Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Musiek is haar deur se slot: Elzahn Rinquest se Secret Surprise


Leon-Ben Lamprecht - 2010-03-19


Titel:
Secret Surprise
Sanger: Elzahn Rinquest

Klik hier vir meer inligting!

Destyds (was dit 2004? 2006?) toe ek die eerste keer in die KKNK se feeskoerant Krit se redaksie gedien het, het ek na ’n Elzahn Rinquest-show gaan kyk. Glad nie geweet wat om te verwag nie. Ek meen, ek het geweet sy was deel van die groep Ivanhoe wat die Wes-Kaapse halfeindronde van Jip Rockspaaider in 2002 gewen het. En ek het een van hulle liedjies geken: “Donderwolke”. Maar dit was dit.

Ek het totaal verstom daar uitgestap. En ’n pragtige byvoeglike naamwoorde haar kant toe geslinger. Ek haal myself aan: “Hou gerus hierdie meisie dop. Sy is weliswaar ’n effe ongeslypte diamant, maar hier is talent in ongekende kwantiteite. Diep spore in hierdie bedryf. En ’n skitterblink toekoms. Sy is the next big thing.”

En nou, in 2010, is Elzahn Rinquest se vollengte-album, Secret Surprise, uiteindelik beskikbaar.

En? Doen sy die hype gestand wat ek self geskep het?

Wel ...

Die album het invloede van alle kante: bietjie jazz, bietjie rock, met popperige melodieë wat lekker op die oor val. Op die snit “Mystery” rap Jesse Jordan selfs saam (wat terloops my mins gunsteling-snit is).

Die baie style ten spyt, is dié album uiters toeganklik.

En dis ’n heerlike pad-album. Ek het dit die eerste keer onder ore gehad op ’n onlangse besoek aan die ooste van Mpumalanga. Dit maak die reguit paaie minder vervelig en bynatjies die tolhekke gangbaar.

Rinquest het goeie musikante soos Ramon Alexander en Louis Esterhuizen gekry om op die album te speel terwyl sy met haar pragtige stem die vocals verskaf.

Haar diep stem is moeilik om te beskryf. Daai clichés van bourbon en ’n vrou met ’n rooi rok wat op die klavier hang en onder jou vel in sing in ’n rokerige vroeë 20ste-eeuse jazz club, nè? Wel, dis baie toepaslik. En haar stem het ’n ongelooflik ryk karakter – soos ’n beker warm Milo na jy in die reën deur jou meisie gelos is. Of soos ’n vriend wat jou troos na jy haar boonop daarna met jou suster sien vry het.

Ek sou so ver gaan om te sê sy kan net bloot random woorde sing en dit sou steeds met daai stem goed klink. Wat nie beteken dat lirieke nie belangrik is nie, natuurlik nie. Maar mens kan jou oor doof hou as dit nou nie poësie is nie.

Want dis nie die punt van die album nie. Dit gaan eerstens oor die musiek, wat self min of meer net ’n voertuig vir daai stem is.

Die liedjies op die album self is Afrikaans en Engels wat meestal oor die liefde handel (en in een geval Johannesburg, hoewel dit eintlik ook maar ’n liefdesliedjie is).

Hoogtepunte is “Donderwolke”, “Jy”, “Baby”en “3 Jaar”. Dis in einste “3 Jaar” waar sy moontlik die hele album saamvat as sy sing:

Want musiek is my deur se slot
Dis waarheen ek vlug
Na ’n plek wat ek myne noem
Maar daar sien ek ook jou gesig.

So is sy met dié album die next big thing? Seker (nog?) nie, maar die album se musiek is heerlik om te luister sonder dat dit grense verskuif.  En met ’n stem soos daai kan sy my maar elke aand aan die slaap sing.