Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXV: Johannes Prins se eerste verslag


Johannes Prins - 2010-04-15

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie
Eerste verslag deur Johannes Prins:

 

Ek het nogal gewonder hoe dit sou werk om as “inwonende digter” vir ’n virtuele ruimte op te tree.

Dis vir my so ’n bietjie Johnny Mnemonic meets die Huis van die Dowe.

En hier met die instaan vir Carina, vir wie ek die grootste respek het, sou ek nie sê ek’s ’n inwonende digter nie – eerder ’n bywonende digter …

My kommentaar as bywoner dan:

 

Lee Beeslaar: "Androïed" en "Enigste I"

 

“Androïed”

Mm, ek hú van dié robot met ’n menslike voorkoms! Of is dit nou ’n mens met ’n androïede voorkoms? Die gegewe is baie lekker.

Begin dalk eerder om die aanhaling aan die einde as motto onderaan jou verstitel aan te bring. En dan kan jy myns insiens die verontmensliking lekker uitbou (jy doen dit reeds, maar iets pla hier en daar) deur die staccato bestekopname aan die begin sterker te verbeeld of deur te voer.

Werk dalk met punte aan die einde van ’n sin / versreël:

Die spieël kaats brokkies menswees terug.
Elektriesblou skerwe in die oë verraai die kortsluiting.
In die moederbord.

Lees die vers met ’n blikstem vir jouself – ’n rekenaarblikstem wat die presiese gewaarwordings monotoon maak. Dit gaan jou help, dink ek. En wat van “moederbord” met ’n hoofletter? En eerder teenvirus as antivirus?

Soos die spieël die brokkies menswees terugkaats, moet die vers die androïede in wording tussen die gewone mense vir die leser kaats. Jy moet die gegewens as ’t ware in die leser download.

Maar die hé is belangrik – maak nie saak of die ontvanger nog stiffy of memory stick is nie …

 

“Enigste I”

Oe. Verse oor babas en kinders maak dat jy dalk hier ’n onregverdige voordeel het. ;-)
Terwyl ek nou hier besig is om die kommentaar te skryf, loop-kruip my jongste r die woordeboeke en digbundels wat op die grond besaai lê – en ek moet telkens keer of sy skeur ’n bladsy uit …

Met iets wat so naby aan ’n mens is, loop jy dikwels die gevaar om sentimenteel te skryf. ’n Mens kan nie werklik aan iemand wat nie kinders het, verduidelik wat dit aan jou doen nie. ’n Mens verstaan skielik op ’n onverklaarbare manier die broosheid van menswees beter (en vir my die brose, blou planeet waaraan ons so nú gekoppel is, maar waarmee ons selde behoorlik in gesprek tree).

Hoe ook al: Ek dink jy doen baie dinge reg hier. Jou laaste twee versreëls in die eerste strofe sou ek anders doen. Die “ek” kan dalk op haar eie staan, en dan “word ons” in die volgende reël. Dieselfde geld “een” en “enigste”. Natuurlik gaan dit die vorm van jou vers beïnvloed – maar ek dink ten goede. Dit gaan jou as skrywer ook anders stem ten opsigte van die tipografie van die res van die vers wat nog moet gebeur, en jou leser gaan meer wit spasies hê om mee te werk.

Die eerste reël in die tweede strofe werk myns insiens nie. Of, ten minste, die woorde “in my siel gegrawe”. Dink dalk aan iets anders wat jy kan gebruik. Die woord “verontreinig” pla my om een of ander rede ook. Daar is sekerlik iets meer treffends wat jy kan inspan?

Maar dis ’n mooie vers.


 

René Ltter: "Leksikografie vir ons lyke" en "Aflos oor tydsones"

 

“Leksikografie vir ons lyke”

Ja, ons ís almal lemmas van die lewe of die dood (hang af hoe jy daarna kyk) wanneer ons daai finale keer ingespit word. In dié vers is daar ’n paar tipografiese dinge waaroor ek wonder. Ek’s nie seker dat die kursiewe gedeeltes behoorlik uitstaan nie. Oorweeg dit dalk om die kursiewe gedeeltes op hulle eie te laat staan (in aparte strofes) en kyk hoe dit dan werk?

Ek hou baie van die versreël “As ons in die spasie tussen die hark se tande bly staan” – dis ’n baie lekker beeld om mee te werk. Twee van die agtien reëls begin nie met ’n hoofletter nie – oorweeg dit dalk ook om hoegenaamd nie hoofletters hier te gebruik nie.

Dit voel dikwels vir my dat ’n mens ’n bietjie makliker loskom van die taalreëls wanneer jy jou nie in vol sinne vasloop nie. Dan kan jy byvoorbeeld in die laaste reël waarskynlik makliker daarmee wegkom om nie ’n “en” tussen “staan soek” te hê nie (hoewel dié gebruik in streektaal natuurlik bekend is). Vra jou ook af of die spasies voor die woord “bier” en “nihilisme” werk (terloops, spel ’n mens “Buddha” s in Afrikaans?). In reël 13 lyk dit of jy ’n koppelteken voor die tweede woord (“-geen”) het – moet dit nie ’n aandagstreep wees nie?

Met ’n bietjie tweak hier en daar gaan die hark se tande hier beslis méér byt.

“Aflos oor tydsones”

In “Aflos oor tydsones” hou ek baie van die meteorologiese en geologiese beelding. Soos in jou vers “Leksikografie vir ons lyke” is my kommentaar hier grootliks oor die tipografie en hoofletters al dan nie – met hier en daar ’n spasie en aandagstreep wat pla.

In jou eerste “sin” (die eerste drie versreëls) begin jou tweede en derde reëls met hoofletters, maar in jou tweede sin (van reël vier tot elf) begin jy net met ’n hoofletter en die res van die versreëls word nie met ’n hoofletter begin nie. Dieselfde geld jou derde sin (reël 12 tot 14).

Besluit wat die “En” en die “Hou” (die hoofletters) in die tweede en derde reël beteken en of dit inderdaad werk – maar ek vermoed tog jy wil eintlik hier met sinne werk. Wees dan net konsekwent in hoe jy die hoofletterding aanwend al dan nie.

Oorweeg dit selfs ook om hier ’n paar strofes te maak. Begin dalk om die eerste drie reëls ’n onafhanklike strofe te maak. Indien dit vir jou werk, dink ek die ander strofes gaan waarskynlik vanself kom (of minstens makliker uit die verf loskom).

In reël tien: moet daar nie ’n aandagstreep ná “maalkolk druk” kom nie? En in reël 12 is daar ’n spasie ná die komma (voor die woord “mond”) – het jy hieroor gedink? Vingerfout? Funksioneel?

Laastens: ek’s nie seker of jou slot werk nie. Dit ís ’n mooi beeld, maar kan seker ook ’n bietjie corny oorkom.

Maar, ek hou van dié vers.


 

Isabelle Nell van Niekerk: "Grenslose suburbia" en "In transit"


“Grenslose suburbia”

Dikwels wanneer ek ’n vers lees, vra ek myself: So what? Die mense in “Grenslose suburbia” ry die kortpad na die “Megagemeente”. Die “squatters” word waargeneem; daar gebeur waarskynlik die een en ander, en dan pak die spannetjie weer die pad huis toe aan. Daar ís mooi waarneming van die “kaias”, die “bronstige honde” en die vroue wat die kooigoed uitskud. En die skaapkoppe se vet wat in die konkas drup (effe Jensma-erig) en die kwaito en die dice wat gespeel word, is lekker elemente. Maar so what?

Die waarnemer het al dié lekker goed om mee te werk, maar ek’s nie seker wat presies dit is wat die vers na my toe bring nie. Maak méér met die gegewens. Wát het byvoorbeeld by die kerk gebeur? Dit voel vir my of daar iets missing is.

Ek wonder ook oor die tipografie (tensy dit die Word-program is waarop die vers vir my aangestuur is – dan vra ek hier plegtig om verskoning). Hoekom is daar inkeping van die verstitel ná die eerste strofe? Ook in strofe drie en vier (lyk dit my) is daar inkeping. Dit dien nie ’n funksie nie. Raak ontslae daarvan. “f oortuig my dat dit wel funksioneel is.

Hier en daar pla ’n koppelteken (of die gebrek daaraan).

En dan: woorde aan die einde van ’n versreël is veral belangrik. Moet byvoorbeeld nie aan die einde van die derde versreël van die eerste strofe met “die” eindig nie.

Gaan kyk asseblief weer baie mooi na dié vers. Daar’s lekker goed om mee te werk. Maar los asseblief vir my die “so what?”-vraag op.

 

“In transito”

Daar is iets hier. ’n Bietjie Stef Bos se “Tussen de liefde en de leegte” wanneer hy sing “Ik ben altijd onderweg” en ’n klein bietjie van Opperman se “Glaukus”. Die idee van oer-omwenteling en voortdurende revolusie of metamorfose is natuurlik nie nuut nie. Gaan lees dalk ook Johann Johl se Roulet.

Dalk ’n bietjie meer huiswerk doen oor wat reeds hieroor geskryf is, en dalk ook ’n bietjie oor kwantumfisika? Dalk iets soos Die groot gedagte van Gideon Joubert of, as jy meer tyd het, dalk selfs Stephen Hawking se A brief history of time? Ja, ons moet lesers wees voor ons skrywers is.

Ek hou van die heelal wat jou met lang, dun vingers vaspen …

Gaan dink weer oor “vas-gebed” (werk dit?), “stu en beur” (’n bietjie van ’n pleonasme – gebruik dalk net een van die twee?).

’n Vers met potensiaal, glo ek – jy moet net so ’n bietjie jou ruimtepak se boosters laat gaan. “f argeologies dieper gaan grawe.


 

Isabel Niemand: "Verlange" en "Nagmusiek"


“Verlange”

Die verstitel “Verlange” is effe geyk – en ek moet die woord “effe” waarskynlik nie hier gebruik nie. Hoewel hier mooi beelde is, byvoorbeeld die “gedeelde landskappe gefynkam” in die vyfde strofe en selfs die erotiese in die tweede strofe (of dit nou so bedoel is of nie), word die verlange hier te veel pertinent verwoord. Vir my as leser moet jy die verlange wys – nie uitspel nie. En veels te veel word hier uitgespel.

Met woorde soos “mis”, “hartseer”, “smart”, “verslae verlange”, “verlies”, “wroeging”, “my hart ween troosteloos” het jy baie min woordspel oor – eerder woorde wat die spesifieke betekenis uitspel. Gaan kyk asseblief weer na die vers.

Daar ís baie mooi elemente om mee te werk. Die “bloubont serp” en die parfuum wat aan die polsslag van die nek getik word: lekker. En as jy die Weskus ken – die barheid van daai wêreld en die tipe ongekunsteldheid waarmee ’n mens te doen kry … Die gegewe is daar – ek dink net nie dit kom tot sy of haar reg nie.

 

“Nagmusiek”

Êrens op LitNet – ek dink dis OuLitNet – sê jy jy’t die wêreld as kind in boeke op ’n Karoostoep ontdek en verken dit vandag deur (self) te reis. Nou (en ek hoop ek het die regte Isabel Niemand hier beet) “Nagmusiek” is een van dié verse.

Amsterdam is ’n lekker stad, om dit enigsins sag te stel. Baie gebeur daar en baie kan met ’n mens gebeur. En die verkenning van die rooiligarea is maar één van die lekker én interessante dinge in dié stad.

Ek hou baie van die “menslike mannekyn” wat “agter die sagte toeval van ’n fluweelgordyn verdwyn”. Wat ek dink jy hier reg doen, is “spel” (om die spel te speel …). Is die vrou agter die fluweelgordyn teen die verloop van haar spel in besig om haar hart te verloor? Is die vrou wat na die vrou agter die fluweelgordyn kyk, besig om al dié betekenisse as waarnemer op haar subjek te transponeer? Ek hou baie meer van “Nagmusiek” as “Verlange”.

Ek’s nie seker dat die woord “lilt” werk nie. Dalk eerder “gelil” of net “lil”? Dieselfde geld “dromspeler” (trom?) en “midst”.

Wanneer jy jou in ’n stad soos Amsterdam begewe, is jou probleem ook dat jy verskeie gelade plekke betree – plekke met reeds bestaande, uitgebreide stories en konnotasies. Jy kon dalk iets soos die verskeie mites/stories oor die Magere Brug met baie meer sukses deel gemaak het van die vers in plaas daarvan om bloot daarna te verwys.


 

Hilda Smits: "Onsamehangende midnag gedagtes" en "Ongetiteld"

 

“Onsamehangende midnag gedagtes”

Ek kan jou sien daar op die tube. Kronkelend op daai “donnerende” treine in die derms van die dier wat Londen is. Die beelde doem treffend voor my op in waarna ek graag as ’n “woordfoto” verwys (so ’n snit uit tyd wat in ’n oogwink by jou opkom).

In die titel van die gedig gebruik jy die woord “midnag”. Dis vir my beter as die geykte “nanag”, maar steeds baie naby aan iets soos “midnight”. Ek glo nie ’n mens moet bang wees vir nuutskeppings nie (veral nie met poësie nie), maar gaan weeg dit en besluit of dié woord vir jou werk.

Dan oor die woord “onsamehangende”. Jou teks is redelik samehangend vir iemand wat onsamehangende gedagtes wil oordra. Natuurlik wil jy nie in da-da-taal verval en betekenis inboet nie, maar jy kan dalk begin deur nie hoofletters en gewone sinskonstruksie te gebruik nie? Jy wil tog hier die versnipperdheid en lukrake gedagtes voorop stel, maar in een metrum saamsnoer?

En ek weet nie of die weglating van deeltekens op verskeie “e’s” die job van onsamehangendheid doen nie (ek praat hier van onder meer “teels”, “spieel”, ensovoorts).

Gaan dink ook weer oor die funksionaliteit van die koppelteken by die woord “rit-mies” (beperk dit nie juis betekenis nie?), en hoekom dan nie koppeltekens by “swart drie-uur koffies” nie?

Ek sien ook jy’t dié vers oorgeneem van jou blog – wat terloops ’n hele paar lekker verse en foto’s op het!

 

“Ongetiteld”

Ek lees poësie dikwels hardop voor – al is dit my eie (verál my eie …). Mens moet weet hoe jou verse op die oor val en hoe die ritme werk, want ons is woordsmede. Ons smeetange en aambeelde is almal van woorde. Warm, gloeiende woorde wat ons moet slaan en omvorm f selfs los … Ek dink dié vers is ’n vers wat gelos moet word – meestal, in elk geval.

Ek sou die titel en die drie punte aan die einde bloot weglaat. “f dit ’n ander titel gee? Dink dalk ook oor die woord “dans” – die herhaling daarvan. By watter beeld pas dit die beste?

Verder sal ek Neil Diamond se “I am … I said” wéér opsit om dié vers te lees. Dalk net ’n bietjie harder.


 

Terug na SkryfNet XXV - Poësie