Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices > Afrikaans

Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2009 se wenners aangekondig


2010-03-18

Sanlam loop al vir jare ’n kreatiewe en opwindende pad saam met Tafelberg-Uitgewers. Uit dié unieke verhouding spruit daar elke twee jaar nuwe jeugboeke in Afrikaans, Engels en Afrikatale: die wenboeke in die twee-jaarlikse Sanlam-prys vir Jeuglektuur. Die wenners vir 2009 is op 17 Maart 2010 by ’n spoggeleentheid by die Officers’ Club in Century City aangekondig.

Die tema vir die wenverhale sowel as die aand was humor en met komediant Marc Lottering as seremoniemeester was daar geen tekort aan uiteenlopende vertellings wat jou laat hard lag of net glimlag nie. Hierdie is die dertiende Sanlam-prys vir Jeuglektuur sedert dit aanvanklik vanaf 1980 ’n drie-jaarlikse instelling was en later elke twee jaar plaasgevind het.

Daar is vanjaar twee goue en drie silwer pryse toegeken. Die beoordelaars in die Engels- en Ngunitale-kategorieë was veral beïndruk met die hoë standaard van inskrywings in hierdie kategorieë. Die gouemedalje-wenner vir 2009 in die kategorie Nguni-tale is die Johannesburgse skrywer en uitgewer Dumisani Sibiya, vir sy verhaal Ngiyolibala Ngife (IsiZulu). Die keurder prof. Bheki Ntuli het aanbeveel dat dié verhaal die hoogste Sanlam-prys ontvang. Dit  is die derde keer dat Dumisani Sibiya met ’n Sanlam-prys bekroon word.

In die kategorie vir Engels wen die debuutskrywer Adeline Radloff ’n goue prys vir haar verhaal, Sidekick, deur die beoordelaars beskryf as “’n uitstekend-beplande avontuurverhaal, geskryf met ’n sekuur hand en ’n goeie begrip vir dialoog , met ’n skerp sin vir ironie sodat die verhaal in heel donker humor vertel word”.

Die silwer wenner in die kategorie vir Engels is Alex Smith vir haar verhaal Agency Blue, wat deur die beoordelaars beskryf is as “’n anderse en gesofistikeerde verhaal met ’n knap aanvoeling vir die magies-realistiese”. Sowel Adeline Radloff as Alex Smith woon in Kaapstad.

In die Afrikaanse kategorie is daar slegs een prys toegeken. Die Pretorianer Derick van der Walt, wat in 2007 gedebuteer het met Lien se lankstaanskoene, word weer bekroon – dié keer met ’n silwer prys – vir Willem Poprok. Die beoordelaars was beïndruk deur die vloeiende storie-ontwikkeling, fyn karakterbeelding en die verrassende wendinge wat die leser se aandag deurentyd boei.   “Dit is ’n opwindende en sterk pluspunt dat die verhaal ook ’n onderlinge tema (sonder enige opdringerigheid) dra van diversiteit tussen gender, rasse en tussen generasies”, het hulle gesê.

 In die afdeling vir Sotho-tale kry Mabonchi Motimele Goodwill ’n silwer prys vir sy verhaal, Ke a hwa, ke a ikepela. Dié verhaal, in Sepedi geskryf, is ’n debuut van hierdie skrywer van Limpopo, en dis die eerste keer dat die Sanlam-pryse ’n wenner in Sepedi oplewer.  Al dié wenboeke sal in Oktober 2010 op die boekwinkelrakke wees.

Dis met trots dat Sanlam en Tafelberg kan getuig van die goeie reaksie wat uit die kompetisie groei. Heelwat van die wenboeke van die afgelope dertien jaar se kompetisies is al bekroon met ander toekennings, onder meer die MER-prys vir jeuglektuur, die Scheepers-prys, ATKV-pryse (wat deur jongmense self toegeken word), die CP Hoogenhout-toekenning en ook M-Net-pryse. Van die boeke is ook al internasionaal uitgegee. Sanlam se ontwikkeling van lesers en skrywers deur hierdie kompetisie maak die literatuurlandskap vir jonger lesers aansienlik ryker.

In haar toespraak het Eloise Wessels, hoof uitvoerende beampte van NB-Uitgewers (waarvan Tafelberg ’n druknaam is) die tema vir die 2011 Sanlam-prys vir Jeuglektuur aangekondig. Die organiseerders soek dié keer ‘n verhaal waarin hoop ’n rol speel. Die sluitingsdatum vir die volgende kompetisie is 30 Junie 2011.