Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Briewe uit Brittanje: reuse-verskeidenheid glimlag-stories met vindingryke toepassings


Hennie van Deventer - 2010-03-18

Briewe uit Brittanje
Skrywer: Rhynie Greeff
ISBN: 9781770220768
Prys: R159,95
Uitgewer: Zebra Press 

Klik hier en koop Briewe uit Brittanje nou by kalahari.net!

“Liewe mense van my land …” Klokslag elke maand kom ’n brief met ’n bekende stempel – die moeite werd om, by wyse van spreke, daarvoor die posman by die tuinhekkie te gaan inwag.

Eendag daag ’n hele boks vol briewe op, die hele posbus kant en wal. Jy weet nie waar om te vat en te los nie.  

Dié briewe is Rhynie Greeff s’n, wat van 2005 af een keer per maand naas die strakke dissertasies van marktendense, -grafieke en -statistieke met hul gedistingeerde humor op Media24 se sakeblaaie vonkel. Hy skryf, op ’n geïnspireerde uitnodiging, ’n “Brief uit Brittanje”, sy aangenome land.

Amper vanselfsprekend is nou van punt A tot punt B beweeg met Zebra Press se netjiese bundeling van ’n keur uit die wêreldwyse Greeff se prikkelende rubrieke. ’n Derde van die teks, 17 essays, aanskou die eerste keer die lig. Van die nuwes is ongelukkig om die verkeerde redes herkenbaar.  

Greeff tipeer sy skrywes self as “’n lag met ’n les”. Uit ’n reuse-verskeidenheid glimlag-stories (soms uit deernis, soms sardonies, soms wrang) put hy oorwegend vindingryke toepassings of “lesse”, veral aan die adres van allerlei vernames, verwaandes, wysneusiges en opgeblasenes. 

Nie die minste nie onder diegene wat, subtiel of minder subtiel, onder skoot kom, is burokrate (alle burokrate), missionêre planeetredders en politici (onder andere “Boredom” Brown), wat hy, dankbaar, as “onbaatsugtige teikens” vermeld. Hy het onder andere ook sy mes in vir Suid-Afrikaners wat hulle soos ghwarre gedra in die land waar Suid-Afrikaanse aksente deesdae so “alledaags is soos warm bier”.

Greeff se “briewe” is toonbeelde van grondige en gemaklike beheersing van soms ingewikkelde materiaal – of die skrywer dit nou oor Mickey Mouse of die Apple-rekenaar het. Sy “baie beknopte geskiedenis van die wêreld se negende grootste eiland” is meesleurend. Maar deeglike huiswerk is ’n Greeff-handelsmerk.    

In “vurke op die pad na goeie maniere en etiket”, met hom in sy boerse kakieklere op ’n deftige fisantejag, steek hy kostelik draak met sy stywebolip-gashere in hul deftige tweeds en, les bes, met homself. Dis flair! Vir ewe verfrissende selfspot, blaai gerus na die satiriese selfportret op die agterplat.     

Sy ongedwonge humor vind neerslag in ’n verskeidenheid skerpe spitsvondighede en vernuftige woordskeppings.

Hy konstateer onder meer:

*  “Die magtigste krag in die heelal is skindernuus.”
*  “Daar is drie maniere waarop ’n man van Suid-Afrika hier in Engeland jou bates kan verloor: dobbelary, sedelose vroue en geregistreerde posstukke aan familie in Suid-Afrika.”
* “Die wêreld se handigste tegnologiese triomf (is) die geperforeerde toilretrol.”

Greeff skryf van “bliktsotsi’s”, “baksteenblondines”, “bosveldsjerrie”, “gapsgriep”, “voëlverskrikkerpolisie”, “verkleurmannetjiebemarking” en wat nog. Die versoeking was om ’n soort Greeff-woordeskatgids saam te stel. Om betekenisse te verklap, sou egter die leesplesier veryl. 

Ja, Rhynie Greeff is kreatief en entoesiasties; niemand kan stry nie. As “onverklaarbare” verwerwer van ’n doktorsgraad in die ekonomie, diplomaat, sportbestuurder, romanskrywer, liedjieskrywer, agtergrondsanger en amateur-kulkunstenaar het hy sy vele talente openbaar. In Briewe waag hy sy hand aan spotprentjies. Ek hoop hy sal my vergewe as ek sy tekenwerk as bra wisselvallig takseer.

Mag ek ook bely dat die “boks” self nie dieselfde waardering as die inhoud uitlok nie? Al die saamgeflanste simbooltjies en dinge op die besige omslag wek darem alteveel die indruk van ’n eksperimentele vergryping aan die tegniek van sny en plak (“copy and paste”). Omtrent net die posduif ontbreek!  

Die boek heet Briewe uit Brittanje. Maar Greeff sprei sy vlerke na Amerika, Dubai, Switserland, St Helena, selfs Frankryk. ’n Mens wonder heimlik wat die patriotiese Franse van hierdie joernalistieke “imperialisme” sal dink! 

Die voorwoord, nogal verrassend prominent op die omslag geplakketteer, is deur sy dogter Karen Zoid. Op haar “trotse verwondering” sou ’n mens, as jy wou, ietwat sinies kon reageer, veral in die lig van ruimskootse wederkerige komplimente later. 

Maar nee, dit sou moedswillig wees. Trouens, ná die lees van Zoid se “dis-my-pa-daai-bydrae” voel jy as resensent so ietwat voorgespring met oulike en slim dinge wat jy self kon/wou sê.

Selfs oor die nogal geldige vraag hoekom die wye spektrum van vaderlike pêrels dan juis in ’n sake-omgewing tereg kom – ek meen, ’n mooi tennismeisie se kort rokkie het dalk meer met inflasie (of deflasie) te doen as haar lelike gille op Wimbledon! – het dié sangeres ’n pittige insig met ’n filosofiese sousie.

Zoid meen: om te kan lag vir onsself is ’n “belangrike komponent in die entrepreneursgees van die postmoderne era”. Hoe’s daai!

Ek glo Zoid dat haar pa onwaarskynlike lesers soos “kunstenaars en musikante” na die sakeblaaie lok. Ook pensioentrekkers, kan ek uit persoonlike ervaring byvoeg. En normaalweg is ons ’n spesie wat maar sku is vir nuus wat ons geleidelike verarming gedurig onder die neus vryf.

Omdat ek dit glo (en weet), het ek hoop dat hierdie bundel verder sal bydra tot herontdekking van die genot aan kommunikasie per brief, ’n uitermate verwaarloosde kuns.