Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Gooi die kleintjies almal in die see


Jason Lloyd - 2010-04-15

Die moeilikheid is dat die moord op die ver-regse AWB-leier Eugene Terre’Blanche die teelaarde van rasse-polarisasie wat al lankal broei, laat kleintjies kry het. En die kleintjies hardloop onverantwoordelik in verskillende rigtings in. Hulle is ongetwyfeld die gevolg van ʼn “poligamie-politiek” wat deur wit en swart geskep is.

Dit is so omdat die moord eintlik twee kante het: ʼn swart en ʼn wit kant. Menige swart mense sal sê dit is Terre’Blanche se verdiende loon. Hy is ʼn rassis en hy verdien om soos ʼn vark vermoor te word. Hy het seker sy plaaswerkers soos honde mishandel; dit is waarom hulle hom vermoor het. ʼn Groot aantal wittes sal sê dit is die direkte gevolg van Julius Malema se liedjie “Skiet die boere”. Terre’Blanche se moord is ʼn bewys dat die swart regering wittes, en veral Afrikaners, uitmoor. Ons verdien ʼn volkstaat om ons teen die swartes te beskerm.

Bogenoemde standpunte is, gegewe ons land se geskiedenis en die huidige gepolariseerde politieke omgewing, in ʼn mate geldig, maar albei kante kan ook verkeerd wees. Sê nou dit is ʼn suiwer moord wat niks met die politiek of die “Skiet die boere"-liedjie te doen het nie. Die vraag wat dan onwillekeurig by my opduik, is hoe hanteer mens dit dan? Die antwoord is dan heel eenvoudig en maklik: die polisie moet hulle ondersoek doen, die skuldiges moet in die hof verskyn, en indien hulle skuldig is, moet die gereg sy gang gaan. Dit is goed, mooi en dit behoort so te wees, want ons is mos ʼn konstitusionele staat.

Dit is egter nie so maklik nie. Makliker gesê as gedoen. Kom ek skep konteks.

Tydens Die Burger se lesingreeks gedurende die pas afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) oor die stand van die Afrikaanse joernalistiek het die moord van Terre’Blanche so ampertjies die debat oorheers. Tim du Plessis, redakteur van Beeld, het die moontlike gevolge van die moord tydens die debat probeer voorspel. In die proses het hy gesê die moord kan ons reeds gepolariseerde omgewing verder polariseer. Ek stem saam.

Maar toe hy die skuld vir die moord op die lied “Skiet die boer” se skouers probeer pak, het ek verskil. Weer gesê: dit kan miskien waar is, maar dit is uiters onverantwoordelik van ʼn koerantredakteur om sulke uitsprake te maak. (In sy gereelde By-rubriek het Max du Preez ná ET se moord geskryf: “Selfs ʼn Afrikaanse koerantredakteur – vra dat Afrikaners en wit mense moet mobiliseer en opstaan teen die ANC.” Ek hoop van harte dit is nie Du Plessis na wie Max verwys het nie. Indien wel, dan sit Media24 met ʼn groot probleem.) Du Plessis se benadering was uit wit kant, maar hy het nagelaat om ook die swart kant te sien. Dit is ongebalanseerd en baie gevaarlik.

Toe ek die swart kant noem, naamlik dat ʼn verslag van die Menseregtekommissie verlede jaar uitgewys het dat die toestande van plaaswerkers oorwegend nog nie verander het nie, het Du Plessis hom gewip. (ʼn Senior wit joernalis uit die Media24-stal het my gelyk gegee toe ek sê Du Plessis het hom gewip en dat dit ʼn verleentheid vir Media24 kan wees.)

Miskien het die haglike toestande en karige lone van plaaswerkers ʼn rol in die moord op Terre’Blanche gespeel. Maar miskien het dit nie.

Dit maak egter nie saak nie. Die swart kant en die wit kant is geregtig op hul eie opinie, maar laat ons dit verantwoordelik doen.

Laat ons die land en al sy mense eerste stel. Laat die polisie en die howe hulle werk doen en kom ons aanvaar die resultaat van hul taak. Laat ons doen wat Madiba sou gedoen het. Nelson Mandela sou al die kleintjies van die bestaande politieke en rassepolarisasie gevang het en almal in die see gegooi het.