Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate

Amsterdam-tafelronde oor Afrikaans: Rudolf Stehle gesels met Ingrid Scholtz


Ingrid Scholtz - 2010-04-16

Afrikaans is op 28 Mei vanjaar die onderwerp van ’n tafelronde in Amsterdam. Hierdie eendagkonferensie word deur die NZAV (Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging) georganiseer en deur die Nederlandse Taalunie gefinansier. Rudolf Stehle het met Ingrid Scholtz gesels oor haar betrokkenheid.

Waar kom die idee vir 'n konferensie vir die bevordering van Afrikaanstalige onderwys en opleiding vandaan?

Die idee om Suid-Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse organisasies bymekaar te bring rondom Afrikaanstalige onderwysprojekte het oorspronklik gekom van Ludo Helsen, die provinisiale minister vir kultuur en internasionale betrekkinge van Antwerpen. Die konferensie in Amsterdam is die opvolgkonferensie van die een wat in Mei 2009 in Antwerpen gehou is. Die idee van die konferensie in Amsterdam is vir die eerste keer deur Joris Cornelissen, ’n lid van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV), tydens die byeenkoms in Antwerpen geopper. Die NZAV organiseer die konferensie in Amsterdam en die Nederlandse Taalunie finansier die konferensiedag. Die idee was dat een konferensie nie genoeg was nie en dat die proses deurlopend moes wees – ’n tweede konferensie sou dan meer praktiese doelstellings hê.

Hoe het jy daarby betrokke geraak?

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het reeds jare gelede met die idee gekom om ’n kantoor vir Afrikaans in die Lae Lande te open. Toe my man, die joernalis Leopold Scholtz, in Januarie 2008 deur Media24 na Brussel verplaas is, het ek hierdie kantoor begin. Dit was uit die staanspoor die bedoeling dat ek al die verenigings en instellings wat hulle besig hou met Afrikaans en projekte vir Afrikaanstalige mense, sou verteenwoordig. Tans verteenwoordig ek ook die Afrikaanse Taalraad (ATR). Die kantoor  is in April 2009 amptelik geopen deur die voormalige president van Suid-Afrika, FW de Klerk. Die ander twee beskermhere is Ton Vosloo en Christo van der Rheede van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Wat hoop jy as een van die organiseerders om met die konferensie te bereik?

Die Antwerpen-konferensie was veral bedoel om vir die eerste keer Suid-Afrikaanse organisasies en Nederlandse en Vlaamse instellings en organisasies by mekaar uit te bring, met ander woorde om ’n netwerk te skep. Die tweede konferensie wil veral praktiese projekte van stapel laat loop rondom Afrikaanstalige onderwys en opleiding in die breedste sin van die woord. Die program het drie afdelings:

1. Bemagtiging deur opleiding. Hierdie deel is veral gerig op die aktiwiteite van die SBA.
2. Beroepsonderwys, onder meer gerig op die tegniese opleiding van Solidariteit, maar ook op die SBA en die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT).
3. Uitruilprogramme in die breedste sin van die woord: uitruil van leerlinge en onderwysers, maar ook van idees.

Jy verteenwoordig ook Afrinetwerk. Wat is Afrinetwerk?

Afrinetwerk is ’n nierassige en inklusiewe inisiatief van ’n paar organisasies in Suid-Afrika wat in Nederland en Vlaandere die aandag vestig op die posisie van die Afrikaanssprekende minderheid in daardie land.

Die politieke, maatskaplike en ekonomiese omgewing waarin Afrikaanssprekende mense in Suid-Afrika moet oorleef, het sedert die politieke veranderings van 1994 drasties verander – in sommige opsigte ten goede, in ander opsigte negatief. Om hul taal en toekoms veilig te stel sal Afrikaanse mense dus vernuwend moet dink en na nuwe moontlikhede moet soek om te kan oorleef. Een so ’n moontlikheid – en daar is nog baie meer – is die oprigting in Nederland en Vlaandere van ’n kantoor wat aandag vra vir die belange van Afrikaanssprekende mense in Suid-Afrika.

Volgens die amptelike uitnodiging is die primêre fokus van die konferensie die loods van praktiese projekte. Wat is van die praktiese projekte?

’n Kort toeligting by bogenoemde projekte: Wat die SBA en die skolingsprogramme van Solidariteit betref, fokus die eerste twee programme op die maniere, naas finansiële steun, waarop Nederlandse organisasies die Suid-Afrikaanse organisasies die beste kan ondersteun.

Eerstens is daar die praktiese ondersteuning van die SBA-organisasie, byvoorbeeld deur (gratis) insette van Nederlandse interns/studente in bestaande of nuwe projekte. Dit bied aan Nederlandse studente ’n goeie geleentheid om ook Afrikaans onder die knie te kry en met Suid-Afrika kennis te maak.

Tweedens is daar die inhoudelike ondersteuning van nuwe SBA-onderwysprojekte.

Derdens sal moontlikhede uitgewerk word om Afrikaanstalige Suid-Afrikaners werkervaring of ’n deel van hul opleiding in Nederland te laat (op)doen. Dit vergroot die reikwydte en ervaring van Afrikaanstaliges en maak hulle uiteindelik by hul terugkoms sterker op die arbeidsmark.

Die derde program fokus op lespakkette vir laer- en hoërskole en op uitruilprogramme. Hieraan word reeds gewerk. Ook die uitruil van dosente maak deel uit van die moontlikhede – dergelike programme bestaan reeds. ’n Vriendin van my wat by ’n onderwyskollege hier in Nederland werk, het al jare lank ’n Suid-Afrika-module, en daar word elke jaar opkomende onderwysers na Suid-Afrika gestuur en Suid-Afrikaanse studente kom ook elke jaar na Nederland.

Daar word ook vir die jaar 2011 ’n Afrikaanse Fees in Vlaandere en Nederland beplan, onder meer om die algemene publiek meer bekend te maak met Afrikaans.