Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXV: Joan Hambidge se eerste verslag


Joan Hambidge - 2010-04-15

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie
Eerste verslag deur Joan Hambidge:

 

Die grootste mite op aarde is dat ‘n digter ‘n sensitiewe persoon is en daarom goeie gedigte skryf. Jy moet wel leer om jou emosies te manipuleer en te beheer, maar die belangrikste vaardigheid wat jy moet aanleer, is om die gedig tegnies te beheer. En hiervoor moet jy ten minste Groot verseboek 2000 lees en bestudeer. Die volgende handleidings kan jou verder help:

  • Camille Paglia se Break blow burn, wat in 2005 by Pantheon Books in New York verskyn het en waarin sy 43 klassieke gedigte in die Engelse digkuns lees;
  • Ruth Padel se The poem and the journey, wat in 2007 by Chatto & Windus in Londen verskyn het. Hierin word ook na klassieke gedigte in die Engelse letterkunde gekyk en die skrywer fokus eweneens op die tegniek van skryf;
  • Annie Finch en Kathrine Varnes is die twee gedugte redakteurs van An exaltation of forms, wat in 2002 by Ann Arbor by die University of Michigan Press verskyn het en vir die leser verduidelik wat ‘n pantoem, villanelle, rondeel, sonnet, ensomeer behels; en
  • Ottone M. Riccio se The intimate art of writing poetry, wat in 1978 by Prentice Hall in Londen verskyn het, bly ‘n ou staatmaker.

Om te dig, beteken nie dat jy sommer uit jou kop uit dig nie. Skaf ‘n woordeboek aan, en veral verklarende woordeboeke is ook handig.

Jou vriende en geliefdes sal moontlik altyd van jou gedigte hou. Vermy hulle kommentaar of goedkeuring. Of ‘n geliefde kan dalk juis nie van die gedig hou nie, omdat dit dan anders gebeur as hoe hy/sy dit ervaar het. ‘n Gedig is nie ‘n getuigskrif nie. Dit werk met taalfunksies en word binne ‘n bepaalde tradisie gepubliseer.

Lees ook buite die Afrikaanse digkuns: Anna Akmatova, Sylvia Plath, Anne Sexton, Charles Simic, Vernon Scannell. Gaan kyk op die internet na poetry.org se webruimte. Hier sal jy belangrike digters se werk gratis kan aflaai.

Uiteindelik is ‘n klassieke gedig ‘n belangrike leerskool. Skroef die gedig uitmekaar en kyk hoekom die gedig oortuig of met jou praat. ‘n Goeie digter gebruik sekere tegnieke in ‘n gedig om ‘n boodskap oor te dra.

Die onderstaande is ‘n mantra wat kan help wanneer jy dig:

  • Dít wat ek wil sê, moet op ‘n eerste vlak duidelik wees.
  • Daarna kan dit simboliese of komplekse interpretasies oproep.
  • Elke woord moet op sy plek wees – gooi oordadige woorde uit.
  • Bly weg van vae of gesogte beelde.
  • Dig konkreet en span jou sintuie in om ‘n abstrakte gedagte oor te dra.
  • Jou beelde moet klop – dis wat beeldkongruensie beteken.
  • Is my titel ‘n sleutel vir en tot my gedig?
  • Het iemand anders dit al beter en flinker in Afrikaans gedoen? Indien wel, moet ek op daardie gedig verbeter.

Joan Hambidge



 

Lee Beeslaar: "Androïed" en "Enigste I"

 

“Androïed”

Beste Lee

Nou ja. Oor die verhouding tussen die rekenaar en die mens is daar al baie geskryf, en hoe rekenaars ekstensies van die self is, kom in hierdie gedig na vore. Ek vind dit ‘n knap idee, maar vir my gevoel moet die gedig nog loskom en minder teoreties wees.

Die slot (“geslote kringbane”) aktiveer die spanninge in die gedig. Mooi idee, maar dit moet meer vaartbelyn verloop.
Jy maak nog te veel stellings soos “lewer die verwagte uitsette ...”.

Terloops, is dit korrek: “verwonderd oor gewone menswees wat moeiteloos / oorspoel in emosie”? Kort die vers in.

Probeer hiervan ‘n ballade maak. As dit nie werk nie, kan jy kyk hoe die gedig weer uitval.

Sterkte.
Joan

 

“Enigste I”

Beste Lee

Oor moederskap het Eybers aangrypende verse geskryf. Wanneer jy hierdie tema aanraak, sal jou gedigte met Eybers s’n vergelyk word.

Ek dink die toon van die gedig steur die leser. Dis te sentimenteel en selfs melodramaties (“ek het in my siel gegrawe”).

Jy moet die moederskap-idee sterker uitwerk.

Of ken jy die verruklike vers van Sylvia Plath “Morning song”?

Morning Song

Love set you going like a fat gold watch.
The midwife slapped your footsoles, and your bald cry
Took its place among the elements.

Our voices echo, magnifying your arrival. New statue.
In a drafty museum, your nakedness
Shadows our safety. We stand round blankly as walls.

I'm no more your mother
Than the cloud that distills a mirror to reflect its own slow
Effacement at the wind's hand.

All night your moth-breath
Flickers among the flat pink roses. I wake to listen:
A far sea moves in my ear.

One cry, and I stumble from bed, cow-heavy and floral
In my Victorian nightgown.
Your mouth opens clean as a cat's. The window square

Whitens and swallows its dull stars. And now you try
Your handful of notes;
The clear vowels rise like balloons.

Sylvia Plath

Herskryf jou gedig.

Sterkte.
Joan


 

René Ltter: "Leksikografie vir ons lyke" en "Aflos oor tydsones"

 

“Leksikografie vir ons lyke”

Beste René

‘n Wrang lykdig, oftewel ‘n gedig oor ‘n ontslape persoon. Terloops, in Afrikaans is dit Boeddha, nie Buddha nie. En maak dit:

“Kom ek vertel jou ‘n grap: onthou jy daardie keer?”

Jy dink na oor die grimering wat jy op die monster moet smeer, maar dan spring jy skielik na die speserye wat die smaak moet verbloem? Dit skep beeldverwarring. Daar moet beeldkongruensie binne ‘n gedig wees. Werk eerder met een beeld of assosiasie wat jy uitbrei.

Plaas ‘n punt of dubbelpunt ná “oordrewe” sodat die slot sterker uitstaan.

“Totdat jy self met ’n hand vol gruis soek vir ‘n eufemisme.”

Sterk idee; maak dit meer vaartbelyn.

Lees die lykdigte van TT Cloete.

Sterkte.
Joan

“Aflos oor tydsones”

Beste René

Hierdie gedig werk met ‘n kontrapuntale aanslag, met ander woorde droom, slaap, onderbewussyn versus die storm, maalkolk, satellietfoto’s. (Twee geliefdes wat in verskillende tydsones vasgevang is, maar tog kontak het met mekaar.)

Die gedig is nog te uitgesponne en moet korter, sterker gemaak word.

Die snawel-beeld sluit wel aan by die tweede reël, maar vir my gevoel oorlaai jy die gedig deur hierdie beeld ook by te bring te midde van die opposisie tussen droom (dalk ook dood) en storm. Die spanning tussen die ek en jy is reeds daar.

Die titel werk nie vir my nie. Wat van “Après un rêve”? Dan aktiveer jy vele gedigte wat oor hierdie tema handel.

Maak die gedig korter, sneller:

“... wanneer joune anderkant begin.”

Die “daar” is onnodig.

Intrusie moet vervang word met ‘n beter woord: “binnedringing” dalk? “Indring”?

Die slot:

“Ek, die oog van jou storm.”

Maar hierdie gedig het moontlikhede!

Gaan kyk hoe Elisabeth Eybers met hierdie soort opposisies werk en probeer die gedig in ‘n vaste vorm herskryf – byvoorbeeld ‘n distigon – dan herdig jy dit weer in ‘n losser vorm. Dan sal alles wat onnodig is, wegval.

Sterkte.
Joan


 

Isabelle Nell van Niekerk: "Grenslose suburbia" en "In transit"


“Grenslose suburbia”

Beste Isabelle

Jou gedig lewer sterk kommentaar op welvarende mense wat met hulle 4X4’s deur ander mense se lewens jaag sonder enige respek vir hulle bestaan of leefwyse.

Is die titel korrek hier? “Grenslose suburbia” klink nie vir my reg nie, omdat ‘n titel ‘n baie belangrike aanwysing vir ‘n gedig is. Die leser moet dus in die titel reeds ‘n opsomming kry van wat in die gedig gaan gebeur. Of is dit dalk ironies bedoel?

S beskou is “suburban ghetto” dan ironies. Jy beskryf die mense se rituele in hierdie plakkerskamp goed en die leser kan as ’t ware “sien” wat gebeur. En die stof wat van hulle voete afgewas word, aktiveer ‘n Bybelse verwysing, naamlik Jesus se voete wat gewas is.

Die Engelse woorde is funksioneel in die gedig, omdat dit die leefwyse en spreektaal van die mense opvang. Sou die titel “Kortpad” dalk werk?

Gaan kyk wat TT Cloete in Jukstaposisie met hierdie soort opposisies doen.

Sterkte.
Joan

 

“In transito”

Beste Isabelle

Hierdie gedig werk nog nie vir my nie. In die korteks van die vergete wát?

Die spreker is fotofobies, ja, maar wat beteken die “oertydse fossiel” wat “vas-gebed is onder stof en puin”?

Die tweede strofe verloop ook te lomp. Maak dit bondiger. Iets soos:

Wil niks nalaat, nie ‘n gedagte
of gedig, niks nie. Die oorbekende afstroop,
bindings losknoop, aanbeweeg
na ‘n onbekende, onbegrensde ruimte.

Of so iets.

“My verlange stu en beur lynreg / op die trajek van my hunkeringe” maak nie sin nie. Iets is lynreg teenoor iets anders. Kyk weer na die beeld.

Jy kan nie langer vertoef nie; dog jy word vasgepen?

Jou beelde bots dikwels in hierdie gedig. Gaan dink weer wat jy met hierdie gedig wou kommunikeer. Dalk is daar twee verse in hierdie gedig opgesluit.

Sterkte.
Joan


 

Isabel Niemand: "Verlange" en "Nagmusiek"


“Verlange”

Isabel

Gaan kyk hoe Petra Mller die verlies aan die geliefde eggenoot in Die aandag van jou oë navigeer. Die komplekse emosies wat jy ervaar – verlies en verligting – moet jy op ‘n konkrete wyse aan die leser oordra. ‘n Digter moet liefs wegbly van woorde soos verlange/verlies/wroeging/ween en daardie abstraksies op ‘n konkrete wyse aan die leser oordra. Digters is primitiewe “filosowe” wat ‘n ervaring, indruk of emosie op so ‘n manier moet oordra dat die leser dit kan “sien”.

Die gedig word dus teruggehou deur die gepraat oor die emosies, in plaas daarvan om die emosionele ervaring (konflik) te wýs. Daar is dus te veel telling hier en te min showing, om Henry James se woorde te gebruik.

Die werklike gedig is die vrou wat langs die see stap en die wind wat die verlange, maar ook verligting, vergestalt:

Vandag langs die Weskus
waai die wind soveel herinneringe
terug na jou: om my nek jú serp
gekoop op ‘n Persiese mark,
gedeelde landskappe eindeloos,
(... vertel die leser meer van die gedeelde landskappe – dalk vreemde lande wat saam besoek is)
sand slaan teen my gesig op.
Ensovoorts ... (om die onaangename emosie oor te dra)
Net hierdie serp met sy bont kleure
‘n teken dat jy eenmalig myne was,
voor siekte, ’n derde persoon,
jou van my afrokkel/steel/skaai.

Werk rondom hierdie skelet wat ek jou gegee het.

Sterkte.
Joan

 

“Nagmusiek”

Isabel

Kry Afrikaanse woorde vir lilt en midst.

Ek dink hierdie gedig is te uitgesponne en jy gebruik te veel woorde. Jy moet meer suggereer.

Die nagmusiek en sirene moet in opposisie tot mekaar staan. (Is ‘n sirene gerusstellend?)

Begin die gedig so:

Jazz-musiek spoel oor die Leidse Plein
– ‘n melodie wat haar eensaamheid vertolk –
die beierende klokke, ‘n loeiende sirene
op ‘n heel ander noot.
Ritmiese knip-knip van die Rooi Oog
in ‘n venster, wyl die mannekyn
agter die fluweelgordyn verdwyn.
Sy hart ‘n dromspel (mooi hoe die klankbeelde saamspeel) 
emosie hier ‘n ongenooide gasheer (of besoeker/klant?)
simfonie van ekstase: (hierdie beeld is te soet – kry iets anders)
sou hy onder die Magere Brug ... (bly subtiel; werk hier haar fantasie uit)
sketterende munte beklink die transaksie.
Jazz-musiek vertolk haar eensaamheid.
(Dan gebruik jy jazz om haar pyn te verbeeld – komplekse musiek.)

Kyk hoe ek die gedig herdig het en werk volgens hierdie patroon.

Sterkte.
Joan


 

Hilda Smits: "Onsamehangende midnag gedagtes" en "Ongetiteld"

 

“Onsamehangende midnag gedagtes”

Beste Hilda

Hierdie soort prosa-vers het meriete. Die bewussynstroom van die spreker is ‘n soort iteratief-duratief: Dit hou nie op nie; daarom is dit sukkelend/wankelend. Die beeld van die mond as ‘n diep, donker skag is goed. Midnag-gedagtes?

Die persoon soek orde in die chaos van ‘n afgelope verhouding. Miskien kan jy die filmverwysing When Harry met Sally verder ontgin. Is dit die regte film hier? Kies ‘n titel wat die pyn sterker sal uitbeeld. En lees Charles Bukowski!

Sterkte.
Joan

 

“Ongetiteld”

Beste Hilda

Die gedig werk eweneens met assosiasies. En hier is die verwysing na die bekende Neil Diamond-liedjie relevant.

Kan ‘n vlam mal gebare hê?

Herdink die vers weer, maar ek dink die assosiasies rondom vuur is sterk.

Sterkte.
Joan


 

Terug na SkryfNet XXV - Poësie