Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Sy vel was donker, sy broers s’n lig


Jason Lloyd - 2010-03-18

Die droewige verhaal van Sandra Laing, wie se biologiese ouers albei wit was, wat ingevolge apartheidswetgewing as “Kleurling” geherklassifiseer was omdat sy ’n “donker vel” en “kroes hare” het, behoort ons – miskien baie pynlik? – op ons kleurrykheid as nasie te wys.

Nogtans is dit ’n verhaal wat diep tot op die been sny; dreig om die been te deurboor en sodoende die murg en senuwees te vernietig. So ’n ervaring intimideer om die menslike karakter te vernietig, maar danksy Laing se standvastige Christelike geloof, soos sy genoem het, het sy baie later in haar lewe besef: die menswaardigheid van ’n mens lê opgesluit in die besef dat alle mense gelyk is en dus geskape is na die beeld van God.

Tans deel sy dié verhaal met Suid-Afrika en die wêreld in die vorm van ’n fliek, Skin van Anthony Fabian, wat tans in rolprentteaters draai. En ook in die boek When she was white (2004) deur Judith Stone.

Laing se storie was slegs een van die episodes in ’n onverbiddelike tragedie waarvan die slottoneel in veral die apartheidsjare geen einde geken het nie. Die verhaal van Laing, in sy soort, is egter nie die enigste nie.

Dit is die jaar 1956. Die nou ontslape digter DJ Opperman skryf. (Dit was ook in 1956 toe bruines deur die NP van die verkiesingslys verwyder is. As ’n mens die konteks van die politiek en die onderliggende nuanses daarvan lees en verstaan, het daar beslis iets met die politieke psige van Opperman, die Broederbonder, gebeur: ’n paradigmaskuif. Die biograaf John Kannemeyer sê aan my Opperman was ontnugter met die politieke situasie van die begin 1950’s. Dit egter daar gelaat.)

“Maar waarom … waarom so ‘n daad verrig?”
“Sy vel was donker, sy broers s’n lig."

Kiek waar vier kinders vroeg opstaan,
Drie na wit en hy na bruin skool gaan.

Opperman het die gedig geskryf na aanleiding van ’n berig in 1946 in Die Burger. Die bruin Alwyn Joseph William Repnaar het op die aand van 2 September 1946 selfmoord gepleeg. As ’n bruin seun met ’n donker vel moes hy ’n bruin skool bywoon, terwyl sy broers met die ligte vel ’n wit skool kon bywoon.

Sy bruinheid het hom ’n uitgeworpene gemaak in veral ’n wit omgewing. Hy het geknak en sy lewe beëindig.

In die eerste helfte van die vorige eeu in die distrik Graaff-Reinet het ’n soortgelyke voorval gebeur. ’n Wit plaasboer se vrou het tweelingseuns gebaar: die een wit, die ander een bruin. Toe wil die boer sy vrou skiet; die bruine was volgens hom die “outa” s’n.

En die wit man wat sy stamboom nagevors het, het amper ’n hartaanval gekry toe hy ontdek het sy voorouers is van Khoi-afkoms. Hy het die museum ontsteld verlaat en nooit weer teruggekeer nie.

Laing se “pynlike” verhaal wys ons daarop dat ons in ons verskeidenheid een is, familie van mekaar is. En produkte is van, soos wetenskaplikes sê, “a genetic throwback from previous generations”.