Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Films, feeste en finansies


Albert Maritz - 2010-03-18

You have reached the pinnacle of success as soon as you become uninterested in money, compliments, or publicity. – Dr OA Battista

In Afrikaanse teater kom die privaat vervaardiger (non-Baxter, Artscape ens) klaar met die minimum. Groot stelle eet maklik ’n reuse-hap uit ’n totale begrotinkie, omdat “privaat” produksies klaarkom met maklik 33 persent van die begroting wat ’n ooreenstemmende produksie by die groot instellings sal hê.

Wat betref TV- en filmproduksies, is die Afrikaanse begroting nog lagwekkender.

Alice in Wonderland is, soos die meeste Amerikaanse produksies, ’n multi-multimiljoen-rand-projek. En gedurende die eerste minute van die beeldskone film het die begeerte by my opgekom om ’n Afrikaanse produksie te sien waar die vermaaklikheidswaarde ooreenstem met wat privaat teatervervaardigers gereeld op die verhoog aanbied: iets waar die vergrootglas val op die speler en sy storie.

Ek het nogal probeer uitwerk hoe die Amerikaners uitkom by hierdie ongelooflike karakterstudies waarmee hul animasie-diertjies geseën word. En of hulle akteurs so goed soos Afrikaanse spelers is wat ons in ons eie TV- en filmbedryf aangetref het oor die jare. Die Amerikaners het nou eenmaal karakterstudies onder die knie gekry, en toe animasie, en nou 3D, en wanneer eindig die beeldjies nie net hier vlak voor jou 3D-bril nie, maar sien ons dalk eendag films met behulp van ’n klein chip wat met jou brein gesels, en die beelde in die oog inbring?

Ek meen, hardloop Usain Bolt nie al die 100 m in onder 9 sekondes nie?

*

kykNET is tans aan die verfilm aan ’n reeks, Vallei van die Sluiers, en ek het daar die voorreg om in ’n toneel te speel teenoor André Rossouw. André is een van die begaafde mense wat my in 1996 geïnspireer het om te begin opnames maak vir die reeks wat onlangs op kykNET was onder die naam Impresario. En alhoewel die verdwyning van die streeksrade die publiek ontneem het van die voorreg om mense soos André se talent in toneelproduksies te smaak, was hy ’n gereelde besoeker aan ons sitkamers via ons TV-skerms. In ’n stadium moes André die akteur gewees het wat die meeste op TV was van almal.

Maar hy was nog nie ’n soap-speler nie. Dus is André steeds onbekend. Hier kry ek die geleentheid om teenoor hom te speel, en toe besef ek hoe nietig ’n mens is. Want in enkele sekondes smeer hy my neus in die sand, verwar my, verras my, skud my – kortom verruk hy my – met sy genialiteit, sy professionaliteit, sy graad van voorbereiding, die kreatiwiteit en oorgawe waarmee hy ’n karakter aanpak – en sy charisma, of wat die oumense genoem het "presence".

André is nie vandag se kind nie, en kon al eeue afgetree gesit het op ’n eiland. Maar hy het altyd ’n onderwyser gebly, en werk daaromheen ingepas. En dit so verkies. En om ’n man van daai ouderdom te beleef in die werksproses, is ’n belewenis. André is ’n rêrige akteur – soos die Lida Bothas, Paul Eilerse, en talle ander met wie ek die voorreg gesmaak het om oor die jare te make te hê. Dis die mense met wie ek Amerikaanse sterre so gunstig vergelyk – let wel – nie andersom nie.

*

SPIER is in die Kaap besig met baie interessante, amper geheime projekte. In die Kaap is ’n pragtige ou gebou wat op ’n manier deur SPIER betrek is. In die gebou gebeur al hoe meer dinge.

Regte Italianers het regte Afrika-mense kom leer om met regte teëls, wat op die regte manier gebreek word, en met die mees ongelooflike, verruklike, esteties meevoerende ontwerpe, mosaïek te doen. Dit gebeur in die gebou.

’n Filmmaker werk in die gebou met die e-pos-adres iets soos ekmaakfilms@spier.skiet.baie. ’n Teater-entrepreneur ook. Dis van hier waar Mike van Graan sy projekte bestuur. Die projekte is altyd baie waardevol. Hy self was al hoeveel maal met sy eie stukke oorsee.

In die gebou word een of ander kunsversameling gestoor, en wie weet wat nog. Maar is dit nie interessant dat die Wynland Internasionale Filmfees, wat twee jaar gelede by die Oude Libertas geopen en gedeeltelik aangebied is, nou by SPIER open nie?! Verlede jaar was dit by die Labia. Labia se teaters is egter steeds betrokke. Hou dop 17–27 Maart 2010. Benewens Master Harold … and the Boys (die vervaardiger vir die internasionale mark, Zaheer Goodman-Bhyat, is die SPIER-man) is daar talle ander verrassings. ’n Kortfilm, van die einste Zaheer, met die naam Greener Grass is ook te sien. Afrikaans word verteenwoordig deur die dokumentêr oor die Jeanne Goosen-gebaseerde musiekteaterstuk Elders aan diens.

*

Wel, met die streeksrade vir teater "gone", is ek nie oortuig dat ons weer suiwer streeksrade nodig het nie. Als in die streeksraad-bestel was ook nie pluis nie. Maar daar was ’n tyd toe Van Wyk Louw 120 000 digbundels aan Afrikaanse mense kon verkoop, toe DJ Opperman as Huisgenoot-redakteur Louw se gedigte volblad gepubliseer het, met ander woorde toe die gedrukte media omtrent so magtig was soos die soaps nou is.

Die feeste speel ’n reuse-rol om die werksgeleenthede wat die streeksrade gebied het, te vervang. ’n Eenvoudige debat hieroor sal gesond wees, maar die feeste verrig dalk selfs meer as die rade van daai tyd. Van dieselfde siektes van daai tyd leef voort, nuwes siektes het ontstaan, maar die omvang van werk wat die feeste genereer, is nie te versmaai nie.

Een van die stukke wat ek nog die spytste was om te mis by KKNK, was ’n eksperimentele produksie, Hopie lê. Dis ingevoer van die Lae Lande af. (Ons het mos altyd gesê ’n Hollandse stuk, nes Jan van Riebeeck ’n Hollander was. Ek dwaal gou graag af. Eenkeer – toe Koos Kombuis en Jakkie Louw by Velddrif se Riviera Hotel opgetree het vir my en ’n paar immergroen vriende/vennote in ons maatskappy Impresario! – was Kiewiet, die hotel se bestuurder, verskriklik geïrriteer deur die “Hollangers”. Bev, deesdae Joho-produksies se ystervrou, was deel van Impresario, en kon nie verstaan watter nasionaliteit die “Hollangers” is nie. Tot sy later aflei ’n vrou van Sunday Times wou graag die show kom dek, en wou ’n kruiwavol gratis kaartjies hê.) 

(Ek dwaal verder af. As ek praat van "show", voel ek goed. As ek praat van "optrede", ook oukei. As ek mense hoor praat van "vertoning", ruik ek ’n rot. As dit ’n fliek is, is “vertoning” perfek. Maar my brein stop my altyd en vra: Hoe “vertoon” jy ’n persoon wat daar voor jou staan en sing, of toneelspeel, as dit nie ’n fliek is nie?! Dit kan ’n mens natuurlik maklik na nóg ’n woord, “kunstenaar”, toe neem, maar kom ons vermy vir eers daai slaggat. Of kom ons vra net: Wat is ’n kunstenaar? en laat dit daar.)

Ieder geval, Hopie lê het plaasgevind oor ’n paar areas heen, in verskillende vertrekke, en daar was vuur en allerhande baie ongewone dinge op die reisende verhoog. En ek kon die werk nie sien nie. Ai. Jare later is ek steeds spyt.

Maar dan het húlle weer nie óns Agterstevoor gesien nie. Karen Meiring het my gevra om ’n projek te doen, met dieselfde groep akteurs (Engels: cast; Afrikaans: rolverdeling) – so,  met dieselfde "cast" wat in twee verskillende stukke tegelyk speel, en boonop na twee verskillende gehore toe. Dit was regtig seker die senutergendste projek wat ek nog ooit moes doen, weens die graad van onmoontlikheid daarvan.

Helaas, toe dit die eerste keer vir ’n gehoor speel in die sinkgebou op KKNK, breek die lugreëlaars, en ek twyfel steeds wie van die akteurs of die gehoor die natste gesweet was. Pouse het Koos Marais die klere buite voor die einste nou-aangeskakelde aircons drooggeblaas. En na pouse het die stukke weer gespeel, maar dié keer het die gehore omgeruil, sodat elke gehoor die ánder stuk ook sien.

Die dapper spelers was Floyed de Vaal, Jeroen Kranenburg, Petro van den Heever, George Ballot, Yolande Rabé, my pikkie - Viljé Maritz, Martelize Kolver, en Stephan Terblanche; die verhoogpersoneel was Koos, Dolfie en Inge. 

Jare later kom sê ’n ou vir my daai veragtelike warm ervaring was sy beste teaterervaring nóg. Ander feeste het nie in die stuk belanggestel nie. Ek onthou die bebliksemde gesig van die een feesdame, nog voor die stuk begin het. Sy het nie ná pouse teruggekeer nie. Lees meer in my boek: Hulle het ons doodgemaak!

*

KKNK lê weer om die draai, en ons het weer die voorreg om by ’n KKNK/Innibos-ko-produksie betrokke te wees. Taraboemdery slaan in ’n natuurlike omgewing stel op, en speel in die buitelug – nes die Hollangers al ’n paar keer gedoen het. En oor minder as ’n maand is die produksie oor en verby.

’n Stryd is deur ’n regsfirma aan die gang met die Nasionale Kunsteraad omdat hulle, deur foute van hulle eie, ’n aansoek om befondsing van Taraboemdery afgekeur het. Slaag dit, bestaan daar nog ’n kans dat mens die stuk later weer kan sien speel. Kom die NAC weg met hierdie jammer insident, is dit die laaste sien.

Dan is die opsie darem oor om met klein showtjies soos ons kabaret Housecoat Blues die wêreld vol te speel.

It takes twenty years to become an overnight success. – Eddie Cantor