Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

Vlam uit die vlaktes word by ’n groot Boesmandlandse kuierfees bekendgestel


2010-04-15

Vlam uit die vlaktes, ’n pragboek propvol skitterende De Roubaix-verhale wat deur kontreiskrywer Pieter Strauss byeengebring is, word op Saterdag 17 April op ’n groot Boesmanlandse kuierfees naby Kaapstad bekendgestel.

Die verhale van die skrywer E de Roubaix wat in die bundel opgeneem is, word deur kenners as van die heel eerste kontreiverhale in Afrikaans bestempel. Die meeste is deur De Roubaix gedurende die jare twintig van die vorige eeu geskryf en kom uit drie van sy boeke:  Boesmanlandse sketse en verhale (JL van Schaik, 1926), Uit Boesmanland – kykies in die volkslewe (Nasionale Pers, 1928) en Giel Ool en ander verhale uit die Boesmanland (JL van Schaik, 1929).

Elkeen van die verhale onderstreep wat Wium van Zyl van De Roubaix se skryfstyl sê: "Sy skryfstyl is besonder helder, van die beste van sy tyd. Hy was ’n meester in die kuns om sy karakters self aan die woord te stel in die kenmerkende spreektaal van die kontrei."

Vlam uit die vlaktes is saamgestel deur die bekende kontreiskrywer Pieter Strauss, wat in ’n aangrypende nawoord vertel hoe hy op De Roubaix se spoor deur die Boesmanland geloop het om die skrywer en sy wêreld beter te probeer verstaan.

De Roubaix is in 1880 in die Boesmanland gebore. Sy pa was ’n trekboer en die gesin het gedurende De Roubaix se kinderjare met hul vee deur die hele Boesmanland getrek – van Renosterkop bo naby die Augrabies tot onder in die omgewing van Loeriesfontein en Nieuwoudtville. Hy was reeds agtien toe hy op Nieuwoudtville vir die eerste keer skool toe is. In 1899, toe hy in standerd ses was, het die Engelse Oorlog uitgebreek en vir die volgende twee jaar was hy ’n Kaapse rebel onder aanvoering van genl Manie Maritz. Na die vredesluiting in 1902 is hy weer terug skool toe.

Hy wou predikant word en moes as jongman self geld bymekaar skraap om in die skool te bly. In 1907 slaag hy, op 27-jarige ouderdom, matriek. Daar was egter nie geld om predikant te word nie en hy word, met sy matrieksertifikaat, onderwyser in die Boesmanland.

Sy ganse Boesmanlandse lewe – as jong seun, as Kaapse rebel en later as plaasskoolonderwyser – vind neerslag in die verhale wat in Vlam uit die vlaktes opgeneem is.

Oor De Roubaix as skrywer sê Hennie Aucamp: “De Roubaix was my altyd ná aan die hart. Daar is ’n eksistensiële kwaliteit in sy werk wat bestendig geïgnoreer word. Wat de Roubaix anders maak as die meeste kontreiskrywers, is dat hy nie net r ’n streek – hier die Boesmanland – skryf nie, maar as segsman optree vir al die bewoners van dié streek, wit en bruin ...”

Vlam uit die vlaktes ’n keur uit die prosa van E de Roubaix, ingelei en saamgestel deur Pieter Strauss. Die boek beslaan 192 bladsye, is propvol interessante foto-illustrasies, en voor in die boek is daar ook ’n afdruk van Erich Mayer se bekende skets van De Roubaix. Die uitgewer is Benedic Boeke. Prys R150. 

Die boek is beskikbaar deur toonaangewende winkels of aanlyn by  http://www.benedic.net/Vlam/