Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Aprilgekkedag


Fanus Rautenbach - 2010-04-09

Aprilgekkedag, of net Gekkedag, is ’n dag wat in baie lande “gevier” word, en wel op 1 April. Die dag word herdenk met verskillende soorte poetse. Een wat ek hier gehoor het, was: “Gehoor hulle gaan Tafelberg se naam verander?”

Wat is Aprilgekkedag en hoe het dit begin? Dis ’n baie goeie vraag, want ek ken nie die antwoord nie!

Niemand is heeltemal seker van die oorsprong van Gekkedag nie.

In die 18de eeu is beweer dat die viering teruggaan tot in die tyd van Noag. Volgens ’n Engelse artikel wat op 13 April 1789 gepubliseer is, is dit toegeskryf aan die dag waarop Noag sy duif te vroeg uitgestuur het, en wel op die eerste dag van die Hebreeuse maand wat ooreenstem met April.

’n Moontlike verwysing na Aprilgekkedag kan ook gevind word in die Canterbury Tales (ca 1400) in die Non se priesterverhaal, ’n verhaal van twee gekke (Chaunticleer en die jakkals) wat op 32 Maart plaasgevind het.

Die meeste glo dat dit kom van die verandering van die kalender. Charles IX van Frankryk het amptelik die eerste dag van die jaar van 1 April na 1 Januarie verskuif. Party van sy onderdane het aangehou om die ou stelsel te gebruik. Ander het vergeet van die verandering. Hierdie mense is as “gekke” uitgemaak, en gekkegrappies was hul voorland.

Hoe word Aprilgekkedag in ander lande “gevier”?

Antieke Rome

Die gewoonte om poetse te bak op kennisse en vriende was deel van die vierings in Antieke Rome op 25 Maart (Hilaria), die tyd van die koms van die lente wanneer die natuur ons verras met lentereëns en sonskyn.

Engeland

In Engeland kan poetse slegs in die oggende gebak word. As slagoffer staan jy bekend as ’n “noodle” – ’n uilskuiken! Wydverspreide waarnemings in Engeland het in die 18de eeu begin.

Frankryk

In Frankryk word Aprilgekkedag genoem “Aprilvisdag”. Die Franse maak gekke van hul vriende deur papiervisse of hul rûens te plak.

Spanje

Die “Fees van die Onskuldiges” word op 28 Desember in Spanje gevier. Dis die fees van die heilige onskuldiges en word op dieselfde manier as Aprilgekkedag gevier, met poetse.

Skotland

In Skotland is Aprilgekkedag 48 uur lank en jy is ’n “April gowk” (dalk die herkoms van “gek”?), wat ’n ander naam is vir die koekoek (dan is jy koekoe?) of vir ’n lomperd. Die tweede dag is bekend as “taily day” en is opgedra aan poetse wat met jou stertkant (boude) te doen het – dan word daar plakkate op die een op wie die poets gebak word se boude geplak waarop geskrywe staan: "Skop my!"

Meksiko

Die gekketradisie in Meksiko is anders. “Die dag van die Onskuldiges” op 28 Desember is gebruik om Herodes se kindermoorde te gedenk en te rou. Met die tyd het die hartseer oorgegaan in prettige poetsbakkery.

Amerika

Die gewoontes van die Engelse, Skotte en Franse het ook later in Amerika posgevat. Iemand is byvoorbeeld op ’n gekkesending gestuur om ’n kopie van die boek Adam se oupa of soet asyn terug te bring.

En in Suid-Afrika?

Is Suid-Afrika die enigste plek op aarde waar Paasfees en die Aprilgek godsdienstig van aard is?

In Mattheus en Markus lees ons van Jesus voor die Joodse Raad. Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het hom weggelei na Kajafas, die priesterhoofde, en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen hom ingebring, want hulle wou hom doodmaak, tog kon hulle geen bewyse teen hom inbring nie. Daarna het hulle hom geboei en aan Pilatus oorgelewer en toe sê Pilatus: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.” En toe stuur hulle hom van bakboord na stuurboord. Ja, hulle stuur hom van die priesterhoofde na Kajafas en van Pilatus na Herodes en terug op daardie Paasfees van 1 April. Ja, hulle het ’n gek van Jesus gemaak deur hom met gekke voornemens van die een na die ander te stuur. En van toe af tot vandag word daar nog steeds met Jesus gespot wanneer ons op 1 April deelneem aan die gebruikmaking van die mode om Aprilgekkefees te vier.

Elke mens moet maar self besluit of hy skuldig is … Of kan ons ook beweer: “Ek is nie skuldig aan die bloed van hierdie man nie”?