Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Helene de Kock se Somersneeu lees glad


Suzette Kotzé-Myburgh - 2010-03-29

Titel: Somersneeu
Skrywer: Helene de Kock
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151153
Prys: R175

Klik hier en koop jou eksemplaar van Somersneeu nou van Kalahari.net!

 


Die verhaal open met ’n skokkende en alte bekende gegewe: ’n plaasmoord. Daar word nie gesê wie vermoor word nie, ook nie die persoon se vrou se naam nie, dus hou dit die leser lank aan die raai – ’n slim tegniek deur die skrywer.

Somersneeu verbeeld die wel en wee van ’n groepie vriende wat in hul matriekjaar heg saamgebind word deur omstandighede. Die leier van die groep is Rouke Bruwer, die seun van die alleenloper-kunstenaar Barbara. Rouke se pa is kleintyd in Namibië dood, en sedertdien woon hulle op ’n dorp in die Vrystaat, maar hulle het ook ’n plaas in die distrik. Rouke is doodverlief op Karina Kirstein, die dominee se dogter. Hulle is al van kleuterskooldae maats en is in dieselfde klas. Die res van die groep vriende is die beeldskone Julia Erasmus, die neefs Robert en Brett van Coller, Matteus Mokoena, Linda Genis en Betsie Ntombela. Later sluit die Gerber-tweeling, Karel en Joubert, ook by hulle aan.

Tussen die leerdery vir die matriekeksamen deur worstel Rouke met sy gevoelens vir Karina, maar sy probleem is dat hy dit nie regkry om met haar daaroor te praat nie. Tydens die April-vakansie hou Barbara een van haar gereelde kunsseminare op hulle plaas, Renoir. Sy vra Rouke en sy vriende om kelners te wees, dan kan hulle in hulle af tye sommer saam studeer ook. Brett en Julia gebruik die geleentheid om soveel as moontlik alleen te wees, met verreikende gevolge later.

Tydens die vakansie word dinosourusspore op Renoir ontdek, en Rouke is geweldig opgewonde daaroor. Uit sy kontak met ’n geoloog van die nabygeleë universiteit ontwikkel sy begeerte om geologie te studeer. Maar soos die jaar vorder, blyk dit al meer mense dink hy is uitgeknip vir teologie. Ná veel gewroeg besef Rouke dat dit inderdaad sy roeping is, maar hy wil daarmee saam geologie studeer.

Na afloop van hulle matriekeksamen gaan die meeste van die vriende Engeland toe om vir ’n jaar daar te werk. Brett is die erfgenaam van sy oupa in die Boland se wynplaas, dus bly hy agter. Robert besluit om eerder universiteit toe te gaan, en daarna gaan hy op sy pa se plaas boer. Julia beleef ’n krisis en verbreek haar verhouding met Brett, tot almal se skok. Die verhouding tussen Rouke en Karina verinnig, veral toe hulle vir ’n week in die Loire-vallei in Frankryk gaan toer.

Barbara het in haar jongdae in Parys gestudeer en ’n tyd saam met haar niggie in die Loire-vallei gewoon. Daar het Barbara vir Echard van Staden ontmoet, wat kort nadat sy met die klein Rouke Vrystaat toe getrek het, ’n prokureurspraktyk op die dorp kom vestig het. Sedertdien is hy en Barbara boesemvriende, maar tot Rouke se frustrasie kan hulle nie tot trou kom nie. Hy weet daar is ’n belangrike geskiedenis tussen die twee wat terugstrek tot hulle tyd in die Loire, maar wát dit is, kan hy net nie vasstel nie.

Dis ongeveer vyf jaar later. Rouke en die meeste van sy vriende is op universiteit, en tot sy vreugde het sy ma en Echard uiteindelik besluit om te trou. Brett woon die troue by en sien Julia weer vir die eerste keer in jare. Hulle versoen kort daarna en trou die volgende jaar. Rouke kom vir die troue van Edinburgh af, waar hy besig is om vir ’n MBA te studeer, terwyl Karina musiekonderwyseres is op hul tuisdorp. In hierdie tyd raak hulle al meer vervreem, die kontak tussen hulle al minder.

Toe Robert van Coller se pa sterf, ondersteun Karina hom, en geleidelik word hulle vriendskap hegter. Rouke het lankal gesê dat Rob verlief is op haar, maar sy het dit weggelag. Toe haar ma later sterf, is sy buite haarself van verdriet. Rob kom die aand na haar en sy vergeet van Rouke en gee haar aan hom oor. Rouke daag ’n paar dae later op vir die begrafnis, maar toe het Karina en Rob reeds besluit om te trou. Hulle kind word ’n jaar later gebore.

’n Paar jaar later keer Rouke terug na die dorp nadat hy as predikant deur die gemeente beroep is. Hy aanvaar die beroep, maar wonder of hy kans sien om Karina weer te sien, saam met Rob en hulle kind. Kort daarna gebeur iets só ingrypend dat hy ’n ontmoeting met haar nie kan vermy nie.

Somersneeu sal ongetwyfeld in die smaak val van hierdie skrywer se vele aanhangers – sy is immers een van ons liefdesverhaalskrywers wat al die langste publiseer. Helene de Kock se karakters is altyd mooi en slim, hulle leefwyse stylvol en bevoorreg. Tog beskerm dit hulle nie teen die lewe se swaarkry en pyn nie.

Benewens dit wat reeds beskryf is, ondersoek die verhaal nog relevante kwessies: ’n man wat ’n recce in die grensoorlog was en sukkel om weer by die samelewing in te pas; die seun van vooraanstaande ouers wat aankondig dat hy gay is én nog ’n paar dorpenaars uit die kas laat klim; ’n identiteit wat jare lank verswyg word en uiteindelik verwarring saai.

Die verhaal lees glad, hoewel daar heelwat karakters is. Die karakters klink ook soms baie dieselfde – hulle druk hulleself op ongeveer dieselfde manier uit, ouer sowel as jonger karakters, ten spyte van die gebruik van Engelse woorde om laasgenoemde se taal te probeer weergee.

Die teks is oor die algemeen goed versorg, hoewel die proefleeswerk noukeuriger kon gewees het. Byvoorbeeld: lymsteen (88) is nie die korrekte vertaling van limestone nie, dis kalksteen; dit word later gekorrigeer, maar dan is ons laat in die verhaal terug by lymsteen. Die woord gapjaar (gap year) kon eerder gap-jaar geskryf gewees het; soos dit staan, lees ’n mens dit maklik verkeerd.