Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Proe die lekker, kos-inspirasie uit SARIE allerweë die proe werd


Ilse Reuter - 2010-03-29


Titel
: Proe die lekker, kos-inspirasie uit SARIE
Outeur: Barbara Joubert
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798150620
Publikasiedatum
: Julie 2009
Bladsye: 192
Prys: R215

Klik hier om Proe die lekker, kos-inspirasie uit SARIE by Kalahari.net te bestel!

“Eet eers met jou oë, dan met jou mond – en moenie bekommerd wees oor die heupe nie!” Met dié wyse raad nooi Barbara Joubert, bekende en bekroonde kosredakteur van Sarie, op elke bladsy van Proe die lekker, kos-inspirasie uit SARIE lesers uit om haar gunsteling-resepte van oor die jare met alle sintuie te geniet. Die pragboek weeg heerlik swaar in die hand en is deurspek met kosskatte, storiekrummels, fyn humor, handige wenke en die allermooiste pragfoto’s by elke resep, en dit boonop in loslit Afrikaans.

Jy kan jou lelik misgis as jy dink dié slapband gaan net op die koffietafel lê en mooi lyk, want hier is ’n meesterlike verskeidenheid resepte wat smeek om beproef en geproe te word. Vleiseters, vegetariërs en soettande word ewe goed bederf met disse vir enige okkasie, vinnige resepte, ou gunstelinge, wêreldkos, lekker kuierkos, “fancy” kos en verleidelike poedings. Die hoofstukke is kreatief ingedeel met duidelike, maklik-volg-resepte vir onervare kokke, maar nuwe idees neem terselfdertyd die meer ervare kok op ’n heerlike kulinêre ontdekking.

Die boek vat ’n wye spektrum koskulture suksesvol saam, naamlik Suid-Afrikaans, Frans, Italiaans en Spaans. Daar is ’n magdom uiteenlopende watertandgeregte, soos My Hoenderkonkoksie (bl 27), Kalkoenmaalvleis-kebabs (51), Gebakte vinkel en sampioene (81), Broodslaai met haloumi-kaas en tamaties (41) en Lemoen-eendborsies (163) ... Ag, te veel om op te noem! En om alles te kroon pryk daar boonop waarskynlik die twee pragtigste poedings onder die son, naamlik Kardemom-kaaskoek met wit sjokolade (127) en Filobakkies met mascarponekaas en bevrore bessies (175) op ’n eindelose lys genietinge. Selfs Pampoenkoekies (68) kry nagereg-status deur ’n lekker groot homp mascarpone-kaas op ’n toring koekies te skep!

Ou gunsteling-vleisgeregte sluit Tamatiebredie, Bobotie en Lamsosaties in. Afval was nog nooit so beskaafd soos Florentynse pens soos Emile dit gemaak het (103) nie, maar dié dis benodig duidelik baie geduld en ’n paar gewilliges om saam te smul! Selfs vleiseters sal ’n tweede porsie van Barbara se gesonde Groente-moesaka (17) vra. Voorafgegaan deur eenvoudige Artisjokke met knoffelbotter (78) en afgerond met die soetsuur van haar Pruim-en-amandeltert (185) is die tafel gedek vir ’n vegetariese fees. My gunsteling-seekosgereg is beslis die Steurgarnale, koningklip en pasta in papier gebak (161). Dit verg wel ’n bietjie moeite en spesiale bestanddele wat nie noodwendig elke dag in jou yskas te vinde is nie, maar op ’n soel somersaand, met dié verrassingspakkie op jou bord, ’n yskoue glas witwyn en omring deur goeie geselskap, is die lewe ’n lied. 

Vir diegene wat graag Italiaans kook, is daar ’n lekker versameling voorgeregte en pastas, vyf interessante maniere van pizza maak (het jy al gehoor van Vetkoek-pizza, bl 106?), en nie minder nie as tien maniere waarop bruschettas met Mediterreense flair opgetooi word. Lekker pastageregte sluit ’n Stadiggeroosterde tamatie-en-3-kase-gebak (149) in, asook ’n Sampioen-en-spaghettigebak (147) wat in die oond onder ’n krummellaag broodkrummels, knoffel, pecorino-kaas en pietersielie tot ’n hemelse bros, goudgeel lekkerte gebak word.

Ontbyt-idees is volop. Bakkie met eiers (137) klink so onskuldig, maar met botter, room en sampioene is dit ’n bedekte dekadensie wat, saam met ’n koppie stomende filterkoffie, jou op ’n Sondagoggend van die wêreld se sorge sal laat vergeet. Ek het Die 1 Januarie-ontbyt (bl 136 se een-pan-wonder!) so bietjie verander deur die varkworsies en spek met sampioene, greyere-kaas en ’n sprinkel paprika te vervang. Dís die lekker van so baie van Barbara se resepte – jy kan na eie smaak hier iets byvoeg en daar iets weglaat sonder dat dinge skeefloop.

Hierdie is Barbara Joubert se tweede kookboek (haar eerste, SARIE 5, het in 2006 verskyn), en wat hierdie publikasie ekstra-besonders maak, is dat die verskyning saamgeval het met die uitgewer se vyftigste bestaansjaar, sowel as Sarie se sestigste verjaarsdag. Proe die Lekker is voorwaar kos-inspirasie wat mens nie net met jou oë en mond laat proe nie, maar met jou hele wese ... Dit vat jou terug na jou eie kindsbeen-dae en smaakherinneringe, en daag jou uit om weer die lewe met al sy familietye en feeste en vreugdes met goeie kos te vier, sonder om bekommerd te wees oor die heupe!