Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Wat is die verskil tussen Malema en Dozi?


Jason Lloyd - 2010-04-19

Wat is die verskil tussen die stormram-politikus Julius Malema en die Afrikaanse musikant Henk Opperman, beter bekend as Dozi? Dit is die vraag wat onwillekeurig by my opkom nadat Dozi by die pas afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) ʼn Malema op homself getrek het deur die lirieke van die nou alombekende liedjie “Skiet die boere” in “Skiet die kaffers” te verander. Dozi is deur my in die Swiss Bistro-restaurant in Baron van Rheedestraat in Oudtshoorn uitgevang toe hy die gewraakte k-woord gebruik het. Hy was onbewus van my teenwoordigheid as joernalis wat by die feeskoerant Krit diens gedoen het.

Maar eers: Eish, die verandering van apartheid Suid-Afrika na ʼn nuwe Suid-Afrika is g’n walk in the park nie. Trouens, ons is ’n bleddie naïewe klomp Suid-Afrikaners wat dink versoening, en veral ekonomiese transformasie, gaan oornag plaasvind. Ons almal word nog deur ons emosies soos tronkvoëls aangehou. Ons is blind en gevoelloos, want ons kan nie die boeie aan ons arms en voete sien en voel nie. ʼn Beduidende aantal mense weier om uit daardie tronk te ontsnap, bloot omdat dit ʼn gemaksone is. Ons voel te bleddie jammer vir onsself. Dit is mos lekker om "kaffer", "hotnot", "boer", "koelie" of "rooinek" te skreeu. In die proses stereotipeer ons mekaar en kies ons dikwels kortpad met growwe veralgemenings – met die aanname dat ons weet waarvan ons praat.

Ons neem sommer so uit die bloute aan dat ons mekaar ken. Dat ons mekaar se leefwêreld al betree het. Dat ons mekaar se stories ken en dat ons dit kan oorvertel of oorskryf. Dat ons weet hoe dit is om swart te wees. Hoe om bruin te wees. Hoe om wit te wees. Hoe om Indiër te wees.

Hoekom kan ons nie meer presies wees nie? Hoekom kan ons nie meer eerlik wees nie? Hoekom kan ons nie sê ons ken mekaar glad nie? En as ons dit doen, moet ons begin presies waar ons moet begin; heel aan die begin. Ons moet leer om nederig te wees. Ons moet die tronkkettings van emosies breek.

Ons moet uit ons gemaksones breek. Ons moet vry word. In die proses moet ons nuwe vere en vlerke ontwikkel. Ons moet onbeperk rondvlieg. Ons moet mekaar se landskappe en ruimtes betree. Ons moet wêreldburgers word. As ons nie nou begin nie, sal ons "long walk to freedom” nooit eindig nie. Omdat ons mekaar nie ken nie, moet ons reeds mekaar begin respekteer.

Die Malema-Dozi-fenomeen is ʼn direkte gevolg van ons ontkenning. Dit is reeds waarom dit manifesteer op alle vlakke van ons samelewing, want ons is ʼn nasie wat in ontkenning leef. Dink maar aan wat die Mbeki-Manto-vigsontkenning-sage aan die politieke en morele psige van die land gedoen het.

Dink aan die gevolge wat ons eie ontkenning aan die land en nageslag kan en gaan doen.

Ek wil die begrip rassistiese selfmoord bepleit. Ek wil aansluit by die digter Antjie Krog wat groter begrip vra vir Malema se uitsprake. Maar ek wil dit verder neem en ook begrip vra vir Dozi. Ek sou wou pleit dat daar deeglik kennis van geneem moet word hiervan, en dat ons dan aanbeweeg. Kom ons begin ʼn “kreolisering van begrip”.