Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Van Coke Kartel se Skop, Skiet & Donner nie "te"


Leon-Ben Lamprecht - 2010-04-15

Klik hier om ’n kopie van hierdie CD te wen!

My pa sê altyd waak teen enige "te", behalwe in "te voet", "te perd" en "tevrede".

Wat het dié brokkie algemene wysheid met Van Coke Kartel se nuwe album uit te waai? Wel, daar is diegene wat meen dat ons met die aantal albums en shows wat die VanFokKingTasties-crew se onderskeie komponente uitbring en doen, hier met ’n "te veel" te make het.

Dan is daar die meer sinieses wat als bloot beskou as ’n reusebemarking- en korporatiewe oefening en musikale massaproduksie.

Nou kyk, terwyl ek maar glo mens moet altyd waaksaam (en wakker) bly, geniet ek nogals die ouens se musiek. aKING se laaste album was weliswaar vir my ’n teleurstelling (sien die LitNet-artikel hier), maar vir die res is ek heel beïndruk.

En dan so ook met VCK se jongste poging, Skop, Skiet & Donner.

Dié album, hoewel nie so gestruktureer in terme van diskografie nie, kan basies in drie dele verdeel word: nuwe materiaal, akoestiese weergawes van vorige snitte en covers. Elektronika word ook ingeklits saam met die gebruiklike klipharde kitare, ’n invloed van Peach van Pletzen wat grootliks vir die album se produksie verantwoordelik was. Dit voeg ’n nuwe angle by hulle musiek en is grootliks geslaagd.

Ons skop sommer af met die eerste deel. Heel ruk-en-rol begin die album met “Voor ons stof word”, ook die eerste enkelspeler en video. Hulle wroeg hier met die mens se verganklikheid:

My gemoedstoestand raak al beter
al sak die donker toe
dit beteken nog nie ek gaan hemel toe nie
miskien nog verder van ’n hemelwese af
ek voel nog jonk maar ek glo glad nie in sprokies nie.

Maar dan blyk dit dat as daar dan nie ’n hemel is nie, geniet die tyd en vleeslike terwyl ons hier is, “voor ons stof word”:

Ek is nie veel van ’n danser nie
maar ek sal dans as ek dronk genoeg is
gee my tyd my hart
dans saam terwyl ons heengaan.

“Huissiek gebede” sluit skynbaar by die eerste snit aan. Dis ook hier waar Laudo Liebenberg van einste aKING soos ’n gekweste leeu saam dreunsing in die agtergrond.

Moenie jouself oor ’n lyk bekommer nie, bedaar
met pêrels vir oë maak jy skatte in die hemel bymekaar.

“Bitterpil” is ’n kragtoer van kitare en elektroniese klanke, terwyl “Man sonder missie” met een befokte kitaarrif kan spog (lead hier is gespeel deur Nathan Smith).

“Die laaste Sondag” is seker die naaste wat VCK aan ’n werklike liefdeslied sal kom. Die titel? Wel, want

Sondae is die moeilikste
dis nou die sewende een alleen
en ek raak nou al gewoond aan hoe dit voel.

Dis ’n melancholiese lied oor liefde wat verloor is en die smagting om dit weer te hê.

Hoe kan ’n slim man so dom wees?
Ek is nie ’n vreeslike slim man nie, want ek kon nie bly by jou nie
droom oor die lewe
en droom oor groot geboue
wat maak dit alles saak?
die nag het my bly vang
ek het geweier om weer huis toe te kom.

Op “Ondier kom” is die elektronika bietjie oordonderend na my smaak. Ek vermoed ook dis ’n snit wat nie te goed gaan verouder nie.

Deel twee, die akoestiese weergawes, is vir die uwe bloot bonusmateriaal. Dis bietjie soos om ’n verlore R50 in jou jeans se gatsak te ontdek.

En die covers? Wel ... Ek is nie die grootste fan van covers nie, maar as jy ’n cover doen, reken ek daar is een van twee maniere: óf jy doen dit présiés soos die oorspronklike, óf jy herinterpreteer dit heeltemal en maak dit jou eie. En die Kartel slaag pragtig daarin om laasgenoemde reg te kry.

Hier is drie covers: die ontslape Koos Doep se “Skadu’s teen die muur”, Michael Sembello se “Maniac” (ja, daai tjoen uit die moewie Flashdance) en JJ Cale se “Cocaine” (en wat self bekend geraak het via Eric Clapton se cover). “Cocaine” is 100 persent rock ’n fuckin' roll en word al ’n wyle deur dié lot live gespeel. “Maniac” is die tweede enkelsnit van die album af (en die video is moontlik meer 80’s as die 80’s) en skop lekker gat. “Skadu’s teen die muur” is egter completely out of left field. Waar Du Plessis se weergawe die donker en siniese aard van die lirieke in ’n opgewekte melodie gaan prop het, kry jy geen sulke ruskanse hier nie. Dis ’n meesleurende en evokatiewe vertolking wat ’n leë moedeloosheid eggo, lank nadat die laaste note weg gesterf het.

Tj’aag, al wat ek eintlik met hierdie baie woorde wil sê is dat Van Coke Kartel baie goed daarin slaag om hul styl te tweak en vars te bly. En skynbaar net al hoe beter raak.

Kortweg: die album is puik. En hulle beste tot dusver.