Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Artikels | Articles

Fees van die ongenooides nou op kykNET


2010-03-18

Fees van die ongenooides is die storie van gewone mense wie se lewens deur oorlog geraak word. Wanneer groot opstande, revolusies en oorloë dreig en mense se lewens aangetas word, word hulle sosiale wese in flarde geskeur, hulle toekoms word onseker en hulle lewens kry ’n oop einde. Die desperate dilemma waarin hulle hulle bevind, laat hulle dinge doen wat ondenkbaar sou wees in tye van sekuriteit en voorspelbare vrede. Die verwarring en onsekerheid wat oorlog meebring, veroorsaak ook dat vreemde karaktertrekke en –gebreke, maar daarteenoor ook dapperheid, hul kop uitsteek – dinge wat mense nooit van hulself sou kon raai nie.

Die agtergrond van dié storie is ’n oorlog met meer as een naam: die Suid-Afrikaanse Oorlog, die Boereoorlog, die Anglo-Boereoorlog, die Engelse Oorlog, die Tweede Vryheidsoorlog – die naam van die oorlog hang af van die perspektief van die verteller. Die oorlog is geveg tussen 1899 en 1902 tussen die Britse Ryk en die twee Boere-republieke in Suid-Afrika. Die presiese rede waarom die oorlog uitgebreek het, is onduidelik, maar vir dié wat daaronder moes ly, was die rede onbelangrik.

Vir kaptein Brooks, Harry die Walliese myner, en die ryk Van Wyk-familie (onder wie Daantjie en sy vrou Magrieta) was die oorlog die finale toets van wie en wat hulle werklik is. Nooit sou hulle kon geraai het dat vrees, jaloesie en haat in hulle skuil nie; nooit sou hulle kon gedroom het dat moord en verkragting deel van hulle lewe sou raak nie. Maar, die oorlog ...

Net die klein dromertjie, Fienatjie Minter, kon van vroeg af al verstaan wat met haar, haar familie en mense om haar gaan gebeur ... want dit was nét sy wat die dooie kindertjies kon hoor sing ...

 

Opsomming van episodes:

Episode 1
Ons ontmoet die Van Wyks en die Minters van die plaas Goedgedacht.
Die Anglo-Boereoorlog breek uit en die mans vertrek.
Die slag van Magersfontein, 11 Desember 1899, en dié van Driefontein, 1900.
Daantjie wys sy kleure en Petrus se droom word bewaarheid.

Episode 2
Die raaisel van Daantjie Van Wyk se verdwyning verdiep. Die mans vertrek weer na die front. ’n Onverwagte besoeker oorval Magrieta een nag in haar bed. Die plase word afgebrand en Martie vlug met haar kind. Die eerste ontmoeting tussen kaptein Brooks en die beeldskone Magrieta vind plaas.

Episode 3
In ’n poging om die familieplaas Goedgedacht te red, nooi die Van Wyk-vroue kaptein Phillip Brooks na ’n feesmaal op die plaas. Hul grootste vrees word bewaarheid en die plaas word, soos baie ander, afgebrand.
Daantjie “staan op uit die dood”.
Martie se kind Driena sterf soos duisende ander.

Episode 4
Wynand van Wyk verneem van sy kind Driena se dood en maak sy opwagting by die graf. Martie besef hy het oorgeloop  na die Britte en verwilder hom. 31 Mei 1902 en vrede word verklaar.
Daantjie beplan sy terugkeer.
Magrieta en Philip groet.

Episode 5
Die Van Wyks en Sannie Minter keer terug na hul verwoeste plaas, Goedgedacht.
Die swakkeling Jakob Minter en Greeff veroorsaak Harry se dood.
Martie en Siena begin ook met ’n nuwe lewe.
Daantjie keer terug en hy en Soldaat word deur Danie ontmasker.
Dis 1947 en die bejaarde Daantjie leef steeds ’n leuen wat soos ’n kanker in Soldaat bly sit. Op Soldaat se sterfbed bieg hy teenoor Magrieta en die waarheid maak hom vry.
’n Onverwagte besoeker arriveer op die plaas …