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

Ons ry die Kompasbergsirkelpad naby Nieu-Bethesda


Debra de Jager - 2010-04-20

Ons ses dae op Nieu-Bethesda in die Karoo sou nie dieselfde gewees het as ons nie die eerste bewolkte dag op ons BMW GS Adventure-motorfiets gespring het en die sirlkelpad rondom die Kompasberg gaan ry het nie.

Dus sny ek en my man, Eugene, toe so tienuur die oggend ’n lyn uit die dorp. Ek’s heel opgewonde om my rystewe weer terug te hê, want ons onlangse trippie deur die Baviaanskloof het my nogal sensitief gelaat vir motorfietsry. Dis asof mens se boude nooit weer agterop ’n motorfiets wil sit nie.

Die teken geen jou ’n idée van die rigtings soos aangewys uit die middel van die dorp.

Die pad lyk toe darem nie te erg nie en ons is skaars een kilometer uit die dorp toe my ongerief lankal vergete is. Ek gil van lekkerkry, want daar’s darem niks lekkerder as om die veld te ruik en die wind op jou lyf te voel nie. Ons eerste stop is vir ’n skilpad, wat rustig staan en suip aan ’n plassie water wat ná gisteraand se ligte bui reën oorgestaan het. Min het ons geweet dat die skillie net die eerste teken was van ’n reuse-avontuur wat hom daardie dag sou afspeel.

Ná 20 minute se ry stop ons by die groot damwal wat ons vermoed Peet-se-dam moet wees. Peet-se-dam is bekend onder die ouens wat al jare lank hier vakansie hou, en ek is bly ons het dit gekry, want  ’n mens kan nogal kook in die Karoo. Ons swem nie dié keer nie, want ons is haastig om die pad te vat Kompasberg toe. Ek is boonop bekommerd dat oom Peet ons met sy haelgeweer gaan kom verjaag. Ons het darem later uitgevind dat hy ’n baie vriendelike boer is en selfs ’n bier vir jou sal aandra as hy jou daar sien swem.

Eugene het die Kompasbergpad vantevore op sy Garmin-kaart bestudeer, en hy meen toe dat mens reg rondom die Kompasberg kan ry. Dis ’n goed geskraapte grondpad wat maklik ry. Wel, ná Baviaanskloof is alles makliker.

’n Uitsig oor die bergagtige vallei-area

Die eerste ongewone ding op ons pad is ’n geverfde boomstomp op linkerhand en toe ’n bietjie verder op regterhand ’n paar mosterdkleurige arbeidershuisies. Dis spoggerige arbeidershuisies, want elkeen het ’n sonpaneel op die dak en ’n oulike stoep met ’n lekker uitsig oor die vallei. Wanneer jy die draai na links neem, sien jy ’n hele paar geboue, ’n klein kerkie en ’n groter gebou wat soos ’n konferensieplek lyk. Hierdie mense het die regte idee.

Die magiese Kompasberg in die verte

En so verras die Karoo ons deurentyd. Elke nou en dan kom ’n mens op ’n plaas of ’n ou opstal in die middel van nêrens af. Dit verbaas my nie eintlik nie, want die area is ongelooflik mooi. Dis oortrek met duisende klipstapels wat lyk asof hulle met die hand opmekaargestapel is. Volgens argeoloë is die stapels gevorm as gevolg van die feit dat die area vantevore vulkanies was: Soos die lawa mettertyd begin wegwas het, is dié ongewone klipstapels nagelaat. Dit lyk soos figure en dit voel asof “hulle” waghou oor die area.

’n Mens sal vergewe word as jy sou dink dat die area droog is, maar tot ons verbasing is volop water langs die pad te sien. Miskien het dit te make met die feit dat die Sondagsrivier sy oorsprong in die vallei het. Nog ’n aanduiding van water is die populierbosse wat kort-kort ’n heldergroen oase in die andersins rooikleurige Karoobossiegebied skep. Dis ’n welkome afkoelplek. Sonder die brul van die motorfietsenjin word jy bewus van die wind se geritsel en word jy meegesleur deur die blaresang.

’n Prentjie-mooi opstalgebou uit die plaaslike klip

Volgende ry ons deur ’n hek wat sê “Eureka Highlands Nature Reserve” en nie lank daarna nie ry ons verby die afdraai na die plaas Eureka (“eureka” beteken “ek het dit gevind”), wat weggekruip sit in sy eie populierbos. Dit lyk na ’n ou familieplaas, want dit het sy eie familiebegraafplaas, ’n bywonershuis, ’n groot plaashuis en talle opstalle. Ons is sommer in vervoering, want ons kan onsself nogal daar sien woon.

Een van die talle damme op die pad

Maar laat ek meer oor die area vertel. Probeer jou indink: Ons ry op ’n sirkelpad van wes na noord. Links van jou loop die Sondagsrivier en orals is klein stroompies te sien wat weer terugloop oor die pad. Op ander plekke is daar spruite wat sommer hulle oog in die gras langs die pad het. Aan jou regterkant is kranse met talle grotte wat van die pad af gesien kan word.

Daar is fossiele van 253 miljoen jaar gelede in die grotte. Op baie plase in die area, byvoorbeeld Ganora, word begeleide staptoere aangebied waar jy die fossiele van nader kan beskou. Daar is ook heelwat geskiedenis oor die Anglo-Boeroorlog, as jy in dié tipe ding belangstel.

Die Kompasberg is skuins regs voor ons. Oor ’n paar kilometer sal ons omtrent reg agter hom wees, dus aan sy noordekant. Sy naam, meen ons, verwys na die vorm van sy bokant, wat soos die voorpunt van ’n sonwyser lyk. Sy skerpste punt wys presies noord en sy agterpunt suid. Dit is die hoogste berg in die Oos-Kaap, met ’n hoogte van 2 502 meter. Ons klim geleidelik hoër en hoër met elke kilometer wat ons ry. Soms kan ons nie die berg sien nie en ander kere is dit heeltyd aan ons regterkant sigbaar.

Die donker wolke oor die plaaslike kerkie voor die storm uitbars.

Net na The Valley Guest Farm kry ons die afdraai na Kompasberg, en ons ry met die plaaspad langs tot by ’n ou plaashek. Omdat ons nie voor die tyd met die boer reëlings getref het nie, draai ons daar om en belowe onsself om op ’n later stadium terug te kom.  

Dit neem blykbaar net so oor die vyf uur om die Kompasberg van onder tot bo uit te klim en terug te ry. Dis ’n redelik tawwe tog, maar daar’s ’n paar moeilikheidsgrade om van te kies, so enigeen kan dit doen.

Ons ry verby ’n hele paar damme, waar volop voëls is. Ons sien bloukransvoëls, ’n magdom eende en ander watervoëls. Nou is ons besig om stadig maar seker om die noordelike punt in ’n oostelike rigting te ry.

Ná die Middelburgafdraai (as jy reguit aanhou, ry jy Richmond toe) word ons deur die Bergplaas Natuurgebied begroet, wat ’n heel ander tipe plantegroei het. Dié gebied, wat oor 7 000 hektaar strek, behoort aan prinses Irene van Nederland, en oor die afgelope paar jaar is dit na die oorspronklike natuurlike landskap van grasveld en bosse herstel. Die Spirit of the Wild-program word jaarliks by Bergplaas aangebied, wat blykbaar in almal wat dit bywoon, ’n wonderlike hereniging met moeder natuur teweegbring. Niemand kan van die magiese energie van dié area ontsnap nie.

So lyk die Kompasberg op ’n bewolkte dag, van die suidelike kant gesien.

Kort voor lank sien ons ’n groep blesbokke wat die heuwels vol staan. Omtrent elke paartjie wat mens sien, het ’n kalf by hulle. Anders as die ouers, is die kalwers rooibruin en is hulle skaars sigbaar teen die rooi agtergrond.

Nie veel verder nie sien ons ’n paar zebras en blouwildebeeste tussen die blesbokke, en toe spring ’n hele trop springbokke ligvoets voor ons oor die pad.

’n Klein familie-begraafplaas naby Eureka

Die Karoo is nou maar eenmaal vol verrassings. Dis geheimsinnig en onvoorspelbaar. Daar is ’n magiese energie wat uit die punt van die Kompasberg spruit. Hy eis aandag en kry dit. Hy laat jou magteloos en nederig, maar nie sonder om jou te inspireer en te motiveer nie. Hy hits jou aan om verder te gaan, hoër te klim en harder te probeer. Hy praat direk met jou siel, verduidelik alles, luister en antwoord al jou vrae.

Ons gil van genot oor die laaste paar kilometer; ons het nou net regs gedraai in die rigting van Graaff-Reinet en is net ’n paar kilometer van Nieu-Bethesda af. Ons is opgewonde oor ons ervaring deur wat seker die mooiste Karoo-landskap is wat ek nog ooit gesien het.

Ons stop by ’n natuurlike dam wat van reuse-rivierkrappe krioel, maar dis die perfekte afkoelplek ná ’n lang stofpad. Die sirkelpad het ons omtrent vier uur geneem en dit was beslis elke kilometer daarvan werd. Ek koel my voete tussen die krappe af terwyl ek hard probeer om die dag se beelde vir altyd in my geestesoog vas te vang.

Ek koel my voete af tussen die krappe.

Terug in Nieu-Bethesda sit ons met ’n koue drankie en vertel ons vriende van ons ervaring. Ek verstaan nou vir die eerste keer waarom soveel kunstenaars inspirasie put uit hierdie area.

Ewe skielik bars ’n Karoostorm rondom ons los. Die strate oorstroom en die kinders ry op hulle fietse rond met swartsakke oor hulle klere. Ons kry ons tweede asem en vaar die strate in met ons kameras, en loop al met die leivore langs tot by die bruggie naby Helen Martins se agterplaas.

Ons kyk vir oulaas in die rigting van die Kompasberg. Ons voel verryk en geïnspireer na die dag se ervaring en word herinner aan ’n onsigbare kompas wat ons dryf om elke dag nuwe paaie te ontdek.