Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Esthea Kruger oor Denton, Texas


Imke van Heerden - 2010-03-26



Esthea, waar woon jy nou en is die gras wel groener daar?

Ek is besig met my D in klavieruitvoering in ’n klein plekkie in Texas met die naam Denton, so ongeveer 40 minute se ry van Dallas. Nee, die gras is beslis (letterlik en figuurlik!) nie groener aan hierdie kant nie, maar ek geniet die ervaring baie en vind die Amerikaanse kultuur op ’n manier heel fassinerend.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Wel, die klassiekemusiekwêreld is redelik geïsoleerd in Suid-Afrika, eenvoudig omdat dit so ver weg is van als wat in Europa en Amerika gebeur. Dit is dus vir ons musici baie belangrik om internasionale blootstelling en ervaring te kry. Ek sal bitter graag na Suid-Afrika wil terugkom om te werk, maar dit hang van baie faktore af. As ek iewers anders in die wêreld ’n goeie werksgeleentheid kry, sal ek dít beslis ook oorweeg.

Vertel ons ’n bietjie meer van jou beroep.

Ek is besig met my Doctor of Musical Arts-graad (’n praktiese doktorsgraad), en my kursus bestaan dus uit praktiese sowel as teoretiese vakke. Tussenin werk ek ook by die Universiteit as teaching fellow, wat my help om die lewe hier in dollar te bekostig. As deel van my pligte bied ek groepsklavier aan, wat beteken dat ek ongeveer 20 studente wat niks van musiek weet nie, gelyk op ’n spul keyboards touwys moet maak. Gelýk! Dit laat my soms maar op my tande kners!

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Die konsep van Afrika-tyd, Suid-Afrikaners se unieke sin vir humor en ons lieflike reënboogdiversiteit laat my lag. Die land se hartseer verlede en die verreikende effek wat dit vandag steeds op vele aspekte van die land het, laat my huil.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Die berge. Dis vreeslik plat waar ek nou is. Ag, om nie eens die see te noem nie ... Gelukkig is hier darem meer as genoeg son in Texas, wat my tuis laat voel. En natuurlik mis ek my familie baie.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Baie weet nie eers waar dit is nie. Ek het al vrae gekry soos “Van watter land in Suid-Afrika kom jy?” van mense wat nie eens weet dat Suid-Afrika wel ’n land is nie, en ook natuurlik die “Waar is Suid-Afrika?”-vraag. As mens in ag neem dat ’n groot persentasie Amerikaners nie eens hulle eie land op ’n kaart kan vind nie, is dit seker nie so erg nie! Hierdie mense glo ook dat ek ’n olifant of twee in my agterplaas het wat as vervoermiddel dien! Die meer ingeligtes weet darem van Mandela, die ongelooflike natuurskoon en natuurlik apartheid, waarop die meeste kommentaar lewer.  

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag, en wat doen jy in jou vrye tyd?

Hier is nie veel van ’n naglewe in Denton nie, maar daar is so ’n lekker local bar met die naam Sweetwater, waar selfs die single drankies in trippelmaat geskink word! Hulle het ook die lekkerste chilli poppers. Verder gaan ek Dallas of Fortworth toe wanneer ek kans kry – dis die twee stede wat die naaste aan Denton geleë is en daar is gewoonlik baie aan die gang.

Jy kan n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Sonder enige twyfel Koos Kombuis.

Wat is jou gunstelingkossoort of -produk wat jy daar kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Daar is so ’n yummy brownie mix van Ghirardelli (van die lekkerder Amerikaanse sjokolade) wat belaglik maklik is om te maak en elke keer perfek uitkom!

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Uh … nee. Behalwe dié wat regtig geïnteresseerd is in rodeo of beeste …

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

Die feit dat hier so baie aan die gang is in terme van kultuur, selfs al vergelyk Dallas nie met die kulturele hubs soos New York en Boston nie.

Dis baie inspirerend om die kans te kry om wêreldklasmusici en orkeste te hoor – iets wat in Suid-Afrika baie skaars is.

Hoe verskil die werkkultuur in die stad/land waar jy tans woon van dié van Suid-Afrika?

Wel, ek het gehoop dat dinge hier in die “Eerste Wêreld” veel effektiewer sal funksioneer as in Suid-Afrika, maar hier is ook maar baie oneffektiwiteit. Hierdie is ’n nasie wat baie gewoond is aan vermaak, en daardie mentaliteit heers ook in die werkkultuur, veral onder die studente – sodra iets ’n bietjie meer moeite verg en nie meer so vermaaklik is nie, verloor hulle belangstelling. Dis natuurlik ’n vreeslike growwe veralgemening, en ek is seker die teenoorgestelde is ook waar, maar dis in elk geval die tendens wat ek sover opgemerk het.

Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

Alles hier is drive through – van kos tot koffie tot die apteke. Dis baie gerieflik, maar laat mens wonder of mense werklik so lui is … Verder is Denton ’n “dry county”, wat beteken dat drankverkope deur streng wette gereguleer word. Klokslag twee-uur saans is die partytjie in die bars verby – as mens teen daardie tyd nog met ’n drankie in jou hand staan, laat hulle jou dit óf by jou keel afgooi, óf hulle gooi dit weg. Dit laat mens soms nogal onwelkom voel!

Jy is gestrand op n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

Biltong, sundried tomatoes en ’n goeie bottel Pinotage.


<< Terug na die Jong expats-blad <<